louis_en_lise_1
SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Ly ek aan depressie?

LOUIS ANTWOORD: ‘n Ekstreme voorbeeld. Soos in die geval van enige toestand of siekte, is daar verskillende grade wat gaan bepaal hoe erg jou simptome is. Jy kan bv. ligte verkouesimptome hê, soos ‘n loopneus en ‘n bietjie kopseer, tot baie erger simptome van dieselfde siekte, soos griep of bronchitis.

Mense met erge depressiesimptome kan dus totaal bedlêend wees, nie eet of praat nie en met selfmoordgedagtes worstel, terwyl miljoene depressielyers vervulde lewens lei. Dié mense is skaars bewus van hul toestand en sal net soms noem dat hulle “’n bietjie af” voel.

LISE: Maar wat ís depressie, en wat nie?

LOUIS: Let daarop dat depressie ‘n diagnoseerbare mediese toestand is, met ‘n lys simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer. Ons het almal “op” en “af” dae, selfs vir lang rukke, maar dit beteken nie dat almal depressielyers is nie. Dis wel belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom, want depressie is ‘n toestand wat geleidelik aankom en stelselmatig kan vererger.

Om diagnoseerbaar te wees, moet een of albei van die volgende twee simptome voorkom, vir ‘n tydperk van minstens twee weke:

  • Neerslagtigheid (‘n oorheersende gevoel van hartseer, of die onvermoë om emosie te ervaar) en/of
  • ‘n Afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite

Om die diagnose te kan maak, moet minstens vier van die volgende simptome ook minstens twee weke lank voorkom:

  • Verandering in eetlus; gewigstoename of -verlies
  • Slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap
  • Geïrriteerdheid, of fisieke lamheid, op ‘n daaglikse basis
  • Konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie
  • Intense gevoelens van skuld of hulpeloosheid
  • Onvermoë om te konsentreer of besluite te maak
  • Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfmoord

Indien iemand vermoed dat hy-/syself of ‘n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is: Roep so gou moontlik die hulp van ‘n professionele persoon (‘n mediese dokter, kliniese sielkundige, predikant/pastor of maatskaplike werker) in.

* Vir uitsaaitye en om deel te neem aan die gesprek, gaan na Wie is ek? – met Louis & Lise op Facebook.

* Lees nog artikels deur Louis & Lise hier.

  • Pieter Joubert

    Louis en Lise vat die "issues" mooi raak en gee wonderlike kommentaar.

  • Henry Kelbrick

    Ek hou van die informele trant van die artikel en tog is dit baie insiggewend..
    Hou so aan…!!!

  • Chris Terblanche

    Dis verfrissend dat hulle nie in tegniese taal en begrippe vasval nie. Almal kan hierdie verstaan en daarby baat vind. Uitstekend!

  • Nadine P

    In ‘n land soos SA is dit great dat julle op ‘n "maklike" manier dié dinge aan ons leke verduidelik. Dankie daarvoor! Ek sien uit na die volgende artikels en praatjies.

  • Cornel van der Merwe

    Ek is self in die hulp professie en dink dat Louis en Lise op hierdie wyse ‘n voorkomende rol gaan speel tot die ontstaan van gevorderde stadium depressie en die positiewe bydra tot beter kwaliteit lewe!