SARIE-blogs

Alétte-Johanni blog: 6 somers sonder sexy swemklere

So stil soos die houtjie van die galg? Ek weet, ek weet en ek vra om verskoning. Ek het met ‘n skok agtergekom dat ek die 23ste Mei laas getik het. Van julle oulike klomp het al ‘n e-pos gestuur om te hoor of ek kwaad is vir iemand?

17 Augustus 2013

Inderdaad nie, maar dalk was die manier hoe ek my vorige blog afgesluit het op ‘n manier profeties: “Die Skilpad”. Want hierdie skilpad het behoorlik lank en stadig gevat om weer haar vingers oor die knoppies te laat gly om ‘n boodskappie aan al haar vriendinne te tik. Maar, soos baie van julle laat weet, is daar allerhande ánder gebiede waar hierdie skilpad blykbaar nie wag dat die gras onder haar pote groei nie …

Maar kom ons begin waar ons geëindig het. As ek nou eerlik kan wees, moes ek teen 23 Mei seker nog so 4 of 5 kilo’s afskud. En julle sal my nie glo nie, hoewel ek seker nie presies daar gekom het nie, het ek weer baie gemaklik in my voor-babas-klere begin pas. Dit was ‘n FEES! Elke dag het ek op my Facebook-bladsy gepronk in iets wat ek al baie lank terug aangeskaf het en nog nooit gedra het nie, of baie lank terug aangehad het. Dit het gevoel soos ‘n hele nuwe klerekas, en my nuwe leniger lyf het ek met ope arms ontvang. Maar blykbaar was ek nie die enigste een wat hierdie lyf met ope arms ontvang het nie …

Maandag, 24 Junie, bel my beste vriendin, Sumari Schoeman, my in ‘n baie benoude stemmetjie: “Zet, het jy my SMS gekry?” “Nee?” sê ek verbaas. “Kyk gou weer, dan bel jy my terug.” Ek druk die foon dood en wag dat haar prentjie-boodskap deurkom. En daar staan dit lewensgroot op die stokkie geskryf: “Pregnant 2-3”. Ek bel haar dadelik terug, amper semi-histeries. Sy antwoord in trane, so oorweldig deur hierdie eerste-baba-oomblik. Ek wil saam met haar huil van blydskap! Ek is so ontsaglik bly dat sy ook hierdie wonderlike, mees natuurlike gebeurtenis kan beleef en dat ons uiteindelik ook saam hieroor kan praat. Ek  sê ek gaan net gou klaarmaak en dan sal ek haar uitvat vir ‘n koffie.

Ek storm in Heinz se ateljee in met die goeie nuus en ons is saam so opgewonde vir ons hartsvriende. (Julle moet onthou, Sumari het maande lank saam met my in die ateljee gestaan en lullabies sing. Ek was so bly dat sy met die opneem van die volgende CD nóg mooier gaan sing omdat dit kom uit ‘n plek van ervaring en ‘n dieper wete.) Ek gooi al my swangerskap-klere, -boeke en -tydskrifte in ‘n tas en vat die pad Linden toe. Daar aangekom, hou ek haar net vas en is ek in my hart so bly dit is nie nou ék wat hierdeur moet gaan nie. Min het ek geweet…

Twee weke later praat ek met Sumari oor die foon, maar dan praat ek hier en dan is ek daar. Niks wat ek sê, maak sin nie en sy haak af: “Zet, wanneer laas het jy ‘n swangerskaptoets gedoen?” Ek giggel so half verby haar opmerking met die hoop om die vraag te ontwyk, maar diep in my hart weet ek die moontlikheid is nie té onwaarskynlik nie … (Iemand anders het mos ook die lyf met ope … arms … ontvang.)

Die Donderdagoggend kry ek so ‘n no-name-brand-toetsie daar in my badkamerkassie. Negatief. Ek voel hoe my hartklop effe bedaar en ek kondig met selfvertroue aan, dit is nie só nie. “Nee, Zet, kry vir jou Clearview! Daai goed is so akkuraat, dit sê amper vir jou of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is.”

Vrydagoggend lê ek op die mat in die Pilates-klas en dink: “Ek is nou hier bo die Clicks, ek sal gou na die klas daar stop en ‘n paar Clearviews optel.” So gemaak. By die huis aangekom, doen ek die nodige en wag vir die resultaat terwyl my badwater intap. (Kan ek net bysê dat my man op hierdie stadium al ‘n hele paar dae in die Kaap is met Skouspel en ek al hierdie emosie self moet verwerk.) Die volgende oomblik staar daai selfde woorde my in die gesig: “Pregnant 2-3”.

Ek raak yskoud en my hele lyf gaan aan’t bewe. Ek neem ‘n foto van die stokkie en stuur dit aan my man en aan Sumari. Heinz bel dadelik terug: “Ja? Wie sin is dit?” Ek dog my swanger-hormone stuur vir hom ‘n vuishou deur die foon. “Wie sin dink jy, my skat?” Hy is stomgeslaan, maar uiters opgewonde! Sumari reageer nie, en die geskiedenis herhaal homself: “Het jy my boodskap gekry?” “Nee?” sê sy verbaas. “Kyk gou weer, dan bel jy my terug.” Sy bel my semi-histeries terug. “Kan ek asseblief al my goed terugkry?” vra ek. Hoe spesiaal is dit nie? Ek is presies 3 weke agter my beste vriendin.

