SARIE-blogs

Aletté-Johanni blog: Dit was broodnodig dat ek dít hoor!

Daar is ‘n ou grappie wat lui: ‘n Ou oom se kar gaan staan net voor die Van Reenenspas en ‘n jong man laai hom op om hom te help. Die ou oom voel vreeslik onveilig in die jong klong se kar en tree op as die tipiese “backseat driver” en elke kort kort sê hy vir die man: “Pasop bietjie daar is ‘n skerp draai regs!” en “ Bietjie stadiger om die draaie” ensovoorts. Die bestuurder kan net soveel van hierdie vat en haak af: “Oom, ek waardeer die raad, maar ek bestuur nou en ek gaan dit doen soos ek wil. Ek doen oom eintlik ‘n guns” Dis vir ‘n rukkie nog stil in die kar en toe sê die oom: “Skerp draaitjie na regs, jy dink ons sien jou nie, né?”

(Nou waarom vertel ek dit vir julle?) Julle sal wel later sien.

VOORSPOEDIGE NUWE JAAR alle SARIE lesers!! Ek kan nie glo week 2 van ons nuwe jaar lê al weer amper soos George se berge wat ek laasweek gegroet het nie. Agter ons. Ek het eers gedink my nuwejaarsvoornemens gaan inskop op 1 Januarie maar dis bietjie belaglik om op vakansie te probeer mooi eet, so daai outjie was ook vir eers uit die venster, maar 7 Januarie het aangebreek en dames, ek is op ‘n roll! Voor ek aan’t roll (e) gaan…

Die vakansie, soos ek gedink en voorspel en gespreek het, het veel te wense oorgelaat vir reg eet. Tussen my ma, my skoonma, elke padstal, elke wimpy padstop, elke glasie wyn, elke pak chips op die strand (nie dat jy my sommer op die strand sou sien nie) elke nagereggie, elke voorgereggie en elke kersfeeskoekie was ek aan allerhande gelowe uitgelewer.

Net so voor Kersfees besluit ek om vir ‘n Deep Tissue Massage te gaan toe my rugspiere bietjie begin kla van baie…kinders dra. Die tannie in Kleinmond wat dit doen is blykbaar wyd en syd bekend en beloof om nie speletjies te speel soos baie ander masseuses nie.  Daar aangekom vra sy my of ek sommer die hele shebang met refleksiologie en als wil hê. Nou moet julle verstaan, toe ek klein was, was refleksiologie van die duiwel af. Amper soos waarsêery. Iemand vat net hier in plaas van jou hand aan jou voet en vertel jou jou toekoms. Maar gelukkig het ek die lig gesien en gedink, why not?

Net toe ek lekker ontspan, 3 sekondes nadat sy aan my voete gevat het begin sy giggel: “Ons hou lekker vakansie né?” “Huh?” “Ek sien hierdie limfe is lekker gagga” “Nice” dink ek en sy beaam maar net die waarheid. Sy druk hier en druk daar, wikkel my enkels en reken ek het lekker heupe en gaan maklike kinders kan kry…I just smiled…

Verder lig sy my in dat my liggaam glad nie suiker verteer nie en dat dit eintlik ‘n gif is wat ek in my liggaam sit. Selfde geld vir wit stysels soos brood en pasta. En nét daar, drop die pennie. Dis iets wat ek altyd vermoed het, maar om dit eintlik te hoor was broodnodig. (Of nie) En net daar en dan besluit ek dat ek my varkies agter mekaar moet kry en moet besluit wat is die beste vir my gesondheid. Maar my besluit het eers na 7 Januarie ingeskop. Daai gif moes nog so bietjie ingespuit word.

Die naweek voor 7 Januarie maak ek gereeld grappies saam met Heinz as ons iets lekkers voorsit (met ander woorde die heeldag aldag) 7 Januarie sê vir my, soos die ou oom: “Lekker dik sny pizza, jy dink ek sien jou nie né?” of ek sê vir 7 Januarie 2013 terwyl ek met ‘n KitKat in my hand sit: “Jy dink ek sien joú nie, né?”

