SARIE-blogs

Aletté Winckler: “Die dae raak min!”

Toe ons (moeg) van ons Desember-vakansie af teruggekom het, het ek al vir Heinz gesê ek dink ons moet net voor Simeon kom vir ‘n paar dae na die Suidkus gaan. Wel, die Noorde van die Suidkus. Daar waar mens actually in die see kan swem en waarheen ons met die kar kan ry, want geen lugredery laat hierdie pens aan boord nie. Dit sou ons eerste vakansie wees waar dit nét ons drietjies, sonder ‘n ouma of oupa (om te help), is. Maar ook ons laaste vakansie van net ons drietjies voor boeta sy opwagting maak. In my geestesoog sien ek hoe ons 3 baljaar op die strand. Sandkastele word gebou en roomyse word genuttig. Ons kan ure langs die strand stap en saam met Lian in die getyswembad swem. Al hierdie gedagtes maak my sommer warm en geliefd voel. Gelukkig vir ons sing my aantreklike man ‘n pragtige duet saam met die dogter van die eienaar van ‘n lieflike huis letterlik óp Ballito se strand en was die Berg(s)of Berg(e) so gasvry om hulle huis vir ons vir ‘n paar daggies te leen.

Beplande datums: Sondag die 4de tot Donderdag die 8ste Maart. Vrydagoggend moet Heinz terug wees om by ‘n skool op te tree, maar alle ander verpligtinge word rondom hierdie week gereël. Intussen kuier my ouers by ons want dié het onlangs afgetree en is in die proses om te trek vanaf Kimberley na Parys (Jippie! Dis baie nader!) maar moet wag tot einde Maart om okkupasie van die huis oor te neem, en so is ons ONE BIG HAPPY FAMILY!

Vrydagaand die 2de sit ek (toevallig) en kyk die nuus saam met Moeder en Vader (ek is nie ‘n gereelde SABC-nuuskyker nie), en soos die noodlot dit bestem word ek met ‘n skok bewus gemaak van sikloon Irina (of so iets) wat Sondag die 4de MAART die “NOORDKUS VAN DIE SUIDKUS” gaan tref en mense word aanbeveel om skuiling te vind en ek weet nie waste bangmaak -torietjies nóg nie! Skielik is my spookasem-drome saam met my sandkasteel-lugkastele by die ruit uit en wil ek amper uitbars in trane. Hulle verwag reën tot Woensdag en dan moet ons Donderdag weer ry?

No way, José! Ek het te lank in my gedagtes hierdie wekie haarfyn beplan. Hier gaan iets gedoen moet word en ons maak ‘n paar oproepe, skuif ‘n paar afsprake, ruil 2 weke om en besluit om eerder een week later te gaan.

Om optimale tyd weg te kry stel ek aan Heinz voor dat ons sommer die Sondagaand ná die Ghoema-toekennings die pad vat want dan kan Lian lekker slapies en dan kan ons van Maandagoggend af op die strand lê. Die tye wat deurgegee is vir die toekennings is 17:00-19:30, as ons dus om 20:00 kan ry is ons in die vroeë oggendure daar. Toe my (baie skerp) pa van die voorstel hoor vra hy: “Julle wil na die watse toekennings ry?”
“Die Ghoemas, Pappa.”
“Ek wou nou net sê want as julle na die Zumas wou ry sou julle eers die Maandag weggekom het!”

Na ‘n bedrywige naweek word daar besluit ons vertrek die Maandag oggend so vroeg as moontlik, want ons het toe wel eers na 22:00 die aand van die Ghoemas afgekom…

Ons vat die toe uiteindelik die pad en Lian kyk die een Lollos op die ander, daarna volg Noddy en Barney en Bob the Builder, en as daai lyfie moeg is stop ons vir ‘n breek en hardloop bietjie rond. My 34-weke swanger lyf is uiters ongemaklik en in baie pyn, maar ek kners op my tande want hierdie vakansie sál ons geniet! Uiteindelik kom ons by ons bestemming aan teen Maandagaand. Lian is hiperaktief en wil glad nie in sy eie kamer slaap nie. Ons 2 grotes is gewoond aan ‘n kingsize bed en pas nie met al my kussings op die die dubbelbed nie. So, Mamma (uit eie keuse) en Lian slaap op matrasse op die grond en pappa kan wydsbeen op die bed lê.

Die nag is absolute hel! Lian raak siek (blykbaar weens die lugdruk en humiditeitsverskil) en ons is elke paar minute op. Ons droomvakansie draai uit op ‘n vakansie waar almal kwaad is vir almal as gevolg van niks slaap, ‘n baie siek kind, baie ongemak en dit ten spyte van die mooiste ooiste weer. Ons paar minute op die strand was darem feestelik en ons kon darem ‘n blik kry in hoe toekomstige vakansies dalk mag wees. Ek gaan nie eers praat oor die ellelange rit terug nie, maar ons was werklik dankbaar om weer teen Donderdagnag ons koppe op ons eie kussings neer te lê.

