SARIE-blogs

Tallie blog (6): “Dit is nou ‘n paar maande later…”

Hier is nie base en klase nie. Elkeen is hier om ‘n bepaalde funksie te verrig. Niemand loer oor jou skouer nie, want die maatskappy verwag jy is aangestel om ‘n sekere uitkoms te lewer. Dit is waaraan jy gemeet en vergoed word.

Hier is geen base wat op die gholfbaan rondhang, met moeggetrippelde sekretaressies wat eet- en drinkgoed reël nie. Almal word presies dieselfde behandel. As ons tussen stede moet vlieg, gebruik almal presies dieselfde lugdiens. Ek was al so gewoond dat terwyl Meneer ‘n bekende Engelse lugdiens gebruik, moes die res van ons op een of ander vrugte-lugdiens vlieg, teen ‘n vyfde van Meneer se vliegtuigkaartjie-prys.

Ek wonder nou nog hoekom die verskil?

Wilmien het kort nadat ek en sy uitgestap het, ‘n nuwe begin by ‘n ander maatskappy gemaak. Sy het ontsettend gegroei in haar nuwe omgewing en is onlangs bevorder met ‘n salarispakket wat haar nooit weer sal laat terugkyk nie.

Weens die druk van die aflegging, en aanvanklike geld-bekommernis is sy en manlief uitmekaar en uiteindelik geskei. Hy is een oggend uit die huis, en het net nooit weer teruggekom nie. Die prokureur het laat weet die stres in net te veel vir hom en hy wil skei. Wilmien het haar nie laat afsit nie. Sy is geskei, het intussen vir haar en die kinders ‘n huis gekoop en Saterdae kan jy maar hierdie ywerige tuinier in haar tuin opsoek. Sy is dolgelukkig.

Filicia het na die aflegging net gewag tot haar pakket uitbetaal. Sy het haar gesin geneem en teruggegaan na Lusikisiki, waar sy grootgeword het. Haar familie het grond in die distrik. Sedertdien het niemand weer kontak met haar gehad nie.

Juffrou Bekwaam kon dit toe nie op haar eie daarbuite maak nie, en sit vandag nog sonder werk. Sy het gewoond geraak aan die reuk van note wat elke maand haar bankrekening vul. Heeltemal oorbetaald vir die minimale takies wat sy verrig het. Na n paar onderhoude het die wiel vir hierdie hoogmoedige juffrou gedraai. Ek sal nooit vergeet hoe neerhalend sy kon praat van haar junior kollegas nie. Enige iemand wat minder as sy verdien het, of ‘n laer graad pos beklee het, was benede haar. Soos ek vroeer gese het, toe draai die wiel mos.

Benitha Bokwa het haar pakketgeldjies gevat en haar eie besigheid begin. Wat ‘n sukses is haar besigheid nie. Ek wil nie te veel uitbrei met wat sy doen nie. Sy het ‘n wenresep, werk haar stokflou, maar die resultate is fenominaal.

Sy het alleen die besigheid begin, en kon die laaste paar maande nog 3 persone aanstel. Vra jy haar uit, vertel sy die aflegging was die beste ding wat nog met haar kon gebeur. Ek is ook bly vir haar. Sy het nog altyd potensiaal gehad, maar is nooit raakgesien nie.

Ek hoor nog af en toe van Fiffie. Sy het haar afleggings-geldjies geneem, oorsee gegaan en werk nou op oorsese passasiersskepe as fotograaf. Af en toe sal ek via die internet met haar kontak maak. Ek loer soms na die foto’s van al die eksotiese bestemmings wat hulle aandoen, sien haar hier en daar dans met ‘n blommekrans om haar nek.  Emosioneel, weet ek, het sy tydens die afleggingsperiode baie swaar gekry. Depressie en wanhoop was baie dae haar enigste krukke. Ek hoop haar pad vorentoe is met soveel blommekranse besaai dat sy nooit weer die skerp kant van die voetpad voel nie.

En ek? Ek skryf nog steeds my stories. Soms, wanneer ek saans buite sit en luister na die laataand-geluide, raak daar ‘n glimlag so liggies aan my mondhoeke terwyl ek dink aan die kollegas wat ons agtergelaat het.

“When will they ever learn?”