SARIE-blogs

Aletté-Johanni Winckler: “Vier keer op een dag hospitaal toe”

Verlede week Dinsdag begin Lian nie lekker lyk, en voel nie. ʼn Koors tart sy kleine lyfie en ek sien sy eetlus is nie sy normale (groot) self nie. Teen Woensdag moet ek al my afsprake kanselleer want hierdie mannetjie is duidelik nie sy uiterse sosiale self nie. Hy wil net op sy mamma se skoot lê.

Woensdagmiddag het ons egter ʼn nuwe vlak van vrou-wees en ma-wees bereik, Pappa-beer moes (noodgedwonge) hospitaal toe vir ʼn operasie in sy mond. (Kulula se biltong het nie geakkordeer met sy wortelkanaal wat nooit gekroon was nie…) Sy agterste tand was middeldeur gebreek en ʼn Mond-en-Kaak-chirurg moes hom bykom, die tand verwyder en ʼn inplantaat installeer.

Mamma-beer los vir baba-beer vir 15 minute by die huis om pappa af te laai. 3 ure later is Lian wakker en volgens my tydskedule moes pappa sekerlik ook reeds wees, en aangesien ek nie ʼn eine-kleine baba alleen by die huis kan los nie is ek en kleinboet (weer) hospitaal toe om seker te maak pappa is lewendig.

Daar aangekom is ons teleurgesteld om te verneem dat hy toe eers in die teater gestoot is en eers 2 ure later of so weer by sou wees.  Terwyl ek toe nou in die hospitaal is, pop ek sommer gou in by apteek om my koorsmedisyne-versameling aan te vul. Ek kan sien Lian gaan nie lank hou nie en ons is vining-vining weer terug huis toe. Badtyd was ʼn monster, want kleintjie is semi-histeries en werk homself so op dat verstik in sy eie trane en later allerhande dinge OP my doen wat ek nie op skrif sal sit nie. Ek kry hom net so gou as moontlik aangetrek en rustig gemaak en gee vir hom sy bottie (sy enigste vorm van voedsel in hierdie stadium) en toe ek uiteindelik by my foon kom, sien ek die hospitaal het laat weet dat pappa gereed is ready for collection .

Yvonne moet gou luister na die monitor terwyl ek verdwyn vir die 3de keer hospitaal toe. Pappa is dikbek (letterlik) en ek sien sommer die figuurlike weergawe daarvan sluip ook stadig maar seker nader. Sy mond is woes gerek en lyk baie seer. Weer apteek toe.

By die huis aangekom is dit so lekker om skoene uit te skop en na ʼn lang dag van net gee en gee, net bietjie te ontspan en tee in te neem. Maar toe die klok 21:30 slaan begin daai Angel Care monitortjie se desibels skree en ek wonder vir ʼn oomblik waar die masjien sy naam vandaan kry…Lian is H I S T E R I E S. Tel jy hom op skree hy, sit jy hom neer skree hy, hou jy hom vas skree hy, los jy hom uit skree hy en vir die eerste keer in 17 maande kan ek maar op my kop staan, my kind wil nie kalmeer nie.

Na ʼn uur stel ek voor dat ons met hom moet gaan ry in die kar, want (GEWOONLIK) het dit mos ʼn rustige uitwerking op die Angels. Nee wat, nie hierdie keer nie, daai mannetjie verloor dit heeltemal, en ek moedig Pappa aan om sommer uit die staanspoor sy pad terug te vind hospitaal toe (vir die 4de keer dié dag) sodat iemand met ʼn beter kwalifikasie as ons vir ons kan vertel wat aangaan.  Daar aangekom voel dit soos Moses wat die Rooi See se waters verdeel soos almal uit die pad staan vir hierdie skreeuende kind. En blykbaar kry sulke babas voorkeur want daar was mense lank voor ons daar maar maak nie saak of daai ou met ʼn mes in sy knieg gesit het nie, almal maak plek dat die kind net kan ophou skree. Diagnose: Virus, en sy keel is rou en rooi en baie-baie seer.

WEER APTEEK TOE. In hierdie stadium is ek en daai aptekers op voornaam basis, en vir die 3de keer daai dag (23:30) staan ek voor hulle toonbank, (kaalvoet en swanger) met die hoop dat hulle vir my ʼn wondermiddel gaan gee.

Die res van aand was salig(er), maar die res van die week was nog moeilik. (Pappa is ook nie die maklikste pasiënt onder die son nie…) Eers teen Sondag was Lian weer 100% homself en kon ek hom weer aan sy pappies en lekker eiertjie voorstel. Ek kon nie glo hoe baie ek die gesonde Lian gemis het nie, en ek kon werklik simpatie kry met ouers wat sukkel met siek kinders.

Ek kan maar net nou al vir die Here vra dat ek nie (WEER) met twee siek kinders in die huis moet sit nie…want Hy weet, dit is nie ʼn grap nie…

  • Liezl

    Ai arme jy!, klink omtrent of dit n rowwe tyd was!! Maar dit gaan mAr partykeer so! Ek geniet jou skrywes baie! Sterkte!

  • Corné

    Ja nee kyk dis nie kinder speletjies nie! Dit voel altyd of mens die enigste ma is wat moet sukkel met siek kinders maar eintlik is daar baie mammas daar buite wat soos ek en jy voel. Baie sterkte en hoop alles gaan nou net beter gaan in die Winckler huis. Kan nie wag vir die volgende skrywe nie! Geniet dit vreeslik baie!

  • Maritza

    WOW ek haal my hoed vir jou af. Het self al stelle stelle trappe afgetrap met my kleintjie, maar as hulle op hulle beste is vergeet jy van al daai nare dingetjies wat gebeur het. Sterkte met die res van jou swangerskapen daai pragkindjie 🙂