img_7028
SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Hoe oorkom ek ‘n fobie?

LOUIS: ‘n Fobie is gewoonlik onlogies, en die persoon wat daaraan ly is bewus dat dit onlogies is.  Fobie is dus ‘n toestand wat gediagnoseer kan word. Vrees is gewoonlik gekoppel aan iets, soos ‘n insident (bv. as ‘n hond jou gebyt het en jy is nou bang vir honde), of iets realisties (soos ‘n virusepidemie in jou omgewing).

Fobie is deel van angsversteurings en kom gewoonlik voor as ‘n aanhoudende vrees vir ‘n objek of situasie. Die persoon wat daaraan ly, sal tot die uiterste gaan om dit te vermy. Om diagnoseerbaar te wees, moet daar ‘n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende vrees wees wat geaktiveer word deur ‘n spesifieke objek of situasie (bv. vlieg, diere, inspuiting). Blootstelling aan hierdie situasie of objek veroorsaak onmiddellike angs wat fisiek waarneembaar is (bv. huil, paniekaanval). Die vrees is gewoonlik ook onrealisties en die mens wat die vrees ervaar, sien dit heeltemal in. Maar as die fobie-lyer nie daarin slaag om die situasie of objek (bv. ‘n spinnekop of vergadering) te vermy nie, veroorsaak dit intense ongemak of angs en sukkel hy/sy om die aktiwiteit waarmee hy/sy besig is, te voltooi. Fobies word in die algemeen in drie kategorieë verdeel:

  • Sosiale fobie: Vrees vir ander mense of sosiale situasies, bv. selfbewustheid in ander mense se teenwoordigheid, of vermyding van openbare situasies en sosiale omgang met ander.
  • Spesifieke fobie: Vrees vir ‘n spesifieke iets, bv. spinnekoppe, hoogtes, slange, noutes, ens. Die meeste mense ervaar ‘n mate hiervan, maar dié met ’n volledige fobie sal enigiets doen om hierdie voorwerpe of situasies te vermy.
  • Agorafobie: ‘n Algemene vrees om ‘n mens se huis of ‘n spesifiek “veilige” area te verlaat, met moontlike paniekaanvalle wat daarop kan volg. Hierdie angs kan ook aangevuur word deur spesifieke fobies, soos vrees vir kieme, openbare winkelsentrums, ens.

Fobies begin in die algemeen tydens die tienerjare, veral vanaf die ouderdom van 13. Na raming ly  sowat 8% van alle volwassenes aan die een of ander fobie.

LISE VRA: Is dit belangrik om dit te oorkom?

LOUIS ANTWOORD: Ek glo dit hang af van die mate waarin die fobie inmeng met jou algemene funksionering. Ek het byvoorbeeld ‘n fobie vir krappe. Maar dit pla my nie regtig nie, omdat ek nie gereeld naby damme of riviere kom nie. Ek kan dus gemaklik funksioneer sonder dat my fobie my lewe nadelig beïnvloed. Maar as jy bv. ‘n vlieënier is en jy het ‘n fobie vir hoogtes, is dit ‘n ander saak.

LISE VRA: Hoe kan ‘n fobie oorkom word?

LOUIS ANTWOORD: Die maklikste is om saam met ‘n professionele persoon te werk, bv. ‘n kliniese sielkundige. Die suksessyfer in hierdie gevalle is gewoonlik hoog. Jy kan jouself ook sistematies aan ‘n fobie blootstel en terselfdertyd jou liggaam “leer” om te ontspan. As jy bv. ‘n fobie vir slange het, kan jy begin deur na ‘n piepklein swart-en-wit foto van ‘n slang te kyk en dan “oefen” om jou liggaam te ontspan terwyl jy dit doen. Indien jy dit regkry, beweeg jy geleidelik aan na ‘n groter foto, gevolg deur ‘n kleurfoto, dan ‘n video, ensovoorts. Uiteindelik behoort jy daarin te slaag om naby ‘n slanghok te kom sonder om angstig te voel.

Daar is, vreemd genoeg, ook ‘n ander, byna teenoorgestelde metode wat goeie vrugte afwerp. Dit word “oorvloeiing” (“flooding”) genoem. Dit impliseer dat jy jouself dwing om in ‘n paar (nie-giftige) slange se hok te gaan sit totdat jou spanning verdwyn. Maar dit is vir die dapperes, en ek is beslis nie een van hulle nie!

Die goeie nuus is dat ‘n fobie nie noodwendig jou lewe hoef te beïnvloed nie. Indien dit wel ‘n uitwerking op jou lewe het, is dit heeltemal moontlik om dit te oorkom.

Louis en Lise

Foto: Louis & Lise

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?