louis_en_lise_1
SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: As jou kind geboelie word

LOUIS ANTWOORD: Nee, dit is baie ernstig, en selfs ernstiger as wat ‘n mens besef.  Die jongste navorsing toon dat kinders tussen Graad 4 en Graad 6 die hoogste boeliesyfer ter wêreld het, en dat die lae slaagsyfer direk daarmee te doen het.  Ander grade het ook ontstellende hoë syfers.

LISE VRA: Maar kinders is tog oor die algemeen spelerig en terg mekaar gereeld. Wanneer is dit boelie, en wanneer nie?

LOUIS: Jy is heeltemal reg: ‘n mens hoef nie elke insident of ‘n rowwe spelery tussen kinders as “boelie” te beskou nie. Boelie is waar die kind in ‘n swakker posisie as die ander kind of kinders is (fisies kleiner, pas nie sosiaal in nie, ens.) en nie vrywillig deelneem aan die gedrag nie. Hy/sy is met ander woorde hulpeloos en wil nie deel wees daarvan nie.  Dit moet ook gedrag wees wat oor ‘n tydperk herhaal word, sodat dit ‘n voortslepende probleem is.

LISE: Hoe kan ouers agterkom hulle kind word geboelie?
LOUIS: Kinders wat gereeld geboelie word, al is dit op ‘n jong ouderdom, ontwikkel gewoonlik ‘n vorm van depressie. Die tekens kan wees dat die kind minder met maats wil speel of kuier, hom/haar van die familie onttrek, oormatig slaap en verskonings uitdink om skool te vermy. Fisiese klagtes, soos hoofpyne en maagprobleme, kan ook sonder enige mediese oorsaak voorkom.

LISE VRA: Moet ouers inmeng, of sal dit self weggaan? Wat kan hulle doen?
LOUIS: Dit hang baie van die kind se ouderdom af. As ‘n kind onder die ouderdom van 12 geboelie word, kan ‘n mens nie van hom verwag om homself te beskerm nie. Dit is die ouers en onderwysers se taak. Goeie kommunikasie met jou kind en die aanleer van lewensvaardighede op ‘n jong ouderdom is natuurlik baie belangrik.

Met tieners raak dit moeiliker, want hulle skram gewoonlik weg van kommunikasie met hul ouers. Die ouers se inmenging in hulle probleme is ook vir hulle ‘n verleentheid. In hierdie geval moet ‘n mens mooi oor die situasie nadink. As dit net een kind is wat jou tiener boelie, kan jy hom dalk oorreed om saam met jou aan ‘n oplossing te dink. Dit sal terselfdertyd vir hom ‘n lewensles wees.

Maar as jou tiener fisies deur ‘n groep kinders bedreig word of hy word deur ‘n onderwyser geboelie, is dit jou reg en plig om in te gryp. My raad aan ouers is om die skool en moontlik ander betrokke ouers bymekaar te kry vir ‘n gesprek sodat almal saam aan ‘n oplossing kan werk.

Geen ouer behoort terug te staan en toe te laat hulle kind, ongeag sy ouderdom, geboelie word nie.

* Louis Awerbuck antwoord elke Dinsdag tussen 1 nm en 2 nm jul vrae persoonlik op SARIE se Facebookblad.

* Vind die uitsaaitye van hul radioprogram op die Wie is ek? – met Louis & Lise blad op Facebook.

* Lees ook die vorige artikel hier.

  • malanie phyfer

    My graad 12dogter se Engelse juffrou het Donderdag gemaak asof sy nie weet waar my dogter se selfoon is nie. My kind was in ‘n toestand die res van die dag want dis ‘n splinternuwe foon en ons het nie versekering daarop nie. Tydens die heel laaste periode het sy haar foon vir haar teruggebring in ‘n papiertjie toegedraai met die woord Weirdo daarop geskryf. Ek is sooo kwaad dat sy my kind die hele dag in ‘n toestand gehad het willens en wetens en ons is seker sy het haar boodskappe ens ook gelees. Wat staan my te doen. Malanie Phyfer