img_6395
SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Hoe hanteer jy ‘n egskeiding?

LOUIS: Dit lyk asof daar ‘n hele paar faktore is wat hiertoe bydra:

  • Mense verstedelik al hoe meer. In groter dorpe en stede is dit makliker om te skei, aangesien mens maklik kan “wegkruip” tussen al die geboue en mense, en almal nie altyd daarvan weet nie
  • Vroue het ook baie meer finansïele sekuriteit as in vroeëre jare, wat dit makliker maak om uit te stap uit huwelike waar daar byvoorbeeld mishandeling voorkom
  • Mense se waardes en opvattings verander ook met die tyd soos die samelewing se waardes verander.  Die huwelik word nie noodwendig meer as “heilig”, of  “onaantasbaar” gesien nie, en gevolglik werk mense nie meer so hard om dit te laat werk nie
  • Die toenemende voorkoms van pare wat beide inkomste verdien, maar nie kinders het nie.  Hulle word dus nie teruggehou van ‘n egskeiding weens die vrees van die impak op kinders nie
  • Die stres van die moderne lewe, met langer werksure en groter verwagtinge  Geslagsrolle verander ook vinnig, en beide mans en vrouens vind dit moeilik om aan te pas

LISE VRA: Al is egskeiding wetlik maklik in Suid-Afrika, bly dit tog ‘n moeilike en verantwoordelike keuse.  Hoe kan mens seker maak dit is die enigste opsie?

LOUIS ANTWOORD:  Egskeiding behoort die heel laaste opsie te wees, niemand trou tog om eendag te skei nie.  Net soos mense miskien te vinnig kan trou, kan hulle te vinnig skei ook.  Ten minste sou ek aanbeveel dat pare wat egskeiding oorweeg, eers ‘n opgeleide terapeut gaan spreek as dit moontlik is.  Gewoonlik sukkel mense om te kommunikeer as hulle al op dié punt is, en is dit amper onmoontlik sonder ‘n derde party.  ‘n Terapeut kan sorg dat daar regverdige kommunikasie plaasvind, en dat albei partye se frustrasie beheer kan word.  Al kan ‘n terapeut nie noodwendig ‘n huwelik “red” nie, kan hy/sy darem help dat daar ‘n meer deurdagte besluit gemaak kan word.

‘n Tydelike ooreenkoms van apart leef, is ook baie keer ‘n goeie idee voordat daar finaal geskei word.  As pare op die punt is, kan dit tog gewoonlik nie skade doen om drie of ses maande apart te leef nie.  Dit kan beide partye kans gee om “af te koel”, mooi te dink oor hulle besluit, en rustig die enkellopende lewe te beproef.  Vele kere het paartjies al besluit dat hulle ‘n fout sou maak om te skei, maar dat hulle tyd nodig gehad het om dit te besef.

As een van die twee partye regtig nie verder in die verhouding WIL wees nie, is daar nie veel van ‘n opsie oor nie.  Dit gebeur party keer dat mense agterkom dat hulle nie meer lief is vir hulle wederhelf nie, dat hulle behoeftes verander het, of dat hulle self verander het.  Daar hoef dan nie eens regtig ‘n objektiewe rede te wees nie, mens kan dan niks daaraan doen nie.  Daar moet tog dan net seker gemaak word dat die persoon doodseker is dat hy/sy nie meer in die huwelik wil wees nie.

Louis en Lise

LISE VRA: Hoe kan mense seker maak dat hulle op ‘n goeie voet uitmekaar gaan, indien hulle dan besluit om te skei?

LOUIS ANTWOORD:  In ‘n ideale wêreld sou mens graag wou hê dat mense op ‘n volwasse, ordentlike manier uitmekaar gaan, en mekaar nie onnodig te na kom nie.  Na alles was daar ‘n rede hoekom mens oorspronklik met die ander persoon getroud is.  Ongelukkig gebeur dit baie selde, hoofskaaklik omdat ‘n egskeiding gewoonlik ‘n opbou van probleme en negatiewe emosies vooraf behels.

Ek beveel gewoonlik aan dat mens stap vir stap te werk gaan, en eerstens net probeer om mooi te verstaan hoe jou wederhelf se persoonlikheid en voorkeure vergelyk met ander mense.  Mense blameer mekaar gewoonlik omdat hulle nie verstaan nie, en voel gereeld “te na” gekom deur die ander persoon.  Dit is baie selde dat iemand doelbewus iets negatiefs teenoor hulle huweliksmaat bedoel, en as mens ten minste kan verstaan is mens nie so geneig om te blameer nie.  ‘n Goeie voorbeeld hiervan is introversie en ekstroversie.  ‘n Introverte vrou kan maklik voel dat haar ekstroverte man haar nie konsidereer in sosiale omstandighede nie.  As sy sou verstaan dat hy “energie ontvang” van ander mense, en sy “gedreineer” word deur ander mense, sal sy ten minste sy behoefte om so laat uit te bly, verstaan.  Weereens is dit baie makliker om hierdie proses deur ‘n terapeut te laat fasiliteer.

Tweedens help dit ook om ‘n goeie analise te doen van wat presies die probleem/probleme is, en daar is gewoonlik nooit regtig meer as drie nie.  Voorbeelde hiervan kan kommunikasie, familie, finansies, kinders, ontrouheid, of persoonlike patologie wees.  As mens presies weet wat die probleem is, kan mens darem ‘n stap verder gaan en kyk of dit objektief opgelos kan word of nie.

Selfs al skei ‘n egpaar, help dit vir beide om ‘n gemeenskaplike verstaan van die rede/s hoekom hulle skei te hê, en wat hulle kan ooreenkom om vir ander mense, of hulle kinders mee te deel.

Daar is ‘n spreekwoord wat sệ dat trou nie perdekoop is nie, en egskeding is nog ‘n groter besluit.  Dit beïnvloed almal wat verwant is aan ‘n egpaar emosioneel, en kan baie hartseer wees.  Neem dan ten minste die nodige tyd om doodseker te maak dat dit die enigste opsie is.

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?