En so het 7 Januarie eergister gekom. Soos BOMSKOK. Skielik, en te vinnig op my. Hierdie lyf met sy ekstra 3 vakansie kilos het nie geweet wat hom tref nie. Water, geen suiker, geen gemors, water en water. Dis ook ons jaarlikste tyd om te vas so daars nie eers lekker koffie om ons na ‘n nag van babas op te kikker nie. My limfe het hulle g*tte gesien (skies mamma) en voel seker soos alkoholiste voel sonder ‘n bier of ‘n glasie wyn. Senuweeagtig. Elke keer as ek aan trooskos dink drink ek water…en ek bid. Ek bid baie.

Maar so is die helfde van daai vakansie ekstras darem daarmee heen. Nou is daar net nog so TWAALF kilos oor om gemaklik in my voor-Simeon-klere te pas en beperkte tyd. Dis nie asof ek einde Februarie op ‘n bootreis saam met 400 ander Afrikaners in ‘n bikini moet verskyn nie… Dus sal Virgin Active my ook intiem leer ken in die volgende paar weke.

But watch this space…

Ek hoop dat elkeen van julle wat nuwe doelwitte vir 2013 gestel het ook gemotiveerd is en die bul by die horings pak. Anders sit ons dalk later met die gebakte pere. (Gelukkig is dít, sonder suiker, darem toelaatbaar. )

  • Annatjie

    Hi Alette-Johanni, ek vaar ook in dieselfde boodjie as jy – net ook die hormone by! En dan is ek nog ook so lief om te bak en te brou! Wie kan nou ook nog lekker tuisgebakte boerebrood en so ‘n lekker konfytjie en ‘n kasie weerstaan? Nogal so ‘n uitgeryste brood wat ‘n grootbord volle^. Sjoe, darem!

    Na vele probeerslae verloor ‘n dame so 2-3 kg en dan vind hulle mens weer. Dit is die slegste van alles. Ja en ook gebruik ook die Virgin Active vertoonlokaal en nie net om my lidkaart deur te trek nie. ‘n Vriendin van my gaan partykeer net om haar kaart te skandeer sodat sy ‘punte’ kan kry….

    Groete uit’n baie warm Pretoria

  • Susan v Jaarsveld

    Ek voel saam met jou!! Mal oor koffie maar nou is dit net water, water, water!!

  • Wilma

    Ek lief om vrou te wees, maar ai, soms wonder ek waarom ons geslag altyd so met die vetjies moet worstel. Wel, gelukkig is daar ‘n hele paar van ons wat die ekstra kilo’s moet afskud en so is ek ook een van hulle. Ek is verslaaf aan sjokolade en so sukkel ek ook nou op my 2de dag om my fokus te behou op baie water en gesond eet, sodat ek weer in my denimpies kan pas. Al wat ek vir jou kan sê is sterkte saam-saam pak ons die rolletjies aan in hierdie nuwe jaar.
    Groetnis

  • Hannetjie de Klerk

    Dit was nou regtig baie oulik!Pappa en ek het lekker saam gegiggel vir jou uitlatings/kwinkslae!Ons is trots op jou en vertrou dat jy sal vasstaan en nie swig vir enige versoeking wat jy hierbo genoem het nie!Dis die moeite werd om gesond te eet en veral nou dat die dame bevestig het !Wel gedaan!!

  • Donna Kennedy-Meyer

    Excellent!! x

  • Surina

    Ek is mal daaroor om jou insetsels te lees. Lag altyd lekker. Ja ons almal het maar ekstra met ekstra’s om af te skud!

  • anita du plessis

    Nou kry ek myself ni meer jammer ni,ek vaar ook in dieselfde booitjie. Dis net reg eet en water. Voorspoed vir 2013.

  • Carina Joubert

    Dames, moenie die koffie uitskakel nie! Dis goed vir jou! Dit help met vet verbranding, stimuleer jou metabolisme, help met insulien vlakke, en nog baie ander gesondheidsvoordele! Drink jou koffietjie skuldvry, los net die suiker uit! Gaan Google gerus "health benefits of coffee". Ek het selfs onlangs ‘n mediese artikel vir my voortgesette professionele ontwikkeling (CPD) ontvang wat nagevorste bewyse bevat van koffie se voordele.

  • Luzanne Nabal

    Hi daar, ek het hierdie nou baie geniet. Ek voel dieseflde oor die kilos wat moet af, maar vaar net in sirkels.