sr2008myselfhoof02
Eie stories

Sally Chalmers: Kom uit jou roetine uit

Ná tien jaar was Sally Chalmers van Johannesburg se werk as verpakkingsontwerper blote roetine – vervelig. In haar agterkop was ’n idee vir ’n eie onderneming,maar sy
het geen selfvertroue gehad nie. Te midde van ’n besige lewe (sy het twee kinders van 4 en 7) het sy ook die dinge wat háár laat tiek, afgeskeep.

“In 2008, drie maande nadat sy by die lewensafrigter Anel Bester aangeklop het, het sy bedank en Little Green Fingers begin, wat tuinmaak as buitemuurse aktiwiteit vir
kinders aanbied. Sy het reeds ’n saketoekenning gewen en haar kreatiwiteit en selfvertroue blom.

DIE EERSTE SESSIE

“Ek was eers senuweeagtig, maar het gou ontspan. Dis net ’n gesprek, niks is reg of verkeerd nie.Anel is ’n gids op jou reis. Ek sou nooit bedank het as dit nie vir haar was nie – en my idée sou net dít gebly het. Sy por jou net genoeg aan, nie te veel nie. Jy leer dink op ’n ander manier.Nie alles is swart of wit nie.”

MY DOELWITTE

“Ek het twee hoofdoelwitte gestel – een persoonlik, een vir my onderneming. Ek is onseker, skaam en het min selfvertroue. Ek was altyd lief vir mosaïek en skilder, maar dit het verlore geraak toe ek ma word en begin werk het. Ek het ’n bietjie van my  identiteit verloor. Ons het saam ’n sperdatum bepaal vir take. Soos om meer  selfgeldend te wees, soms tyd weg van my gesin deur te bring en om meer onafhanklik te wees.

“Vir die sakedeel het ons besluit dat ek teen1 Mei 2008 moes bedank. Ek was baie bang, daar was tye wat ek gehuil het en bekommerd was. Dit was ’n groot risiko om van ’n goeie, vaste werk weg te stap. Ek hou boonop nie van verandering nie.

“Maar ek het deurgedruk en gehou by my weeklikse tuiswerk, soos om my saak se naam te registreer en ’n sakevisie uit te werk.Vandag moet ek my soms knyp as ek sien hoe my onderneming floreer – ek het begin met 5 skole, nou’t ek al 32! Boonop het ek baie meer tyd vir my kinders.”

 

My nuwe selfvertroue
het gelei tot my eie

onderneming”

 

DIE GROOTSTE UITDAGING

“Anel se opdrag was: Doen iets waarvoor jy baie bang is. Ek hou nie daarvan om die fokuspunt in ’n groep mense te wees nie. Toesprake is my ergste vrees. Sy het voorgestel ek doen iets ekstreems wat my blootgestel laat voel – ek moes een paaldans-les saam met ander vroue neem! En toe is dit glad nie so erg nie. Dit was eintlik pret. Ek het hieruit geleer ek is geneig om goed op te blaas in my gemoed en dit erger te maak as wat dit is.”

MY WAARDEVOLSTE ONTDEKKING

“Die eerste keer toe ek hoor ek moet elke dag ’n joernaal hou, het ek so ’n hol gevoel op my maag gekry en gedink: Agge nee,moet ek? Maar dis die beste medisyne. Ek beveel dit aan as jy deur ’n swaar tyd gaan of ’n moeilike besluit moet neem.

“Ek gebruik dit steeds elke aand. Vir ander beteken die geskryf waarskynlik niks, maar só raak jy ontslae van al die inligting in jou kop, en jy kan dit dan laat gaan. Jy kan letterlik alle gedagtes neerskryf. Die volgende dag lees jy dit weer en kry daaruit wat jy nodig het.”

WAT EK NOU WEET

Ek was geneig om uit te stel. Maar nou het ek ’n doenlysie vir elke dag – persoonlik en vir die werk.

Gee daagliks vir jouself erkenning. Dit was eers vir my baie moeilik – my man raak moedeloos as ek myself so onderskat – maar nou kom dit al baie makliker. Selfs die kleinste goedjies verdien erkenning.

Meditasie help baie. Dis ’n manier om jouself te ‘laat gaan’ en net te ontspan.

Besoek ook www.littlegreenfingers.co.za.

Vir hulp Anel Bester, www.coach-sa.co.za, anel@coach-sa.co.za, 083 600 8969

 

  • http://onyrtbopvucm.com/ vdczagwrl

    JVhgbe chjfoubudwzj, [url=http://zhposgyjaard.com/]zhposgyjaard[/url], [link=http://hiqdosaofhja.com/]hiqdosaofhja[/link], http://stlcxvvtfpcm.com/