stock4
Eie stories

Ria Erasmus van Springs, skryf:

Liefste oubaas Wallie,

Gelukkig weet ek en jy van wie ek hier praat. Ander ken jou as Rassie of Albert, maar vir my is jy my eie oubaas Wallie … my man. Man? Wat vir ’n ding is dit? Vir my is jy die verpersoonliking van mán. Minnaar anker, naaste.

Minnaar, want ná 34 jaar leer jy my steeds van emosies. Wanneer ons saam in die veilige atmosfeer van ons slaapkamer is, word my siel, wat lankal nie meer in ’n jongmeisielyf is nie, na hoogtes gevoer omdat jy my en my alleen bemin asof ek die mooiste vrou op aarde is. Steeds weet jy hoe om my te bedwelm met een van jou spesiale soene. Steeds ken jy die kuns om my te laat swymel. Wanneer jy soms weg is, is daar ’n koue holte binne my wat eers verdwyn met jou aanraking met ons weersiens.

Jy is my anker van die dag af wat ons ge-“I do” het. As die lewe my ’n dwarsklap gegee het, kon ek dit maar nog altyd op jou uithaal. By jou kla, kerm, afpak, wraak sweer én by jou stilte verkry ná die storm uitgewoed het. Die grootste storm waarin ons bootjie beland het, was toe Bertman so voortydig van ons af weggeneem is. Jy het net geweet wanneer om te luister, saam te praat of my net vas te hou sodat ek my groot hartseer teen jou bors kon laat uitloop.

Hoe onthou ek nie die harde bors van jou polisiemanlyf in ons jong dae nie? Hoe jy my styf teen jou bors kon vasdruk as jy van die grens af gekom het. Dankie tog dat met die sagword van jou lyf, het jou siel ook sag geword. Sag … sodat ek nou soms net gemaklik en styf teen jou kan sit en weet niks kan my van my anker losruk nie. Sag … wat my vrouwees probeer verstaan. Sag … wat ons kleinkinders met die grootste teerheid kan vashou.

Daar is niemand in hierdie wêreld wat nader aan my is as jy nie. Dankie dat ek in die winter styf teen jou kan kom lê en my koue voete onder jou indruk om warm te word. Dankie dat jy stil lê en uithou totdat jou liggaam die ysigheid uit my lendene getrek het.

Jy is my naaste wat my liefhet soos homself en vir wie ek liefhet soos myself. Wat my lief genoeg het om my vryheid te gee om myself te ontdek, wat my ondersteun in elke nuwe ding wat ek aanpak, wat my genoeg vertrou met nuwe horisonne wat ek vir ons ondersoek. ’n Liefde wat deur die jare so geil gegroei het soos wat die koring in jou geboorteplek doen ná ’n goeie reënseisoen. ’n Liefde wat, net soos die koring, nie vernietig word deur die aanslae van die lewe nie, maar wat sy sade mildelik in die wind strooi om die volgende seisoen net weer op ander plekke kop uitsteek. Geil, vrugbaar, vol in die aar en pure goud.

Daar is elke keer ’n opwinding in my binneste as ons in ’n groot vertrek vol mense is en ons oë ontmoet. Ek hou jou partykeer stilletjies dop, in afwagting vir wanneer jy my begin soek. Jou oë begin so oor die vertrek dwaal tot jy my kry. Jou oë is ná al die jare nog net so helder wanneer jy my raaksien, soos destyds op die lughawe wanneer jy van die grens af huis toe gekom het en my tussen die baie mense moes soek. Steeds vloei daar ’n warmte deur my as ek dit raaksien. Soms deel ons ’n grappie, so op ons eie, oor die afstand van ’n vertrek en sonder om ’n woord te sê. Soms stuur ons ’n kort oog-sms om te sê “ek is lief vir jou”. Daardie tye is vir my baie spesiaal.

Daar word gesê die grootste geskenk wat ’n pa vir sy kinders kan gee, is om vir hul ma lief te wees. Ons kinders is duidelik tot die afgrond bederf. Bertman en die twee meisiekinders kon in hul tienerstadium tog so “embarrassed” raak as pa vir ma so voor hulle druk, maar ek het in hul oë die lekkerkry gelees.

Dankie, my liefsteling, dat hulle kon sê hulle is die uitsondering tussen hul maats omdat hul ouers gelukkig getroud is. Dankie dat jy gehelp het om hierdie spesiale liefde tussen ons met die jare op te bou. Dankie vir jou aandeel daarin dat ’n wildvreemde man, tydens ons onlangse vakansie vir ons gesê het hy smag daarna om dit in sy huwelik te hê wat so duidelik sigbaar in ons s’n is.

Dankie dat jy mý man is.