Eie stories

Riller in die haarsalon

My vriendin sê nou die dag vir my dat my hare ’n sny kort. Ek sê ek weet, ek hou nog ’n rukkie uit, wil lengte kry, dan gaan ek dit laat sny.

In die lig van die ekonomiese krisis, doen ek navorsing oor pryse en gehalte, en hoor van Chris* by ’n Pretoriase haarsalon. Hy’s die beste en vra R300 vir ’n sny en ’n droogblaas. Ek dog so by myself: Ek het 8 maande laas my hare gesny, ek is bereid om daardie geld vir die perfekte sny te betaal.

Maandagoggend stap ek met ’n wip in my stap die salon binne, reg vir die GROOT regruk. En hier verskyn hierdie bitter jong, baie mooi, en erg modieuse Chris.

Ek verduidelik mooi aan hom dat ek hierdie besondere fyn en reguit hare van my glad nie in lae wil sny nie, net een reguit lyn, asseblief, so skouerlengte.

Vertel hy my toe hy gaan eers my hare ontleed. Toe skrik ek al. En, vra hy my, dink ek my hare is krullerig of nie! Toe moes ek af geloop het! Ewenwel, ek sê toe ek weet dis fyn en baie reguit. Jip! sê hy. Ek kry volpunte, my hare is net soos ek gesê het!

So vra hy my of my kopvel gesond is. Ewe bedeesd sê ek ja, dit is. Ondanks my versekering, ondersoek hy dit, en vertel hy my dat my kopvel inderdaad gesond is. Ek weet toe nou nie lekker hoe om te reageer nie, ek het hom mos gesê!

So tussen die kopkrappery, vertel hy my van sy intensiewe opleiding in Parys, en toe raak ek nog banger. Ek sien sommer so van ’n afstand af die outjie het ’n Paryse plan met my hare …

Weer beklemtoon ek dat ek NIE wil hê my hare moet OOIT weer in enige laag of lae sny nie. Dit moet reguit wees, soos ’n liniaal.

Ná sy toespraak en ondersoek sê hy ek kan deurgaan vir ’n was. Ek kyk hom so, lig my vinger en sê: “Chris, listen to me. I am 45 years old, I know my hair. DO NOT CUT LAYERS, DON’T DO IT.”

Ná die was, begin hy my hare agterlangs sny. Ná ’n minuut of 5, begin hy my hare met daai stoomapparaat doen, sonder om ’n sker naby my voorste hare te bring. Toe ek weer sien, is hy klaar gesny. Beteuterd vra ek of hy tog maar my kuif so ’n bietjie sal knip, en ewe traag doen hy dit toe, want ’n kort kuif pas nou nie by wat hy agterlangs gedoen het nie.

Net voor ek betaal, vertel hy my die stoomapparaat is “slegs”  R1 700, die sjampoe en opknapper en een of ander hitte-beskermer is nog R700. Ek is te grys, die kleur is nog ’n verdere klein bedraggie van R958. (Ek is erg trots op die feit dat ek op my ouderdom byna nie grys hare het nie). Ek sit toe daar soos ’n lam ter slagting, bedink ’n plan, besluit om onder geen omstandighede my kredietkaart uit te haal nie, onthou ek het R400 kontant in my beursie, en sê ek toe ewe skaam en verleë ek het net R400, moet nog brood en melk langsaan gaan koop. En dit lyk toe vir my of die Chris wonder wat ’n arm mens soos ek in sy salon soek.

By die huis aangekom, beloer ek my hare met ’n spieël in die spieël, en ek dog ek val flou! Lae op lae geknip, die hele agterkant, kort ook, voorts nog happerig en skeef!

Die laaste strooi was toe my man die aand by die huis kom en vir my sê hy voel vir my bitter jammer, ek lyk vreeslik … 

Die volgende dag vertrek ek douvoordag na sy salon. Ek wag vir hom, want hierdie gemors moet hy sien. Hy vra toe wat my probleem is, en ek sê hy het my hare verdomp in lae gesny ná ek hom uitdruklik gevra het om dit nie te doen nie.

Het hy my te vertelle dat ek niks weet nie, want sy “intense opleiding” in Parys … en toe bly hy stil, want hy sien toe ek gaan hom nou te lyf gaan. Hy sê al wat hy my kan aanbied, is ’n werkwinkel om my nou uiteindelik te leer hoe om, ná 45 jaar, my hare droog te blaas.

En net voordat ek hom met ’n uitklophou bykom, kom daar ’n vroulike haarstilis aanen sê ek moet met haar praat.  Sy vra of ek koffie wil hê. Toe sê ek nee, ek bewe te veel. Toe vra sy of ek dalk whiskey wil hê. Toe lag ek bietjie.

Ek vertel haar dat ek my hare 8 maande gegroei het, wys vir haar hoe lank dit was. En sowaar, Chris beweer ek praat nie die waarheid nie. Sy sê toe as hy wat Chris is, nie my om verskoning kan vra nie, moet hy eerder stilbly. Sy sê my hare is agter baie kort, en dat ek dit weer 8 maande sal moet groei voordat ons ’n lengte het. Sy’s baie jammer en sal poog om die ergste skeef uit te sny. En dan moet ek oor 6 weke terugkom sodat sy die ander ergste skeef ook gratis kan uitsny. Ek het haar voorstel waardeer.

Maar die punt bly egter: Ek sit nou met die gemors agter my kop, met die lang lelle voor. Victoria Beckham se moses. Ek háát daardie soort haarsnit, nou het ek dit x2.

Vontie van Lynnwoodrif

 

  • K Jacobs

    Beste Vontie van Lynnwoodrif, ek het soveel simpatie met jou, ek wens daar was ‘n swartbord vir kommentaar voor elke haarkappersalon in Pretoria, om toekomstige kliente te waarsku teen stiliste van Parys! Sterkte met die uitgroeiery.

  • sassygirl

    Beste Vontie! Ek sit nou net en lees jou berig oor die riller wat jy beleef het! Weet jy, eks n haarkapster en ek het n vrees vir iemand wat aan my hare werk. Lyk my party haarsalonne se mense het net nie ore nie! Ek het geleer om liewer te min as te veel afte sny! Ek hoop nie so iets gebeur weer met jou nie,ek weet hoe dit voel! En ons vrouens is so, ons hare MOET reg wees anders is niks anders reg nie…nie ons grimering nie, nie ons klere wat ons aantrek nie….Sterkte daai kant,hoop van harte jy vind die perfekte haarkapster!