Eie stories

Riana Wentzel van L’Agulhas, skryf:

My Lief

Ek deel met jou ’n blik op ons liefde wat oor die jare nie net meer ’n woord is nie, maar ’n lewe, vol lag en trane, sterre en reën, maar steeds groei en al mooier en sterker ons lewensaar is.

Die woordjie liefde spel vir my “lewensmaat”, want sonder ’n besondere maat is die liefde leeg en betekenisloos. Jy, my Lief, het hierdie woordjie lewe gegee, wat groei, voed en versorg.  Jy, my Lief, het my bestaan met hierdie woordjie ingekleur en elke alleenhoekie gevul met warm omgee en dáár wees. 

Verliefdheid het opgeskuif en plek gemaak vir ware liefde waarmee ons mekaar toevou, onvoorwaardelik aanvaar en liefkoos as deel van ons bestaansasem. Ná al die jare se onvolmaakte saamwees het vergifnis saggies tussen ons kom lê, en ons meer volwasse visie vanaf die verlede verskuif na die hede en die toekoms waarin die liefde in al sy glorie seëvier. Ons persoonlikhede het oor twintig kosbare jare knus inmekaar geweef tot ’n liefdeskombers van ware liefde … warm en deugsaam. So het ook ons lywe plek gemaak vir sagte realiteite wat die jare bring en deel vorm van ware liefde sonder voorwaarde. 

Die ek en jy het “ons” geraak in elke faset van ons saamwees, maar steeds kan ons opgewonde raak oor mekaar en die een met ’n vonkel in die oog van die ander een praat.

My grootste begeerte was nog altyd om geliefd te wees en om kinders uit die vrug van ware liefde voort te bring. My drome is met jóú bewaarheid. Om jul liefde elke dag te ontvang en om julle met my liefde te omarm is vir my die grootste seën waarvoor ek ooit kon vra.

Die liefde is ’n baie waardevolle geskenk wat nie sommer maar net uitgedeel word nie, maar iewers diep binne die hart uitgehaal en as iets kosbaars gedeel word met iemand spesiaals. Juis daarom waardeer ek jou en ons kinders se liefde as die waardevolste skat ooit en koester ek dit met ’n dankbare hart.

Om opregte liefde waarlik te besit is nie om dit in ’n hokkie toe te sluit en so by jou te hou nie, maar juis om dit vryheid te gee. En as dit dan by jou bly, is dit eers waarlik joune. Dankie dat jou liefde waarlik myne is.

My Lief, jou arms omvou my as ek bang voel, jou bors is my rusplek as ek moeg is en jou hart my tuiste as ek alleen voel. Ná ons 20 jaar saam, bly jy steeds die liefde van my lewe.

Ons liefde het oor die jare die voedingsaar van ons gesin geword waaruit geduld, saamwees, verdraagsaamheid, onselfsugtigheid, vergifnis en natuurlik liefde vir mekaar gebore is.

Ons kan alles kortkom, maar as ons die liefde het, is ons skatryk. Eerder as om alles te besit, maar die liefde kom kort. Dís armoede sonder perke. Dankie dat jy my elke dag oorlaai met ware rykdom wat nie in rande gemeet kan word nie.

Deur die jare het ons bootjie nie altyd net in kalm waters gevaar nie. Ons twee was soms maar onervare skippers wat ook maar menslik was en gefouteer het. Maar ons anker was liefde en sonder daardie anker sou ons liefde nie oorleef het nie. Steeds hou daardie selfde anker ons stewig vas en weet ons so seker as wat weer mooi kan wees, kan die storms ook daar wees.

Aan jou, my Lief, wil ek dankie sê dat jy my lewe vol en kosbaar maak, dat jou warmte my teen die koue van die lewe beskerm, en dat ons saam ons bootjie kan stuur.