FOTO: Phyllis Green

SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Alkoholmisbruik

Sielkundige Louis Awerbuck beantwoord die moeilike vrae oor alkoholmisbruik …

LISE: Hierdie week in ons RSG- (Radio Sonder Grense) episode (Dinsdagaand 23:05), bespreek ons alkohol misbruik – ‘n geweldige probleem in Suid-Afrika. Ons ontmoet vir Herman (skuilnaam). Hy is 65 jaar oud en het letterlik sy hele volwasse lewe gedrink. Hy is nou vir 5 jaar “skoon” en vertel hoe dit sy lewe verander het.

Alkoholmisbruik het daagliks ‘n effek op miljoene mense se lewens, ons ekonomie, misdaadsyfers en huwelike. Skokkende feite wys dat 46% van mense in Suid-Afrika wat sterf as gevolg van onnatuurlike oorsake ‘n verhoogde bloedalkoholvlak het.  So ook met 39% van alle pasïente wat toegelaat word by Hoësorgeenhede (ICU)!

Tog voel dit my mense is nie heeltemal seker WANNEER iemand geklasifiseer kan word kan as ‘n alkoholis nie. So, Louis, ek dink jy moet heel eerste verduidelik wanneer is iemand ‘n alkoholis?

LOUIS: Jy kan iemand klassifiseer as ‘n alkoholis wanneer daar ‘n konstante effek op een of albei van die volgende twee areas is:

  • Fisies: Waar mens se liggaam letterlik verslaaf raak as gevolg van gereelde gebruik. Die toets hier is of die persoon vir lang tydperke sonder alkohol kan klaarkom, en/of hy/sy fisiese onttrekkingsimptome kry as daar nie alkohol ingeneem word nie.
  • Sosiaal/Persoonlik: Waar gereelde gebruik veroorsaak dat die persoon in die moeilikheid kom, dit sy/haar werk negatief beïnvloed word, probleme met die gesin/familie veroorsaak, of waar dit teneergedrukte gemoed veroorsaak by die persoon. Hieronder kom ook “gulsige drink” (“binge drinking”) voor, waar ‘n persoon vir lank geen behoefte aan alkohol het nie, maar as hy/sy per geleentheid alkohol gebruik, so veel en aanhoudend as moontlik drink.
[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA: Wat sou jy sê is die hoofrede waarom mense alkoholiste word?

LOUIS ANTWOORD:  Mense vergeet dat alkohol ‘n dwelmmiddel is. Dit is wel sosiaal aanvaarbaar, en deel van ons samelewing, maar dit bly ‘n dwelmmiddel – net soos kokaïen, nikotien, “tik”, ensovoorts.  Daarmee word nie bedoel dat alkohol heeltemal ontoelaatbaar moet wees nie, maar mens moet nie vergeet dat dit ‘n dwelmmiddel is wat fisies verslawend is nie.  Studies wys dat geneigdheid tot verslawing in ‘n groot mate deur genetika oorgeërf kan word. Omdat alkohol dus so maklik verkry kan word, is die kanse dat mense daaraan verslaaf kan word baie groot. Dit is ook ‘n maklike ontvlugting vir mense wat erge vorme van stres ervaar (omdat dit ‘n dwelmmiddel is), en mense begin dan geleidelik al hoe meer alkohol nodig kry om dieselfde “ontspannenede” effek te ervaar.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE: Hoekom kom mense wat aan alkohol verslaaf is gewoonlik so selfsugtig voor?

LOUIS: Feitlik alle mense wat erg verslaaf aan ‘n dwelmmiddel is, tree gewoonlik oor die algemeen selfsugtig op. Dink bv. aan mense wat familielede se besittings beroof en verkoop om die dwelm in die hande te kry. Ek sê weer: alkohol is ‘n dwelmmiddel soos enige ander dwelm.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA: Waar kan iemand vir hulp gaan?  En wat kan die mense wat saam met ‘n alkoholis woon, doen, want dit is net so moeilik vir hulle?

LOUIS: Rehabilitasie die antwoord.  Dit kan af en toe by die huis gebeur, waar iemand met ondersteuning heeltemal ophou alkohol gebruik, maar om self te probeer werk selde. Meestal werk rehabilitasie die beste in ‘n kliniek, wat privaat of Staatsondersteun kan wees. Gewoonlik is dit beter vir mense oor 40 om dan vir die res van hulle lewe nie weer enige alkohol te gebruik nie, aangesien die neurologiese patrone al so vasgelê is dat een drankie na 10 jaar die persoon weer kan “aktiveer” om konstant alkohol nodig te hê.

Dit is baie moeilik vir lede van ‘n gesin of familie wat saam met iemand woon wat sukkel met alkoholmisbruik. Dit het gewoonlik ‘n negatiewe effek op verhoudings, en kan maklik ‘n afdraende pad veroorsaak.  Dit is natuurlik beter om met liefde en ondersteuning ‘n persoon bewus te maak van sy/haar gedrag, maar gewoonlik word dit aanvanklik ontken. Sonder om die persoon te veroordeel werk dit gewoonlik beter as almal (gesinslede, vriende, familie, ens) saamwerk en op ‘n vriendelike maar ferm manier met die persoon praat.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA: Hoe kan mens ‘n persoon oortuig om vir hulp te gaan?

LOUIS ANTWOORD: Dit is gewoonlik nie maklik nie, maar as mooipraat en toepaslike, ondersteunende gesels nie gewerk het nie, moet mens begin met ligte ultimatums.  Iets soos: “Ek kan nie vir jou voorskryf wat om te doen  nie, maar as dit so aanhou gaan ek liewer uit die kamer uit trek” én dan daarby hou. Mens kan niemand dwing om te drink of nie te drink nie, maar jy kan beheer oor wat jy self kan doen en wat jou grense is. Bied daarmee saam jou absolute ondersteuning en egte hulp aan as hy/sy dan bereid is om te probeer.

louis_en_lise_1_310w_630w

[box:full:red:both]

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?

[/box]