Eie stories

Ria Smit van Stellenbosch, skryf:

My Lief

As ek lewe in my pen se ink kon blaas, sou ’n vlamrooi voël stadig daaruit fladder tot op die spierwit papier. Sy sou haar amber vlerke oor die skoonwit bladsy sprei soos ’n waaier en skaam met haar kobaltblou-en-groen oë na die wêreld loer, terwyl sy stadig en gemaklik asemhaal met haar pruimpers, ronde bors wat geluidloos op en af beweeg. ’n Warm hart klop daar binne. Sterk. Aanhoudend.

 So klop my hart vir jou, my lief, soos ’n helderkleurige, wilde, vrye dier. Trots, geheimsinnig, innig gelukkig.

Jou hart klop ook, en ek hoop dit klop net vir my. Vir nou, vir môre, vir altyd. Dit klop warm onder my vingers as ek aan jou raak en jy geniet elke oomblik van aanraking, amper net soos die blinkvet swart bondel-kat wat jy met soveel liefde vir my oor ’n Kersseisoen gaan haal het.  Ek raak graag aan jou, al is dit nie in my natuur nie. ’n Dag sonder aanraking voel lank, koud, uitgerek, dreigend.

As daar spasie tussen ons is, raak ek aan jou met my oë wat liggies die lyn van jou oor, nek en skouer volg, af tot by jou borskas, jou voorarms, jou hande. Dan kan ek my die elektrisiteit voorstel wat tussen ons beweeg vanaf die heel eerste keer wat ons raak-naby mekaar was. Ek vang hierdie herinnering soos ’n helder insek en bottel dit in ’n glas-seepbel saam met al my breekbare dagdrome en steek dit diep in my hart in ’n geheime fluweelkis weg.

Jy skryf dat dit maklik is om vir my lief te wees en gee vir my ’n enorme muurhorlosie met skitterswart ure en arms wat geluidloos beweeg – toegedraai in silwer papier en seesout. Ons plant saam die battery in sy hart en dit lewe skielik, sekonde vir sekonde. Ons liefde is jonk en elke liewe sekonde saam met jou wil ek vasskryf, vasmaak, vasdroom, in my wese inbrand om dit nooit te vergeet nie.

Jy is man – manlik, beskermend, presies en begeerster met ’n stil energie wat my terselfdertyd troos, vertroetel, opgewonde maak, rustig maak. Jou hande is sag en jou aanraking warm, eerlik en lieflik, lyflik, lewendig.

Ek trek my rooi rok aan op Valentynsdag en ons dans in ’n natuurreservaat in ’n klipgebou, nie ver van die sandduine wat na slangbossie ruik nie. Die musiek is hard en die mense lag, maar al wat ek voel is jou warmte teen my. En dis of dit stil word as ek opkyk in jou blouste blou oë, want ek wil niemand anders hê nie, net vir jou.

Met jou hoef mens nie te vra nie. Alles wat ek in my diep vroue-hart begeer, bring jy vir my in klein geskenkies asof ek dit verdien. En ek is stilweg verslae en bang dat jy my dalk eendag nie meer gaan nodig hê nie.  Ek leer jou steeds ken, elke dag iets nuuts, en net soos Margaret Atwood (Variations On The Word ‘Sleep’) wens ek stilweg vir ’n ewigheid van oomblikke saam met jou, by jou, teen jou: “I would like to be the air that inhabits you for a moment only. I would like to be that unnoticed and that necessary …”

As ek die dag wankel en as my voete sleep, hou ek my binneste rustig deur na jou te luister as jy sê jy het my lief. Dan vou jou stem om my soos ’n sagte, donsige kombers op ’n nat reën-aand in ‘n Stellenbosch-winter. 

Jy is my dierbare man, my saghart-man, my verstaan-man, my vat-my-net-soos-ek-is-man, my niks-is-’n-probleem man. Ek is lief vir jou en jou naam pronk op my papawerrooi hart.  Ek is joune, jy kan elke deeltjie van my kry. 

In my drome bly vlieg my liefde in ’n vlamrooi voël met ’n pruimpers bors. En my hart klop net vir jou.

Jou liefding