Simeon 34 weke Maandag was my 35-week-ondersoek. (My skaal se batterye is eintlik pap so ek weet nie {glo nie} my lesing was korrek teen Maandagoggend nie, maar ek het daarvan gehou en daarmee gegaan) 1.1kg op in 3 weke… dus staan ons op 35.3 weke en 15.1 kg later… Tot my skok sou ek later daarvan bewus gemaak word dat my babatjie in die 3 weke 1.2 kg opgetel het en teen 35.3 weke ‘n volle 3.72kg weeg! Die dokter kyk my met groot oë aan. Die sonarmasjien se lesing skree uit dat dié babatjie wat noú ge-scan word al 41 weke oud is dat sy verwagte geboortedatum sommer volgende Vrydag is… Nou julle verstaan nie: volgende Vrydag is Pappa op pad KKNK toe en vir ‘n week nie by die huis nie! Die dokter sê darem Simeon sit nog hoog maar vermoed hierdie klein Spiesie gaan ‘n lekker 4.6/4.7kg baba wees. (Pierre Spies se eie babatjie was nie eens so groot nie.)

Vandag is ek 36 weke en Heinz sê ek is reeds so groot soos wat ek met Lian was toe ek in kraam ingegaan het, so spannetjie DIS HOE DIT IS MET Aletté-Johanni Winckler! Ek sukkel om te loop, te praat, te slaap, te sit, te enige iets, maar Simeon se kamer is, met baie hulp van oupa en ouma de Klerk, darem gereed en kan die mannetjie rerig enige tyd ná KKNK sy opwagting maak…ons sal maar sien.

Die tyd loop uit en die daggies raak min en ek weet nie lekker of ek moet wens dat hy nog bietjie moet broei nie en of ek reg is vir mannetjie om ons alreeds bo-gemiddelde-crazy huishouding te join nie. Ek sal julle op hoogte hou… Dalk sit ek en tik vir julle ‘n ou briefietjie met kontraksies so 4 minute uit mekaar uit, of dalk is die volgende foto wat julle sien die een van klein Simeon Carl Winckler… of soos Lian sal sê: “Shimi!”

Tot volgende keer…

A

  • Suzette Botes Mazola

    Dit is ‘n pragtige beskrywing van julle vakansie wat toe nie so goed verloop het nie!! Ek het lekker gelag, teruggedink aan ons kinders toe hulle klein was en die vakansie & verblyf nie uitgewerk of gelyk het soos ons gedink het dit sou wees nie! Baie sterkte vir die laaste paar dae voor klein Simeon se koms! O wee, my Ginekoloog het gese ons dogter gaan baie kleiner wees as wat haar 2 boeties was!!! O nee, toe was sy ‘n groter baba : 4.265kg!!! Gelukkig ‘n keisersnit gewees!!

  • Adele van Zyl

    Ek wag elke week of so te se elke keer in spanning vir jou heerlike stories Aletta! Jy sien, ek is nou 35 wke swanger met my 2e, wat n seuntjie is en my dogtertjie is 16 maande. Ek sweer ons stories so met die verloop vd swangerskap is so amper half dieselfde elke keer en ek lag te lekker en skud my kop en stem saam en ja en amen elke keer, dis wonderlik!! Ek is net so seer en ongemaklik en boetie se groei is ook 2 weke voor en ek dra swaar en hy gaan waarskynklik, soos dit lyk ook hier by 4kg draai. Swaar dra … Ook dieselfde gese, moet hy nog so bietjie broei of kan hy maar kom? Mamma is reg, of so hoop ek want di lyf kan ni meer ni. En tussen dit als di week sit sussie met masels en mamma met n erge blaas infeksie so dit gaan voor di wind!! Die gewigs-storie is ook interresant, ek het 21kg met sussie opgetel (kan jy dit oorvertel?!) en sover met boetie net 9kg! Ek kon darem amper al die vorige gewig afgeskud het, was so oor di 1kg weg toe ek uitvind ek is weer swanger, maar ek se jou di keer is dit oor ek so rond hardloop en baie bedrywig is met sussie. Op di stadium waggel ek en als is effort! Maar ek wou net se dis wonderlik om jou reis te ‘deel’ en dankie dat jy my dag elke keer maak as ek jou artikel lees! Sterkte vir jou laaste tydjie, dis ni meer lank ni en 1 vd dae hou jy boetie vas, daardie heerlike klein lyfie en dan begin als weer v voor af vi ons, v slapelose nagte, hoor seuntjies piepie jou nat, di ‘burping’ ens ens. Maar ni te min, sien vreeslik uit om te sien hoe Simeon gaan lyk want sy mamma dra en lyk pragtig!! Mooi bly xx

  • Sue

    Jy lyk so mooi, Alette. Move over, Kourtney K. Klein Lian is pragtig!

  • Helene-Mari Rossouw

    Soos altyd het hierdie blog my dag gemaak! Jy is ‘n baie talentvolle mamma! Love die manier hoe jy skryf! Sterkte vir die laaste paar weekies! Jy lyk beautiful!