29april13
SARIE-blogs

Aletté-Johanni blog: My siening oor kos het verander

Jitte, maar daar is ‘n paar nuuskierige agies wat hierdie blog lees…ek dog ek gaan eers vir julle vertel waarmee ek besig is aan die einde van die reis wanneer daai nommer 34’s los aan my lyf hang, maar ai, ek’s bang ek word wakker met ‘n paar lesers langs my bed wat my dreig met ‘n pizza en ‘n pakkie Woolies varkies! Ek sal my eie “secrecy bill” laat vaar en vir julle vertel: VERAL NADAT HIERDIE Aletté-Johanni Winckler ‘n VOLLE 5.1KG LIGTER IS!

Ek kan julle verseker ek het lanklaas in my lewe so goed gevoel. Nie net pas ek al in sekere goed van my klerekas nie, maar in ‘n tyd in die Winckler-huishouding waar daar bykans elke oggend eers 1 vm gaan slaap word en weer vroeg op is met siek kinders ensovoorts, hou my liggaam (deur baie genade van bo) die pas vol. My energievlakke is uit die boonste rakke, my vel gloei en midde al die kieme, virusse en bakterie in my huis word ek nie siek nie.

Ek het gedink die trippie bosveld toe vir Riana Nel en Cornél de Beer se uiters beeldskone, romantiese, goddelike troue laas Saterdag (op my baba se 1ste verjaarsdag) sou moeilik wees, maar dit was nie eens vir my moeilik om die tafel vol brode, botters, konfyte en kase te vermy nie. Ek het eerder gesmul aan die hoenderpot en my rogbroodjie (wat ek uit my Tupperware gepluk het)

My sjampanje glas was gevul met sparkling water en niemand het enigeiets agtergekom nie. In die uiterse koue in die bosveld lug het my swart rooibostee baie handig ingekom. Deesdae smul ek aan swart bitter koffie en dit is flippen lekker?! Noóit ooit in my lewe gedink ek sou dit eers waag nie, maar ek dink jy gaan my moeilik daarvan afkry.

So fase 2 se twee weke is eintlik klaar en ek kan fase 3 (die meer “ontspanne fase” ingaan, maar ek dink ek gaan miskien nog so week of 2 uithou. In hierdie fase kan mens ‘n groter verskeidenheid kosse eet en ook weer olie in jou eetprogram inbring. Daar is ook een “kulsmul”… my nuutskepping vir ‘n “cheat meal”. Ek dink ek gaan wag vir daai kulsmul vir my 2 seuntjies se gesamentlike partytjie op die 11 Mei by Crazy Kids in Randburg. Die dokter waarsku jou egter dat die kulgesmul dalk nie so lekker gaan wees soos wat ek dit in my kop uitmaak nie. As jou liggaam eers aangepas is daarsonder (en glo my hy is!) is dit amper moeilik om hom weer daaraan bloot te stel! En ek hoor al my engele sing saam met my: “HALLELUJA!!”

Ek het gisteraand vir my ‘n heerlike “pulses” sop gemaak… onthou julle daai outjie? Lekker bone, lensies en nog witter bone en nog rooier lensies saam met rooi kool, witkool, wortels, tamaties, spinasie, sampioene, en nóg wortels. Ek het hom sopas geëet en ek belowe julle, dit voel GLAD nie of ek dieet nie!! As jy meer wil weet, e-pos my by style@alette-johanniwinckler.com

Maar dis nie die einde van my reis nie…wel van my rys! 5.1 down, 11.8 to go… WATCH THIS SPACE!!

* Lees nóg blogs deur Aletté-Johanni.