edwin van der walt
Eie stories

Edwin aan Amalia Uys: “Dís wat jy my geleer het”

Dis lankal tyd dat ons ’n man op ons geliefde kuierplek toelaat, een wat oorloop van energie en talent, en een wat, nes ons, met bekendes oor hul lewe en hul pad vorentoe praat en hul inspirasie deel …

Ontmoet ons nuwe blogger Edwin van der Walt hier. Vandeesweek gesels hy met Suid-Afrika se geliefde rooikop, Amalia Uys:

Amalia Uys, jy het my verander.

As ’n jong seun het ek 7de Laan gekyk en soms gedink die karakter en die akteur is dieselfde mens. Tannie Hilda was ‘n regte mens, wat dadelvingers bak en serpies dra. Terloops, as jy, tannie Hilda, hierdie lees, e-pos asseblief jou bekende dadelvinger-resep na rockwhatyougot1@gmail.com.

Net so het ek gedink die aktrise Amalia Uys is nes haar 7de Laan-karakter San-Mari. Ek het vir Amalia egter leer ken op die stel van die fliek Jagveld, en daar in die middel van die Karoo het ek besef: Amalia en San-Mari verskil hemelsbreed. Amalia is ’n ongelooflike mens, wie se lag en energie aansteeklik is.

Edwin en Amalia deel ‘n oomblik tydens die opname van sy podcast

Ek het een middag by haar woonstel in Kaapstad gestop. Dit was ’n beeldskone dag in die Kaap, die wind het selfs nie gewaai nie. Vir meer as ’n uur lank het ons gesels oor wel, mens kan seker sê, oor alles. Die moeilike tye, die hartseer tye, die suksesvolle tye en dan ook die lag-uit-jou-maag-tye.

Episode 10 van @rock.what.you.got word dié week vrygestel met die beeldskone @amaliauys | #RWYG

A post shared by Edwinvdwalt (@edwinvdwalt) on

Ek het nie verwag Amalia gaan my só inspireer en uitdaag nie. Beeldskoon, sag, sterk, kwesbaar, intelligent, eerlik en baie wys.

Wat het ek geleer?

1. Wees oop vir die idee dat mense nie altyd is wie ons dink hulle is nie. Ek gaan van nou af mense sonder vooropgestelde idees leer ken, en hopelik sal mense dan nie bang wees om hulself voor my te wees nie.

2. Ons moet mekaar herinner ons is WERKLIK uniek. Ons moet die tyd vat en moeite doen om te sê hoekom ons mekaar waardeer.

3. Ons moet méér bereid wees om kwesbaar en eerlik te wees. Ons moet méér met mekaar gesels. Nie net gesels oor oppervlakkige dinge in die lewe nie, maar ook oor hoe ons voel, hoekom ons so voel en hoe ons graag wil voel.

4. Om mekaar werklik lief te hê, moet ons meer dié tipe gesprekke begin hê.

Luister vir Amalia:

Op 23:00 praat Amalia oor ’n aanmerking wat ’n seun, op skool, oor haar gemaak het. ’n Aanmerking wat lank by haar gebly het. En by 56:30 vertel sy ’n storie wat ek regtig gedink het net in flieks gebeur …

Na dié episode gaan jy wegstap met ’n nuwe energie. Jy gaan opgewonde raak oor uitdagings en nie meer bang wees nie. Jy gaan besef dat iets so eenvoudig soos asemhaal jou lewe kan verander. Jy gaan ook besef dat elkeen van ons nie ’n maklike pad stap nie, maar daar sal ALTYD hoop wees.

Luister. Gesels. Versprei.

Laat my weet wat jy dink van hierdie episode.

As jy ’n inspirerende storie het om te vertel of iemand ken met só storie, stuur ’n e-pos na rockwhatyougot1@gmail.com. Ons wil hierdie stories deel op ons webtuiste www.rockwhatyougot.co.za en sosiale media.

Hier’s ’n aanhaling uit ’n boek, wat ek tans lees, The Book of Joy deur die 14de Dalai Lama, Desmond Tutu en Douglas Carlton Abrams:

“I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it. I felt fear more times than I can remember, but I hid it, a mask of boldness. The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear.” – Aardsbiskop Desmond Tutu

Doen waarvoor jy lief is en gebruik jou talent.

En onthou … Rock What You Got!!!

Lees nou

Kyk wie is ons nuwe blogger!