SARIE-blogs

Tallie blog (5): “Genoeg is genoeg!”

Ek sien geen ekstra lessenaar of stoel nie. Die volgende oomblik kom Wilmien uit die kombuis gestap. “Tallie, ek het vir jou solank koffie gemaak,” en sy oorhandig die beker met stomende koffie.

Ek merk Wilmien is spoggerig aangetrek met bloedrooi geverfde toonnaeltjies.

Ons nuwe werkgewer kom uit sy kantoor gestap en verwelkom ons hartlik. ‘n Juffrou Moha het haar plek gaan inneem agter haar lessenaar, haar bril reggeskuif en konsentreer op haar rekenaar. Die kantoor is glad nie ingerig vir ekstra personeel nie, en ons word gou aangesê om twee lessenaars en twee stoele vanuit die raadsaal aan te dra.

Daar is een telefoon wat tussen die lessenaars pendel en ons moet self sorg vir rekenaars. Gelukkig het ek myne saamgebring, maar Wilmien besluit om maar te wag tot hare van Australië bestel word. Sy is een van die enkelmoeders wat by die vorige werk haar werk verloor het. Met twee kleingoed vir wie sy moet sorg, is daar nie veel oor om nog rekenaars ook te koop nie.

Juffrou Moha praat geen woord met ons nie. Die pad vorentoe vir die maatskappy word vir my en Wilmien uitgespel en ons spring aan die werk. Ek begin bemarking doen en Wilmien klim in die lokaal waar liassering meer as ‘n jaar gelede laas gedoen is. Sy was nog altyd ‘n harde werker, en ‘n jaar se liassering is niks vir haar om uit te sorteer nie.

Nuwe werkgewer is baie uit die kantoor en ons is oorgelaat aan Juffrou Moha. Jonk en baie wispulturig. Toe ek en Wilmien ‘n breuk neem en buite die gebou staan en gesels, sê Wilmien sy voel nie gemaklik nie. Ek oortuig haar ons moet bly wees ons het ‘n werk, sy met twee kleingoed en geen ekstra inkomste nie, en ek, nie meer jonk nie, moet doen wat ons moet doen en stilbly.

Het ek en Wilmien maar geweet waarmee ons te doen het.

Dinsdagoggend is ons soos twee goeie en getroue slawe voor 8 uuur by die werk. Wilmien kry vroegoggend ‘n oproep op haar selfoon en gaan staan eenkant om dit te neem.

Ek sien Juffrou Moha maak groot oë toe sy na Wilmien staar, en gaan aan met haar werk. Sy praat steeds niks met ons nie. In die kombuis is nou notas opgeplak van wat ons mag doen en nie mag doen nie.

  • Maak die yskas toe.
  • Spoel uit jou koppie wanneer jy klaar koffie gedrink het.
  • Moenie in die kombuis koffie drink nie.
  • Teken aan nadat jy in die badkamer was.
  • Gooi die drommetjie uit elke keer wanneer jy meer as ‘n koppie vol rommel in die in die drommetjie uit gekeer het.

Die hele plek is vol plakkertjies geplak.

Ek gaan deur elke plakker ek kyk waar ek moontlik kon fouteer, maar ek kry niks. Ek praat met Wilmien, en sy is net so verdwaas soos ek.

Regtig? Na alles wat ons die afgelope paar maande deur is, moet ons nog met hierdie nonsens ook deal? Is hier nie meer op die spel as plakkertjies die wêreld vol nie? Ons is slegs drie mense in die kantoor en sy behandel ons asof sy met kleuters te doen het.

Dit is nou maar die tweede dag en Wilmien is moedeloos. Sy hou egter uit en ek moedig aan dat sy haar nie moet steur aan Juffrou Moha nie.

Ek gaan aan met my werk en kry heelwat van ons vorige kliente wat oorkom na die nuwe maatskappy. Dit is nou wanneer ek die slag die telefoon in die hande kry, want Juffrou Moha waak met ‘n arendsoog oor die telefoon.

Wilmien is besig om die agtergeblewe dokumente uit te sorteer en die liassering op datum te kry. Sy werk volstoom en neem net nou en dan ‘n breuk. Tydens die breuke staan ek en Wilmien buite en gesels, want die atmosfeer is uiters somber in die kantoor.

Die eienaar is nie veel in die kantoor nie, en ek het ‘n idee hy weet ook nie regtig wat daar aangaan nie. Ek is sielsongelukkig, maar rep geen woord aan Wilmien nie. Sy is heelwat jonger as ek, en ek wil haar nie negatief beinvloed nie. Ons beide is desperaat vir die werk.

