celia_vlag
Eie stories

SA, ons kom kuier!

 

Ek word verras deur die skoolhoof wat saggies aan my klaskamerdeur klop en vra of sy met my kan kom praat. ’n Kort Chinese vroutjie met lang hare wat stylloos in ’n middelpaadjie oor haar skouers hang, dunraam-brilletjie en altyd ’n glimlag op haar gesig. “Ms Celia,” begin sy bekommerd. “I have heard the bad news today that an American tourist was shot in South Africa yesterday. Are you sure you want to go back there for the summer holiday?”

Ag, my dierbare mens, dink ek, hoe naïef is julle en wat vra jy nog. Ek was twee jaar gelede by die huis.  

Ek antwoord dat ek definitief nog wil gaan. Sy verstaan nie. “Why would you want to go there, it is so dangerous?” Maar ek probeer nie eers verduidelik dat die voorval waarvan sy gehoor het eintlik ’n minder ernstige een was, dat die toeris nie verkrag is, vermink is of dood is soos soveel Suid-Afrikaners voor hom net ’n dag of week gelede waaraan die wêreld hulle nie gesteur het nie.

“How did you survive there all these years?” is haar volgende vraag. Ek lag en antwoord dat ek net gelukkig was. Ek kan nie eers opreg sê dat dit net genade was nie.

En weer eens probeer ek nie eers verduidelik van al die nagte se lig slaap, opspring en senuagtig by die vensters uitloer as daar ’n geluid was nie, van die dankbaarheid wanneer ons almal saans “veilig” agter die sekuriteitshekke toegesluit is nie of van die truspieëltjie dophou vir agtervolgers of die verligting wat ’n groen verkeerslig bring nie. Of van die paniek wanneer jou kinders vergeet om te SMS dat hulle veilig hul bestemming bereik het nie.  Sy sal nie die vrees van “wat as” of “wanneer ons” verstaan nie.

My antwoord is dat dit nie regtig so erg is nie. Ons Suid-Afrikaners is gewoond daaraan om so te leef, dit is vir ons normaal. Ons het al geleer om daarmee saam te leef. Ons sorg dat ons positief bly, soms kyk ons glad nie nuus of lees koerante nie, en as ons van ’n misdaad hoor, sê ons net stilletjies in ons gedagtes “dankie tog dit was nie ons of ons s’n nie”, en vergeet daarvan of praat dit weg. Wat anders kan ons tog doen? Ophou leef? Ons is maar te bly as hulle net ons goed steel en ons lewens spaar!

“But why don’t the government do something about the crime?” is haar volgende vraag. En my antwoord: Ons is baie dankbaar vir die Wêreldbekersokker, want die regering het bewys dat hy wél iets kan doen aan die misdaad deurdat die misdadigers wat tydens die toernooi vasgetrek word, feitlik onmiddellik veroordeel en gevonnis word. Dit was nooit voorheen die geval nie.

Ja, mevrou skoolhoof, ons gaan beslis Suid-Afrika toe, want sien, ons het ons mense daar verruil. Ons het hulle verruil vir ’n twee jaar lange blaaskans, waarin ons vreesloos kon lewe. Vreesloos, maar nie stresloos nie, want om jou land te verlaat bring allerlei nuwe bekommernisse. 

Maar ons is meer as bereid om die risiko te loop, die kans te waag vir ’n geleentheid om net weer ons mense se lywe teen ons te kan vasdruk in daardie plek wat ons nou en altyd ons huis sal noem.

Celia Claase, Hong Kong

 

 

 

 

  • Miriam Rootman

    Celia, jy het my in trane hier! Ja, as ‘Afrika’ in jou bloed is kan jy gaan waar jy wil, daar sal altyd net die een plek wees vir jou. Ek het self die waters gaan toets aan die ander kant, maar nee wat, met al Suid Afrika se probleme is daar geen beter plek in die wereld nie. Ek dink al ons onlangse besoekers is met baie positiewe stories oor Suid Afrika huis toe en ons gaan vorentoe baie meer van hulle sien. "SA is a lekker place to be"