alw2
SARIE-blogs

Aletté-Johanni blog: Lian en Simeon se verjaarsdagpartytjie!

Ons klein akteurtjie/dansertjie, báie kompeterende menseliefhebber, tegnologiekenner en tweetalige klein rakker word yslik groot.  En sy baie astrante, uiters musikale, ontsaglike oulike, 10-gesigsuitdrukkings-in-een, 1-jarige boetie, bly nie agter nie. Dit beteken dis net minder as 3 jaar wat ek en jy al hierdie gewigtige pad saam stap. Soms was dit ‘n pad vol duwweltjies en baie opdraend, ander kere het dit weer beter gegaan en het ons soms saam aan’t holle gegaan soos die pad teen ‘n afdraende loop.

Alette-Johanni Winckler

Ek wil vandag dankie sê aan elke vrou, vriendin, suster, niggie, tannie, mamma en…oom wat elke keer as hierdie blog verskyn, die moeite doen en tyd afstaan, om dit te gaan lees; soms saam lag, en soms wil-wil saam huil uit desperaatheid, of bloot omdat jy as vrou, so ontsaglik baie empatie met my kan hê op hiérdie (oorbevolkte) gebied. Nadat ek seker amper 600 e-poste moes antwoord met die vorige blog, het ek dit eens: Ons almal sukkel met iéts! Dis hierdie een se boude, en daai een se maag, die ander een se skoonma en dalk jou bure se hond. Almal wil soms net bietjie afpak en ontslae raak van die dinge wat pla. In my geval is dit die kilos…Ek verwag nie van elkeen wat my blogs lees om daarvan te hou en positiewe opbouende kommentaar te lewer nie (alhoewel dit baie lekker sou wees), maar ek verwag dat elkeen van julle wat hierdie lees ietsie sal verstaan:

Alhoewel dit mag klink asof ek die mees selfgesentreerde ek-wil-soos-‘n-babe-lyk vrou daarbuite is, is 90% van wat ek doen nie eens vir myself nie. Ek ken myself, en ek ken my lyf. Ek weet waartoe ek instaat is en ek weet wat my potensiaal is. Ek weet byvoorbeeld ook dat wanneer ek is waar ek graag wil wees, ek ‘n baie lekker mamma en vrou is. Ek het meer energie om saam met my kinders rond te hardloop, hulle gedurig op te tel en die trappe in ons huis uit te spring. En dan praat ek nie eens van wat dit vir my huwelik doen nie…Ek wil dit amper só stel, dat ek dit aan my man verskuldig is. Die vet Aletté is moeg (die heeltyd) en wil nie hê haar man moet sy hande oor haar rolle rol nie. Die maerder weergawe (tot haar man se uiterse blydskap en verbasing) gee nie om om voor haar man aan en uit te trek nie (soos dit hoort) En ek weet voor my heilige siel daar is derduisende van julle daarbuite wat verstaan hoe dit voel. Omdat óns dalk ongemaklik is met ons lywe, weens kinders of siekte, of dalk net sommer te veel eet, moet die Adams in ons lewens onder ons selfsug swig. Wel basta daarmee! Ek wil hê my man moet dink ek is die mooiste ding onder die son en nie kan WAG om huis toe te kom nie. (Ek werk myself so op ek drink sommer 2 liter water uit hier waar ek sit!)

Alette-Johanni Winckler

Met my ooievaarstee voor Simeon se geboorte het ek ‘n vriendin gesien wat 3 maande van tevore haar 3de kind gehad het, en vir dáai twee 3’e verbásend goed gelyk het. Sy het ‘n dieet gevolg wat haar skoonma by ‘n dokter gekry het wat basies neerkom op geen stysel, baie proteine en groente en so aan. Dit was omtrent in Februarie van 2012 en haar doel was om teen November 30kg te verloor. Dit het vir my heeltemaal te lank geklink. Ek sou eerder pille, kitsdiëte of mengeldrankies uitprobeer om vinniger alle bewyse van swangerskap te verloor, maar terwyl ek die een gimmick na die ander probeer het om VINNIG gewig te verloor het sy maar net stadig maar seker die kilos laat wegsmelt en teen November was sy waar sy wou wees en ek was nog héeeeeeeel agter in die ry met ‘n opgedonste metabolisme, geen selfvertroue, en bittermin hoop dat ek oóit uit my swangerskapsklere sou kom.

Eers in April 2013 was die koeël deur die kerk. 8 April het ek begin met Fase 1 en ek kan met trots sê vandag, 6 en ‘n half weke en 2 kulsmul-dae later is daar amper 8 kilos minder van my te sien. En al is dit ‘n fantastiese program om te volg en jy onmiddelik resultate sien, is daar dae aaneen dat daai getalletjies op daai skaal ook die “staking seisoen” betree het en nie wil move nie! En net voor jy ingee en jou vergryp aan elke liewe moontlike lewende ding in jou yskas, val daai metertjie met ‘n paar nommers. En dít my liewe vriendinne is die geheim. In die eerste plek, moet nie elke bl@rrie dag weeg nie, anders gaan jy binnekort dalk uit die huis geskop word. Tweedens, wees konstant: hou aan doen wat jy wéet is reg al skreeu elke sel in jou liggaam om eerder in te gee en die makliker, lekkerder (môre-huil-ek-my-oë-uit-van-spyt) uitweg te kies. Dalk gebeur dit nie so vinnig soos wat jy in gedagte gehad het nie, maar skilpad het op die ou einde vir hasie gewen.