Woensdagoggend stap ek traag in die kantoor. Ek is so moeg vir al die drama. Wilmien is reeds in die kantoor en besig met haar werk toe ek instap. Juffrou Moha is haar suur self voor haar rekenaar. Ek gaan maak vir my koffie en gaan sit by my lessenaar.

Die kantoor is doodstil toe die eienaar instap. Hy roep vir Wilmien na sy kantoor. 15 minute later stap sy uit en gaan sit by haar lessenaar. Ek sien sy is ontsteld. Sy kyk nie in my rigting nie. Juffrou Moha staan op en gaan na die kombuis. Ek hoor hoe sy die ketel aanskakel en koppies wat klingel.

“Wat gaan aan?”, vra ek vir Wilmien.

“Ek kan nie praat nie, ek gaan jou sms,” antwoord sy.

“Kry my in die badkamer,”  skryf sy.

Sy staan op en stap in die rigting van die badkamer. Ek is oppad om haar te volg toe Juffrou Moha van agter skree, “julle kan nie albei badkamer toe gaan nie”.

Ek ignoreer haar en volg Wilmien.

In die badkamer bars Wilmien in trane uit. “Ek is ingeroep omdat Juffrou Moha my gaan verkla het omdat ek drie koppies koffie per dag drink, ek te veel badkamer toe gaan en my breuke wat ek neem haar ook nie aanstaan nie. Dit, terwyl ek nie eens middagetes neem nie!” gaan Wilmien voort.

“Ek mag geen privaat-oproepe of privaat sms ontvang nie. Die enigste privaat-oproep wat ek ontvang het, was Maandag, ek het geen ander oproepe ontvang nie,” gaan Wilmien voort.

Ek voel hoe my liggaam koud word. Na alles wat ons die afgelope paar maande deur is, die aflegging, die vernedering en hulpeloosheid is weer glashelder voor my. Geen mens sal weer die voorreg he om my of enige persoon na aan my weer so minderwaardig te behandel nie. Ons is almal deur een God geskape, en niemand sal weer die voorreg he om homself weer so te verheerlik nie.

Ons stap terug kantoor toe. Ek besluit dit is dit.

“Pak,” se ek vir Wilmien.

“Waarheen?” vra sy.

“Ons loop,” antwoord ek.

“Ons moet kennis gee,” antwoord sy.

“Watse kennis gee?”

Ten minste 7 dae, gaan sy voort.

Ek het gese ons pak. Ek begin my bietjie skryfbehoeftes in my handsak pak, maak my rekenaar toe en pak dit weg. Wilmien, bietjie oorbluf, begin haar persoonlike goedjies inpak.

Ek kan sien sy in onseker, maar wanneer ek in haar rigting kyk, my kop knik, kan ek sien sy kry meer moed vir waarmee ons besig is.

Juffrou Moha kry skielik lewe. “Wat gaan aan?” piep sy soos ‘n jong muis.

Ek vererg my vir haar gemaakte onskuldigheid.

Jy,  juffrou weet baie goed wat aangaan, want jy het na Meneer X gehardloop en Wilmien gaan verkla van onwaarhede. Gaan speel pop by die huis of waar jy ookal wil, maar vir jou sien ek nie meer kans nie. Nie nou nie, en ook nie more nie.

Meneer X probeer ons keer en se daar is iewers ‘n misverstand, maar ons is oppad.

Toe ek by die deur uitstap, spoel ‘n vlaag van verligting deur my.

“Wat gaan ons nou doen”? , vra Wilmien. Moenie bekommerd wees nie, die Here sal weer vir ons ‘n werk gee. Niemand sal ons weer stroop van menswaardigheid soos die vorige werk nie. Ons is dit aan onsself verskuldig.

Oppad huis toe bel ek vir manlief. “Skat, ek het uitgestap en is oppad huistoe”. Dis reg my vrou, kom parkeer jou motor, jy het nie hierdie drama nodig nie.

Twee dae later skakel ‘n maatskappy uit Holland my, en bied vir my ‘n werk aan. Ek aanvaar die werk en is dolgelukkig.

Wilmien het drie weke later ‘n werk gekry met meer geld, beter werksomstandighede en ‘n afdeling van haar eie. Sy is net so gelukkig.

Soms moet ons die moed he om self te  besluit wat die prys is wat ons wil betaal ten einde ‘n inkomste te verdien.

En baiekeer moet ons op ons Hemelse Vader vertrou vir ‘n uitkoms in ‘n uiters ongelukkige situasie. As kinders van God, kan ons nie toelaat dat mense ons as minderderwaardige wesens behandel nie.

  • Wendy

    Hartroerend… ek’s baie bly dat jy en Wilmien nou gelukkig is. Deur God is alles moontlik.