SARIE-blogs

Op die rooi tapyt: Aletté-Johanni Winckler by Vonk-toekennings

Toe ons egter eindelik in die pad val nadat ons ons baba en opasser(s) georganiseer het, tref die skielike verkeer ons. (Vir ons mense wat van die huis af werk is dit ‘n skok op die sisteem.) Maar toe ons eers verby Johannesburg die grote stad is, het die pad skielik vir ons oopgegaan.

By Carnival City aangekom, voel dit kompleet of níémand weet wat aangaan nie. Waar moet ons parkeer? Waarheen moet ons loop? Waar moet ons gaan staan? Toe loop ons maar agter ons neuse aan, en ek is skielik bewus van die feit dat elk dalkies maar daai warm dingetjie moes saambring, want die stomende Johannesburg het toe net mooitjies baie afgekoel.

Uiteindelik word ons soos skoolkinders in twee rye begelei na luukse Mercedes Benz-motors om ons by die rooi tapyt af te laai. Ek, Heinz, Amor en Hanlie (haar vriendin en regterhand) kuier ‘n hond uit ‘n bos uit terwyl dit kompleet voel of ons nou êrens ons kruisie moet gaan maak om te stem. Gelukkig het die lekker geselskap die tou effens korter geknip en kort voor lank het Mtokulo ons kop oplaai net om weer 100 m verder afgelaai te word. (Nee, dis net ‘n grappie dit was darem 500 m)

Teen die tyd wat ons daar aankom was die son al onder en die rooitapyt uiters donker. Ons word vlugtig voorgekeer vir onderhoude met eNuus, Oos-Rand Stereo en Glitterati. Almal wil weet wie dra wie, waar is die baba en of Heinz opgewonde oor die nominasies is?

‘n Paar tieners kom maak groot oë en sê ons moet ingaan want die voorgereg word bedien, en ek wonder waar presies die rolle omgeruil het? Maar die Wincklers stap toe stadig maar seker in en sien ‘n paar  dames wat as Voortrekker-tannies aangetrek is, kompleet met voorskoot en al. En net elke nou en dan beweeg soos die knapies by die robotte wat bedel vir geld. Min het ons geweet wat kom…

Nadat ons plaas geneem het by ons tafel (6), kon die vieringe maar begin. Die arena waar dit gehou was, was snerpend koud en al die henne het so onder hulle hane se vlerke ingekruip. Die atmosfeer was styf en ek kon sien al die genomineerde kunstenaars was stilweg opgewonde en senuweeagtig oor die uitslag van die kompetisie.

Skielik raak alles donker en ‘n paar videos rol oor die skerms om seker te maak ons weet presies wie hierdie groot aangeleentheid geborg het. Voor ons ons oë kon knip spring daai vrome Voortrekker-tannies uit daai rokke en verskyn in (baie) minder as vroëer op die verhoog as dansers vir Snotkop se item. Hy kry die gehoor sommer vinnig opgewarm en daarna verlei Juanita du Plessis ons met haar beautiful ballade.

Volgende is Therese Benade en Pieter Koen (wat gisteroggend ‘n dogtertjie ryker geword het) op die verhoog en albei kan deur ‘n ring getrek word. Die toekennings begin en een na die ander word ‘n trotse kunstenaar beloon vir sy/haar harde werk, talent en uithouvemoë. Van die wenners was Sorina (die Flooze van Witbank), Bok van Blerk, Die Penkoppe, Abel Kraamsaal, MK, Rapport se DVD, Liani May, Juanita du Plessis, Gerhard Steyn, Rudi en Corlea, Retief Burger, Bobby van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld en Bobby van Jaarsveld.

Dit was verseker die jong hartebreker se jaar en met sy nederigheid en opregtheid wens ons hom sommer nóg 6 toekennings toe. “Overtone” is geregtelik vereer as ambassadeurs vir SA tewyl hulle die VSA plat toer en Yankee-roem verwerf. Hulle het per video vir Rapport en Vonk baie dankie gesê en Clint en Dina Eastwood het ook vlugtig verskyn met ‘n: “Buy a donkey” a.k.a “Baie dankie”. (Dis werklik voortreflik)

Sonja Herholdt is vereer vir 35 jaar in die bedryf en sy het sommer ook later (sonder haar medewete) ‘n Mercedes Benz gewen. (Of soos sy beklemtoon het, die gebruik daarvan vir een jaar). Rapport is vereer vir 40 jaar se eksklusiewe nuus en is blykbaar bekend as die BESTE AFRIKAANSE KOERANT IN DIE WERELD! Nou, dit is nie te versmaai nie…

Daar was ook optredes deur Gerhard Steyn, Nádine, Romanz, (iemand wat ek nie geken het nie) en Bobby en Karlien van Jaarsveld, Sonja Herholdt, Gaphi, Joe F (en nog iemand wat ek nie geken het nie) het ‘n spesiale song aan Rapport opgelewer en Bobby en Karlien was vol giggels omdat die bekroonde Mnr van Jaarsveld nie sy woorde geken het nie…

Doodhonger word die kos teen 21:30 bedien en teen die tyd wou ek al omval. Almal smul aan kruisskyf, gemengde groente en polenta, maar voor die Tiramisu-verleiding bedien word besef ek my vonk is uit en dit is tyd om huistoe te gaan.  Wat verder by die Rapport Vonk-toekennings gebeur het, sal die vonk alleen weet, maar ek weet ek het lekker geslaap…

  • Debbie

    Alette!! n Wenner stukkie skryfwerk soos gewoonlik! Jy is baie snaaks.

  • Hanetjie de Klerk

    Weereens baie oulik!Geluk ….hou soaan!

  • jfrceg sqbdblvsbvdn, [url=http://hubaovoapvmx.com/]hubaovoapvmx[/url], [link=http://jrrcwxmhaelh.com/]jrrcwxmhaelh[/link], http://amrkwcahhulg.com/

  • www.sarie.com

    Www sarie.. Dandy 🙂

  • www.sarie.com

    Www sarie.. Keen 🙂