Maar dames, toe ek nou eers my somme begin maak, kom ek agter dat ek in my onkunde en onbeplanning ‘n baie sterk patroon ontwikkel het. Ná Lian se geboorte het dit 13 maande gevat om die gewig te verloor en toe, 1 maand later, was ek swanger (tipies). Ná Simeon se geboorte het dit my 13 maande gevat om die gewig te verloor en 1 maand later was ek swanger (baie tipies). Met ander woorde, die gaping tussen my 3 kinders gaan presies ewe groot wees: Lian = 23 Mei, Simeon = 20 April en ons nuwe klein boontjiepit = 19 Maart. 23 maande tussen elkeen.

Nadat ek (as ‘n semi-perfeksionis) vrede gemaak het met dié mooi (on)beplanning en binne 2 dae elke nuwe baba-pin op Pinterest vasgepen het uit opgewondenheid, het ek ‘n ander gewaarwording gehad:

In Junie van 2009 het ek (destyds geïnspireer deur Bertha Wahl) dokter Cohen die eerste keer ontmoet en brandmaer aan die ander kant uitgekom. Toe al het ek vir my die mooiste somersklere en swemklere aangeskaf en baie daarna uitgesien om daai Desember met my nuwe lyf op die strand te pronk.

Omdat Cohen egter eintlik ‘n vrugbaarheidsdieet is, is dit toe nou ook dié resultate wat dit opgelewer het: vrugbaarheid. En later daai maand het ek vir die eerste keer in my lewe die vreugde van ‘n positiewe swangerskaptoets ervaar. In Engels is daar ‘n mooi woord: “Elated!” Al die oupas en oumas was buite hulleself en ek het daai oorweldigende gevoel gehad wat Sumari so onlangs ervaar het. Maar, ons vreugde was van korte duur. Slegs ‘n week ná my positiewe toets het ek erg aan die bloei gaan. ‘n Miskraam was onvermydelik. Maar die Here het ‘n wonderwerkende genesing in ons harte en lewens gebring en een normale siklus daarna het ek einde Augustus weer swanger geraak en kon ek met ons derde huweliksherdenking, op 25 September 2009, my vermoede bevestig en het Lian begin groei.

Daai Desember was ek alreeds ‘n klein pokkeltjie op die strand (ek het mos nie teruggehou nie) en kon ek maar daai mooi kleertjies vir eers diep wegpak. My hoop was op Desember 2010! Min het ek geweet wat vir my wag en dat jy nie 30 kg (sonder uiterse dissipline) in 6 maande verloor nie. Dus het Desember van 2010 ook gekom en gegaan en ek het met my oorgroot jurke my wit lyf op die strand verbloem.

Teen Julie 2011 was ek reg om enige strand aan te pak. Ek het die selfvertroue van ‘n Mercedes–Benz- New-York-Fashion-Week-model gehad, en kyk waar het daai selfvertroue my gekry … swanger. Teen Desember 2011 was my maag (boude en borste) weer koeëlrond en het ek vir ons ‘n opblaas-swembad by oupa en ouma se Bettysbaai-huis staangemaak omdat ek nie naby ‘n strand wou kom nie.

Dalk is Desember 2012 ‘n ander storie? Haha! Julle ken die storie … Nope, al is Simeon ‘n maand vroeër as Lian in die jaar gebore, én al het ek 10 kilo’s minder aangesit, het my oorgroot jurke (steeds) hul doel gedien.

Teen Junie 2013 was dit weer ek en die strand. Net jammer dit is dan winter in Suid-Afrika, en wat gebeur in die winter? Die Wincklers word wraggies wéér die gelukkige wenners van ‘n wipneus. (Dis nie nét oor my nuutgevonde lyf nie, wil ek net bysê. Die winterstil musiekbedryf speel ook ‘n groot rol – dié dat my man so baie by die huis is.)

Dus hou Desember van 2013 ook die belofte van koeëlronde … kollegas in, en as ek nie my nuutgevonde dokters-kennis vinnig en doeltreffend gaan gebruik nie, en gaan staatmaak op my geskiedenis, gaan my 2009- splinternuwe somersklere dalk in Desember van 2014 steeds in die tas lê. Maar, belowe ek julle, van hier af gaan meer permanente stappe geneem word om seker te maak die geskiedenis herhaal homself nie wéér nie!

Ses somers uit my lewe is NIKS in vergelyking met die lewenslange vreugde en rykdom wat drie kinders vir hierdie moederhart en lyf (gaan) gee nie. Ses somers, uit die hopelik 80+ somers wat my lewe gaan oplewer hier op aarde is bitter min om op te offer vir die ewigheidswaarde wat elkeen van my kinders se lewens het en gaan hê. En daarom, dames en here, vat ek nog ‘n gesonde-ronde-somer aan met ‘n smile op my gesig en die wete dat die Here besig is om die perfekte wese in my skoot aan mekaar te weef. En terwyl ons nou besig is om te ontspan, sluk ek daai gedagte met ‘n milkshake af!

(Volg my gerus op my Facebook-bladsy, www.facebook.com/alette-johanniwincklerimageconsultantandstylist/, en sien saam met my uit na my boek, Môre is Maandag, wat binnekort in samewerking met SARIE en Christelike Uitgewers Maatskappy verskyn.)