SARIE-blogs

Louis & Lise se Wie is ek: Sielkundige effek van verkragting

LISE: Dinsdagaand 2 Julie 2013, net na die 23:00 nuus op RSG, gesels ons oor die sielkundige effek wat verkragting op ‘n mens het. Ons ontmoet vir Maggie Nagel wat in 1999 verkrag is, slegs twee maande na haar man se dood. Dit het my laat besluit om die gesprek oor hierdie onderwerop verder te voer op sarie.com. Omdat ek ‘n vrou is en soos alle ander vroue hoop dat ek nooit verkrag gaan word nie, wil ek in dié rubriek gesels oor alles wat ek tydens die opname by Maggie en Louis geleer het.

Die volgende aspekte rondom verkragting het my opgeval:

  • Verkragting is nie ‘n suiwer seksuele daad nie, maar byna altyd ‘n daad van mag
  • Dit is nie jou skuld dat jy verkrag is nie, ongeag wat ander mense sê
  • Mans is ook slagoffers van verkragting, maar dit word selde aangemeld
  • Dit is ‘n seer, vernederende en dikwels lewensgevaarlike daad
  • Alle slagoffers voel hulpeloos tydens die verkragting en daarna

Ek het duidelik agtergekom dat hierdie nié iets is wat ‘n slagoffer alleen moet verwerk nie. ‘n Ondersteuningsisteem is uiters belangrik! Die keuse van jou ondersteuningsisteem lê by jou as individu. Indien jy te selfbewus is om dit met jou familie te deel, praat met iemand anders: ‘n Sielkundige, ‘n vriend/vriendin, ‘n organisasie soos Rape Crisis, of ‘n kerk- of gemeenskapsleier. Wie jy as vertroueling kies, is nie so belangrik soos die feit dat jy met iemand anders oor jou ervaring praat nie.

Wat duidelik in die program uitstaan is dat jy as slagoffer so gou moontlik beheer moet neem na die insident. In Maggie se geval het sy beheer geneem deur dadelik polisie toe te gaan, haar familie alles te vertel en om saam met Rape Crisis te werk. Omdat dit vir HAAR gewerk het, beketen dit nie dit gaan noodwendig vir almal werk nie, maar dis belangrik om die volgende twee aspekte in gedagte te hou:

  • As jy nie jou beheer terugneem nie, gaan jy ‘n slagoffer bly
  • Verkragting is iets wat MET jou gebeur het, dit is nie WIE jy is nie

Kom ons kyk na twee eenvoudige voorbeelde van beheer. As dit koud en reënerig is buite het jy nie beheer oor die weer nie, maar jy het beheer oor wat jy gaan aantrek. Of: In jou woonarea is daar elke oggend verkeer op pad werk toe. Jy kan nie die ander mense beheer wat op die pad is nie, maar jy het beheer oor die area waarin jy woon, hoe laat jy ry, of watter vervoer jy kies om te gebruik.

Dieselfde beginsel geld vir verkragting.  ‘n Mens het in ‘n mate beheer oor jou eie veiligheid (jy kan bv. diefwering en ‘n alarmstelsel laat installeer), maar in sommige gevalle kan jy niks daaromtrent doen nie.  Hier gaan beheer dus meer oor jou hantering van die feit DAT dit met jou gebeur het, bv. deur gesprekke met vriende, die aanmelding van die geval, die sinvolle voortsetting van jou lewe, ens.

Laastens moet jy let op die sielkundige gevolge, soos:

  • Depressie
  • Angs, of
  • Posttraumatiese stres

Sodra jy besef jou verkragting is besig om die meeste fasette van jou lewe te affekteer, sal dit ‘n positiewe stap wees om ‘n sielkundige te gaan spreek. Hulle is opgelei om jou te help om jou lewe terug te neem.

louis_en_lise_1_310w_630w

Indien jy die episode op RSG gemis het, kan jy daarna luister as ‘n potgooi. www.rsg.co.za  Soek dit onder GEESTESGESONDHEID.

Weer, dit is iets wat met jou gebeur het, dit is nie wie jy is nie. Moenie die verkragter die mag gee wat hy in die eerste plek wou gehad het nie. Jy wás ‘n slagoffer, jy hoef nie meer een te wees nie!

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?