phyllis_315_
Eie stories

Rinie Flaum van Willow Glen, skryf:

My Liefling

Hier waar ek in God se asemrowende natuur saam met jou piekniek hou met ’n uitsig oor ’n rykdom van reënboogkleure van magrietjies, sagblou roosmaryn, laventel en viooltjies, hoor ek jou fluister. Voel ek jou asem teen my wang. Sien ek jou gelaat wat in die doudruppel skyn.

Skielik is daar eggo’s in ’n miljoen tale, engele wat dans en ’n nuwe lewe wat oopbreek alom. Vlinders en sonbesies wat ’n liefdeslied kom sing net vir ons.

Jy neem my in jou arms en ons dans en lag, speel op die wind. Ons harte klop een en my wese skreeu en roep, EK HET JOU LIEF, EK HET JOU LIEF!

Vir ewig wil ek by jou wees, vir ewig –

Totdat die aandblom se kleur verdwyn;

Totdat die engele se soete klanke stil word;

Totdat die feetjies en kabouters nie meer op die paddastoele speel;

Totdat daar geen sterre in die hemelruim oor is om op te wens;

Geen skulpe in die see;

Geen vlinders in die tuin …

Totdat die leeu en die lam bymekaar gaan lê.

So lank, my liefling, vir ewig en altyd sal ek jou liefhê.