Alette-Johanni Winckler

Nou goed, kom ons kom tot die punt. Vandat ons laas gekuier het, het ons partytjie gehou by Crazy Kids Farmyard in Randburg. Na baie opwinding, voorbereiding, harde werk, en oupas en oumas van ver, het die dag aangebreek. Dis SNERPEND KOUD, en my plaas- almal dra check hempies en denim–partytjie, word ‘n toegedraai in –jas-, mus en serp –partytjie. Gelukkig is dit altyd net die grootmense wat daaroor omgee, want gee vir ‘n kind ‘n kollosale sandput met elke moontlike klimraam, trampoline, gesigverf, ‘n piñata, ‘n baba boerbok en ander plaasdiere om te voer en jy weet nie van daai kind (of hulle 25 maattjies nie) Skaars daar aangekom besef hierdie moeder almal was die oggend gevoed behalwe syself. En aangesien my papaja, volroom Griekse yogurt en rogbroodjie nou nie die “cut” vir die partytjie gemaak het nie, moés ek noodgedwonge weglê aan ‘n paar ander tipes brode en snuisterye. Koektyd breek aan en die pragtige plaaskoeke ontpop in lieflike rooi fluweel koeke aan die binnekant. Ek kan myself nie keer nie. Maar ek troos myself daaraan dat ek dit beplan het, en self al voor die tyd teenoor my dokter(s) bely het. Dit was ‘n fantastiese dag en op alle ander gebiede ‘n reuse sukses.

Gelukkig was die Sondag, Maandag en kon ek dadelik net aangaan waar ek opgehou het. Die res van die week het goed verloop met ‘n gefokusde kop, maar teen Sondagmiddag (‘n week later) en die soveelste dag alleen sonder my man, ‘n paar holderstebolder hormone en éen kyk na die oorblywende rooi fluweel plaaskoek en daai kulsmul bekruip vir my soos ‘n honger leeu haar prooi bekruip. Later toe Heinz van die Staatsteater af kom geniet ek ‘n glas wyn saam met hom en ons spens se lekkerny-houer lé tussen ons op die bank en kyk Carte Blanche.

Alette-Johanni Winckler

Ek het baie vinnig agtergekom dat my lyf nie meer gewoond is aan sulke verkeerde goete nie en kort voor lank het ek nie baie goed gevoel nie….(Fisies én emosioneel)

Maandag was Maandag en alle grappies, kulsmulle en koeke op ‘n stokkie! Ek het besef as ek n nog 5, 6 of 7 kilos het om te verloor gaan dit baie stadiger gaan as ek eers elke nou en dan, soos hasie, langs die pad lê en rus. Nee wat, ek bly eerder ‘n stadige konstante skilpad en verloor die een outjie na die ander as wat ek op daai wenpaal probeer afpyl om een of ander punt te bewys.

Volgende keer as ons kuier is ek sommer nóg drie kilos af! (Ek het geleer om soos die Bybel ons leer te praat: “Roep die dinge wat nie bestaan nie asof dit bestaan!”

Vir meer inligting, of om uit te vind watter wonderlike leefstyl veranderende program ek volg- gaan “Like” my Facebook bladsy waar ek gereelde opdaterings deurgee:

Die Skilpad…

* Lees nóg blogs deur Aletté-Johanni.

Heinz en Aletté wil graag dankie sê aan die volgende mense wat hierdie partytjie onvergeetlik gemaak het:

VENUE, DÉCOR, PARTYTJIE PAKKIES, ENS.
CrazyKidz Farmyard
9 Daniel Street , Danielbrink Park , Randburg
Jana Henn
0823899153
crazykidzfarmyard@gmail.com / info@crazykidzfarmyard.co.za
www.crazykidzfarmyard.co.za
Daagliks oop van 9-5pm

“PLATTERS”
Crumble Cake Shop & Kitchen
Sue-Anne Stander
Shop 1 Valley Centre, Craighall Park
011 781 0571
sue@fanmail.co.za

KOEKE
Laura Jones
laurascakeandcandy.blogspot.com
laujones.ihs@gmail.com
mobile – 0715000871

Pinata & GESIGVERF
Cassandra Purshouse
Kids Like Us Pinata Factory
kids_like_us@live.com
072 228 0563

http://www.kidslikeuspinatas.com/

Lian en Simeon se verjaarsdagpresent: Jungle Gym
A&T Jungle Gyms
info@atjunglegyms.co.za

https://www.facebook.com/pages/AT-Jungles-cc/329143442486