Eie stories

Riana Ehlers van Meyersdal, skryf:

My liefste Mollie

Vandat jy weg is, volg jou menswees my soos ou Tjaka. My hoor, ruik, proe en voel is oorlaai met herinneringe aan jou. Snags hoor ek jou snork; soggens vroeg ruik ek jou “was en aantrek” en jou vroegoggend koppie koffie. Jou growwe wakkermaak-hande op die laken laat my regop sit en dan is daar jou stem met sonsopkoms: “Julle slaap die mooi van die dag verby, kom ons gaan groet die mooi.” Ek sien myself sleepvoet agterna tou, my verkyker-oë “ingezoom” om iets van die mooi te sien. En ek hoor my dralende oggendstem wat die malle uur van die dag half-wakker aankondig.

Dis alles jy, die hele huis is vol jy, die allerdaagse is vol jy, en tog is alles leeg en sonder jou. Ons het nooit oor dié skuifspelddraaie gedroom nie. Ek onthou jongdae-drome van palmbome en uitgestrekte turkoois oseane, toe was dit ek en jy. Nou is my oopgesig kakiehoed-man ’n witbedoekte wat vroegoggend voor ’n tent oor die sandduine sit en staar, terwyl versluierdes oor ’n koppie Arabiese koffie na jou loer. Jy, wat hou van eiegoed, eie mense. Jy, oom Oubaas van 7de Laan se bondgenoot as dit kom by die volksvreemde, slaap nou man-alleen op ’n matjie in die woestyn.

Dis die donker wat dit aan ’n mens doen, die alleen-wees. Mý gedagtes is pure woestyn; sanderig en uitgedor, want hoe maak ’n woord-mens, soos ek, my hart leeg op ’n skerm aan jou.

Fênsie woorde praat nie met ’n doen-mens nie. En die Arabiese woestyn is nie die plek vir die dóén-ding nie. Hoe e-pos ’n mens mosbeskuit en boeretroos, ’n netjies gestrykte broek met nate of die “red carpet treatment”? Hoe verpak ’n mens Sondag- broodpoeding of gebakte skaapboud met bruin aartappels? Hoe vertel ek jou met my “fênsie woorde en oopgeit” hoe ek jou mis sonder dat daai Noord-Kaap klank van: “julle mense wat julle harte so laat oopstaan soos ’n waenhuisdeur, dis vir kom seerkry,” teen die sandduine vasslaan? Hoe maak ek my volgestopte hart leeg in doodgewone boeresinne? Hoe kan ek skryf oor kinders, skoolfonds en Eskom-rekeninge as passie en liefde soos ’n Hoëveldse donderstorm in my lê en broei? Wie dink aan rand en sent as die geel bank voor die TV roep vir bakkie-lê, jou tuinbank roep vir láát gesels en die seilstoele op die agterstoep verlate staan?

Ek hoor skielik jou hardop, klein-oog lag (Richard Gere se voet) toe die streep seilstoel met ons albei op die stoep neerslat. Ek voel weer jou songebrande lyf en ek voel jou hart vinnig klop … (Die kinders sal wonder watter tiener-stuiptrekkings kry ek nou, maar die giggel wil nie stop nie.)

Dit maak die groot, naby-die-hart-onthou los. Ons Valentynspiekniek by Keurbooms. (Dis nie wat jy dit genoem het nie, maar wat gee ek om?) Dit was die lekkerste, mooiste, pienkste, aweregste aand ooit. Dis oor daai aweregs in jou wat my hart so aan die brand bly. Net soos ek dink: dis presies hoe jou kop werk, is dit presies nie hoe dit werk nie. Februarie sal altyd pienk bly vir my en dis hoekom elke skakering van pienk ’n mengsel van herinneringe en verlange in my loswoel. Deesdae lyk die wêreld pienk; sonsopkoms tot sonsondergang is pienk. Dink jy dis die verlang? En, jy hou nie eers van pienk nie!

Ja, sê maar, vanaand is my hart so oop soos Waenhuiskrans se grot. Loop maak jy maar jou skaamkry toe met daai wit doekgedoente. Die dae van donker slaapkamerliefde is toeka verby. “Queen Victoria” is lankal dood. Duisend-en-een Arabiese nagte kan vir my werk, sagte blink symateriaal met baie klingelende muntstukkies wat jou kop sal laat draai. Warm hande om my nie meer so dun middellyf, maar dis hoe jy daarvan hou.

Ek proe jou warm soene, ek voel die dikgestopte, sagte kussings en ek hoor die woestynwind ruk-ruk aan die tentflappe. Dis net ons twee … onder die palmbome. Jy bly my liefste ding van duisend soene!
Wou eintlik net laat weet my vlug land Saterdagoggend vyfuur in Doebai.

Liefde!

Molla