SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Kan gewone mense ook aan posttraumatiese stres ly?

LOUIS: Posttraumatiese stres is ‘n ernstige, diagnoseerbare mediese toestand. Dit sorteer ook onder angsversteurings. Om daarmee gediagnoseer te word, moes ‘n persoon in ‘n situasie gewees het waar hy/sy in lewensgevaar was, of teenwoordig gewees het toe iemand anders in lewensgevaar was.

Ons het ‘n abnormale hoë voorkoms van posttraumatiese stres in Suid-Afrika, veral onder mense in sekuriteitsberoepe (polisie, korrektiewe dienste, privaat sekuriteitsdienste, ens.).

LISE VRA: ‘n Mens hoor net van polisiemanne en Amerikaanse soldate wat aan posttraumatiese stres ly. Kan gewone burgers ook daaraan ly?

LOUIS ANTWOORD: Enigiemand, ongeag die persoon se kultuur, geslag of ouderdom. Regoor die wệreld kom posttraumatiese stres voor. Die slagoffers van Hurricane Katrina in New Orleans en die 2005 tsunami-slagoffers is ekstreme voorbeelde, maar die mense oral oor die wêreld wat daagliks aan geweld blootgestel word, kan ook daaraan ly.

Omdat ons voorkoms van geweldsmisdaad so hoog is, kom posttraumatiese stres in ‘n mindere of meerdere mate onder alle mense in Suid-Afrika voor.

LISE VRA: Dit maak ‘n mens bekommerd! Hoe weet jy as jy aan posttraumatiese stres ly?

LOUIS ANTWOORD: Daar is letterlik ‘n lys van simptome waaraan jy moet voldoen, net soos wat ‘n mens verkoue of griep sou diagnoseer. Die kernsimptoom van posttraumatiese stres is terugflitse, waar die persoon die traumatiese insident oor en oor in sy/haar gedagtes herleef en geen beheer daaroor het nie. Saam daarmee ervaar die persoon ‘n algemene skrikkerigheid, sukkel hy/sy om te slaap, kry nagmerries en vermy ook enigiets, bv. televisieprogramme of gesprekke, wat hom/haar aan die voorval herinner.

LISE VRA: Gaan die simptome na ‘n ruk vanself weg?

LOUIS ANTWOORD:
Nee, baie selde. Binne die eerste twee weke na ‘n persoon aan ‘n gebeurtenis blootgestel is (die tydperk waarin hy gewoonlik nog “in skok” is), praat ons van ‘n akute stresreaksie.

As dit na twee weke nog voorkom, noem ons dit ‘n posttraumatiese stresversteuring. Hierdie toestand word selde beter. In my praktyk was daar al kliënte wat langer as twintig jaar aan posttraumatiese stres ly.

LISE VRA: Genade! Wat moet iemand dan doen as hulle die simptome het?

LOUIS ANTWOORD: Professionele hulp kry, so gou moontlik. Hoe langer ‘n mens wag en hoop die simptome gaan weg, hoe moeiliker raak dit om hulle onder beheer te kry. Dit is nie iets wat jy sonder professionele hulp moet doen nie, want mense wat hiermee sukkel is “vasgevang” in hulle simptome en kan nie objektief daarna kan kyk nie. Onthou, omdat dit ‘n angsversteuring is en dus fisiese simptome het, is jy nie “mal” as jy hieraan ly nie. Medikasie verrig wondere, en met die regte begeleiding kan ‘n mens leer om die gebeure “uit jou kop” te kry en te begin beheer.

Omdat simptome algaande kan vererger indien ‘n mens niks daaromtrent doen nie, is posttraumatiese stres nie iets waarmee ‘n mens speel nie. As jy ‘n slagoffer is, gaan soek so gou moontlik hulp by ‘n professionele persoon.

* GESELS SAAM OP FACEBOOK: Elke Dinsdag beantwoord Louis jou sielkundige vrae direk op SARIE se Facebookblad.

‘Like’ ook Wie is ek? – met Louis & Lise op Facebook om meer gereeld met hulle te gesels oor kwessies wat pla.

* Lees nóg artikels deur Louis & Lise op sarie.com