Lindy Scheepers (27) - FOTO: Veronique Mills

Mooimaak

Mooimaaksessie – Lindy Scheepers (27): “Van nuwe ma tot model”

Lindy Scheepers (27) is ‘n boekhouer en sy bly in Wellington.

 Lindy Before After

Wat sê die mooimaakspan?

Leverne Botha – grimeerkunstenaar
Lindy het die mooiste vol lippe. Ek het haar pragtige bruin oë beklemtoon en haar lippe se natuurlike kleur laat uitstaan. Sy het so baie spesiale features dat dit haar ‘n besonderse en unieke voorkoms gee.

Seugnet Robson – stilis
Lindy het die mooiste porselein vel! Ek was so opgewonde om haar in die silwer rok te sien. Dit het haar soos ‘n handskoen gepas en sy het die rok nog mooier laat lyk.

Veronique Mills – fotograaf
Sy het die perfekte gesig vir die kamera. Ek kon nie glo sy het maar net 9 maande terug ‘n baba gehad nie, haar lyf is pragtig en het ongelooflik gelyk in die uitrustings wat ons vir haar gekies het.

Wat sê Lindy?

Waarom het jy besluit op ‘n ‘makeover’ vir jouself?
Ek het 9 maande gelede ‘n ma geword, en soos meeste nuwe ma’s weet, is daar nie elke dag baie tyd vir mooimaak en bederf nie. Ná ek gesien het hoe hierdie span die ‘gewone meisie’ in Cinderella omtower, wou ek ook graag sien hoe die Cinderella binne my lyk.

Wat aan jou lyf beskou jy as jou beste eienskap?
My skewe glimlag.

Beskryf jou klerestyl, en wat jy intussen wysgeraak het?
Gemaklik. Ek het ‘n kas vol wit-en-swart, en die getroue jeans. Die sessie het my oë oopgemaak vir nuwe style, kleure en bykomstighede. Seugnet het die mooiste uitrustings gekies wat my lyf so mooi beklemtoon en gekomplimenteer het.

Hoe het jy verwag gaan jy lyk?
Ek het hoë verwagtinge gehad na ek op SARIE.com die vorige vrouens se pragtige transformasies gesien het, maar hulle het elke verwagting oortref. Veronique het ‘n besonderse gawe om die mooi in ‘n mens vas te vang op `n foto!

Was jy verras om jouself in die spieël te sien?
Geweldig!  Ek het nie gedink dit was moontlik om so te lyk nie. Leverne het my gewys dit is moontlik om elke dag soos ‘n model te lyk, en sy het haar grimeerwenke met my gedeel.

Wat was vir jou die mooiste deel van jou mooimaaksessie?
Hoe die span absoluut ‘n mens se selfvertroue opbou.  Hulle is professioneel, tog laat hulle ‘n mens so gemaklik voel – dan word jy nog boonop agter die skerms bederf ook!

Wat was jou vriende/familie se reaksie?
My man spog graag met my foto’s, en vriende met wie ek lanklaas kontak gehad het stuur sommer vir my die mooiste boodskappe en komplimente ná hul die fotosessie gesien het.

Hoe maklik is dit om dié nuwe styl vol te hou?
Seugnet het vir my gewys mooi is ook gemaklik. Leverne het my touwys gemaak oor hoe om in min tyd myself mooi te maak, en ek het reeds die nuwe styl begin toepas.

Sal jy dit vir jou vriendinne aanbeveel?
Ek het reeds vir almal!  Elke vrou verdien om vir ‘n dag soos ‘n model te voel en lyk, en hierdie gedugte span kan dit vir jou doen.

Wat het dié mooimaaksessie aan jou selfvertroue gedoen?
God skep elke vrou uniek, en elkeen is mooi op haar eie manier. Maar hierdie sessie herinner my net weer hoe mooi ons werklik is, en dit is goed vir ‘n mens se selfvertroue.

Klik op die foto’s om dit groter te maak

Klere : Slate Willowbridge at http://www.slateboutique.co.za/

Bespreek vir jou ’n mooimaaksessie

Om jou mooimaaksessie by Veronique en haar span te bespreek, besoek haar webtuiste by www.veronique-photography.com of kontak haar direk by 079 737 7397 / info@veronique-photography.com