alette_johanni
SARIE-blogs

Aletté-Johanni Winckler swangerskap-blog: “Ek is 6.9kg voor”

Simeon Carl Winckler is GROOT. Groter as die normale 18 week oue fetus en die dokter se R920 000 sonar masjien het dit bevestig. Simeon is glo al 21 weke en 4 dae…ha ha ha! Dit moet die Pierre Spies gene aan my ma se kant wees. Toe ek egter by die huis kom en die nuus met ons huishulp deel sê sy, (op ʼn baie nonchalante manier) sonder om op te kyk:  “His big, like his mother off course?”

18 weke

Na amper 2 jaar saam met Yvonne weet ek steeds nie of ek dit met ʼn knippie sout moet vat of nie? (As dit kom by haar knippies sout in ons kos twyfel ek nog meer…)

Die ander goeie, briljante, uitmuntende nuus wat my dokter aan my verskaf het, is dat Lisa se pilates werk! En Trinette se dieet werk (of wel, sou gewerk het as ek dit gevolg het). Lang storie kort, na menige sommetjies op my sakrekenaar: in verhouding met my laaste swangerskap is ek tans 6.9 kg voor, of eerder 6.9kg agter! Dit maak my baie opgewonde. Ek weet die Desember vakansie in Bettiesbaai lê nog voor, en ek weet daar is nog ʼn paar maande van hierdie reis oor, maar die voorsprong gee my hoop. En die feit dat Betties se ongelooflike Deli toegemaak het, is my ook ʼn riem onder die hart. Dit gaan my ten minste 2 kg  en ʼn paar 100 Rand spaar hierdie opkomende Desember vakansie.

Simeon het my ook hierdie week vir die eerste keer van sy beweeglike teenwoordigheid laat weet.  En behalwe vir die vlinders in my maag, gee dit my ook vlinders in my hart. Daar is darem maar net amper NIKS wat kom by die gevoel om jou babatjie binne jou te voel nie. Lian, aan die ander kant was *&^*%^% (wrintiewaar) weer siek! ʼn Hele week van hoes soos ʼn hondjie, ʼn neus wat met hom wil weg loop en bittermin kos. Dit is die resultaat van die bloedige hitte en lugverkoelings, of kleutertjies wat heeldag met water wil speel. Lian het weer vir mamma aangesteek en nou moet arme Simeon suffer van die shakes as sy mamma aan’t hoeste gaan. The circle of life?

Maar ai mamma…die woordjies wat nou kopuitsteek en die dingetjies wat nou gedoen word in hierdie huis maak hierdie mamma baie opgewonde om nog ʼn blou oog, blonde krulkop seuntjie te hê. Of natuurlik ʼn bruinoog, donkerkoppie ook… alhoewel die kanse daarvoor seker skraal is…xx

  • Tania

    Die foto van jou maag is pragtig! ‘n Swanger vrou is een van die mooiste goed wat daar is. Ek is mal daaroor as vrouens trots is op hulle swangerskap en groeiende maag. Ek is mal oor jou blogs. Geseënde week!

  • Paula Vorster

    Baie geluk met die koms van jul 2de seuntjie. Dit is voorwaar ‘n geskenk van God. Jou magie lyk pragtig! Kyk mooi na jouself die laaste paar maandjies wat voorle! Groete :)

  • Marianne

    pragtig, baie geluk

  • Adele

    Jou magie lyk pragtig! Dra hom met trots :-) Sterkte vir die laaste paar maande! En geniet Bettiesbaai (al het ongelooflike Deli toe gemaak) :-) Jy lyk pragtig!