flag_sa
Eie stories

Ek wil jive saam met The Black Eyed Peas

Ek sit hier in my kantoor, moeg gewerk en sien sóóó uit na 10 dae verlof doer in die veld. Waar daar nog groot bome is en baie bosse met voëltjies wat oral sing en skrop en hop. Ek wil niks anders nie as my kamera saamvat om my mee besig te hou.

Ek word al klaar in my gedagtes tussen voëltjies in die veld wakker. Ek sien al klaar in my gedagtes hoe wag ek ’n skoenlappertjie in. Ek sien hoe ek agter hulle aanhol vir ’n kliek. Ek hou in my gedagte ’n Narina Trogon vas, die ene wat my man soos ’n wafferse navorser in ’n voël-vangnet gevang het – “om hom te ring vir die nageslag”. Maar soos destyds, tjank ek nou ook byna weer hardop. Toe, het ek gedink, gaan ek nooit weer ’n Narina Trogon sien nie.  

Die Narina was omtrent ’n gesig. Dié voël het heeltemal sigbaar vir my verswakkende oë op ’n tak naby ons kom sit en pronk met sy rooi en groen gewaad en ’n soort “hum-hum, hum-hum” gemaak. Dié klank is nie dieselfde soos die een wat ons op die PDA het nie. Ek het my verkyker opgeruk en gestaar, trane afgevee en weer gestaar. My arms het lam geword van verkyker probeer mik op die tak. Gelukkig sien ek ’n sementbankie teen ’n boomstam en maak ek my lekker sit daarop. Ek hou aan om die voël te bekyk, vir omtrent ’n hele halfuur.  My boude het al begin pyn van die koue sementbankie. My nek het styf geraak en my oop verstarde oë het verdeksels bly brand. Naderhand skuifel ek treetjie vir treetjie tot onder die boom, maar my arms word weer lam. Eers nou sien ek die tafeltjie raak. Dit staan omtrent ónder die boom en ek maak myself sommer so halflê tuis op die tafeltjie. 

Louis het foto op foto geneem. Maar in Mosambiek het ek in ’n wilde hardloop agter voëltjies aan, met my kamera en lens neergeslaan. Nou wil die ding nie meer so lekker zoom nie. Louis loer agter die blare van ’n bos deur om ’n kiekie van die Narina te kry. Elke keer as ek vinnig vir hom kyk, het hy ’n soort van ’n oorwinnaars-grin op sy gesig! Ek het in die boek gekyk, maar ek sê jou, die ekstra groen kolle om die voël se oog en ’n groter groen kol om sy bors en nek, verskyn nie in die boek se tekeninge nie. Wat ’n gesig! 

Ek het skoon vergeet van die koeiklokke wat die agtergrondmusiek in die gebied is. Ek het heeltemal vergeet van moegheid ná die stap na ’n droë waterval en muskiete wat byt. Ek het toetentaal vergeet van skoenlappers. Voëlkyk is my eerste liefde. 

Nou, dis waarheen ons vir die tiendae-wegbreek teruggaan. 

Al wat ek wil doen, is om bietjie weg te kom van die aanhoudende werkdruk. Weg van ’n kantoor sonder ’n venster. Weg van vroue-advokate. Ek wil wegkom van naaldwerk by die huis en van worry oor geld. En ek wil ook sommer wegkom van die alewige en aanhoudende geblaas van vuvuzelas. 

Verrassend sê Louis nou die aand: “Ons moet darem na die openingskonsert van die FIFA Wêreldbeker kyk, sodat ons kan weet wat in Suid-Afrika aangaan om met ander mense te kan saamgesels.” Ek’s skoon moedeloos gewerk en ek het nie baie lus vir die gedoente nie, en draal in die kombuis rond met ’n halwe oog op die TV doer ver. 

Ek gaan rusbank toe met kokende Milo en sterk koffie vir Louis. Ons sit oopmond.  Kan dit óns Suid-Afrika wees wat so baljaar? Almal saam en almal gelukkig. Hul koppe swaai saam, hul arms waai in die lug en elke tweede mens het ’n SA vlaggie in die hand. Almal dans op die maat van ons Afrika-musiek. 

Dit lyk so lekker dat ek die feel it-gevoel kry. Ek voel lus om my 51-jarige lyf van die bank af op te lig en saam met die Swartoog-ertjies (The Black Eyed Peas) te jive

“Sit harder,” hoor ek myself roep. Ek is verstom. Skielik besef ek. Naas die Tweede Wêreldoorlog is Wêreldbekersokker 2010 die grootste gebeurtenis ooit in ons land. Iewers het ek iets gemis … !   

Net daar wil ek ook ’n vuvuzela hê en besluit ek koop sommer vier! Die kinders kom juis almal vanaand by ons sokker kyk.

Ek begin nou anders luister na die vuvu’s wat almal so irriterend blaas in die strate.  En glo my, die tempo styg.  Skielik ervaar ek dit in ’n ander gees. Ek sien mense in geel sokkerhemde en kleurryke pruike. Vlaggies wapper op elke tweede kar en ek dink by myself: “Ons is verraaiers! Ons het nie eens ’n SA vlag op ons kar nie”.  Vliegtuie dreun oor ons gebou en ek hol uit om te gaan kyk. Almal in perfekte formaat bo-oor ons koppe, met soveel pragtige kleure wat hulle uitspoeg. ’n Gees van vreugde heers in ons gebou. 

Ek onthou skielik dat ek een van die Africans is. Hier is ek gebore en getoë. ’n Afrikaner. Maar nou’s ek ’n Afrikaan met ’n kink. Ek is bly dat ek in Suid-Afrika woon, hier waar jy partykeer maar net jou kop kan skud en altyd paraat bly. Skielik loop ek meer trots op hierdie stukkie aarde, hier waar die voetspore van my voorgeslagte lê, hier waar wit en swart kinders eertyds saamgespeel het op plase. 

Dit gaan al hoe beter met Suid-Afrika.

Ralda Heyns, Pretoria