fotocarol1
SARIE-blogs

Tallie blog (2): “Toe breek die nuus…”

Mmmmm, ‘n bonussie sal nogal nie sleg wees nie, dink ek by myself.

Ons stap uiteindelik in en word begroet deur Meneer X, en die helfte van die personeel-afdeling.

Meneer X speel nie veel met woorde nie, en los die bom. “Ons het besluit om die besigheidseenheid toe te maak en die finale datum is oor twee maande.”

“Huh?” Sê net weer en weer en weer, gaan dit deur my kop.

Die skok, verlammendheid, verslaendheid en spraakloosheid is op almal se gesigte rondom die tafel. My oё beweeg vinnig van kollega na kollega. Ek sien hoe mooi gegrimeerde gesiggies meteens vol traanspoortjies begin hardloop.

Drie van my kollegas is enkelma’s, twee is jong ongetroude dames, en dan is daar getroude kollegas wat weens die ekonomiese seisoen daarbuite verplig is om te werk sodat die pot op die stoof kan bly stoom. Meneer X het skielik ‘n skim in die raadsaal geword. Ek sien sy lippe beweeg, maar neem nie meer in wat hy kwytraak nie.

Ek staan op en stap uit – ek het genoeg gehoor.

Ek stap terug na ons kantoor, en skielik lyk alles anders. Ek sien die bouers wat langs ons kantoor besig is om te bou, en ek beny hulle. Gister was hulle niks meer as net bouers wat kruiwaens rondstoot nie, vandag besef ek hulle is beter-af as ek. Ek luister skielik met ander ore hoe hulle vrolik sing in hulle Afrika-taal en sien die tevredenheid op hulle gesigte.

Ek sien die tuinier besig om vetplante in rye te plant. Selfs hy neurie stilweg terwyl hy plant.

“Mirrag Mevrou, kyk hoe smile die plante’tjies vedag.” Roep hy vrolik. “Wil’ie mevrou nie vedag pratie?”

Dis nie lank na my dat die res van my kollegas terugkeer kantoor toe nie. Ek sit by my lessenaar en het regtig niks om vir iemand te sê nie. My kollegas staan in groepies en gesels.

Twee dae later stuur Hoofkantoor ‘n sielkundige om met ons te kom praat.

Die dame word met antagonisme bejeёn. Almal se lyftaal spreek dit. Filicia sit-lê op die bank, Benitha Bokwa staar net voor haar uit, fynlyfie Fiffie sit en blaai deur haar selfoon, Krummel wat Brood geword het, sit en kef tussenin.

Die sielkundige sukkel om almal se aandag te hou, maar toe sy dit het, kom sy met hierdie belaglike opdrag.

“Verbeel julle julle is ‘n diertjie. Watse diertjie sou julle graag wou wees? Kom ons begin hier by Fiffie.”

Almal kyk na mekaar met ‘n uitdrukkig van wat de hel praat die vrou van? Ons wil nie diertjies wees nie, nie nou nie en ook nie môre nie! Moet asseblief nie jou boek-kennis vandag hier op ons kom probeer toepas nie!! Gee ons net ons werk terug! En as jy nie kan nie, loop net asseblief!

Die sielkunde-sessie het nie baie goed verloop nie, en almal is kwaad toe ons uitstap.

Die verslaendheid het plek gemaak vir woede. Woede teenoor almal wat nie op hierdie stadium aan ons kant blyk te wees nie.

  • Suzette

    Ja ek ken hierdie "sielkundige toertjies" baie van hulle in die Bank gehad, dan moet jy met klei speel, dan moet jy jou oe toemaak en jou verbeel jy’s op jou gunsteling plek, en glo my dit neem nie die trauma van jou af weg nie, en om alles te kroon, die Maatskappye mors derduisende rande op sulke "sielkundiges", terwyl die Base met vet tjeks in hulle sakke gaan vakansie hou. Ja maar elke hond kry sy dag, glo my en al wat mens help deur sulke trauma is geloof in jou Skepper en Hy sorg vir jou en vandag kyk en nie terug nie en lag vir die Base wat nou maar eiendomsagente geword het, ander vrouens gevat en en dan wonder ek waarop het hulle hul kastele gebou, sand of klip??

  • Walda

    Ja dis baie hartseer en ek wonder altyd hoe hulle slaap of ski terwyl die werkers in die maatskappy moet knyp om te eet en die skoolgeld te betaal? Die base se bonus is gewoonlik genoeg om n hele paar mense vir n jaar te kan betaal, hulle hoef nie bekommerd te wees oor kos op di etafel nie want die maatskappy betaal dit en al hul brandstof, motor en enige ander uitgawes, dus is die "salris" wat hulle kry uit en uit vir luukses. My ma het altyd gese "die wiel draai" ek verwonder my net aan hoe groot daardie (water)wiel is, want dit lyk nie of dit ooit vir jou, wat jou werk verloor het, na die bokant draai nie, jy bly net altyd onder die water. Hoe slaap hulle, hoe eet hulle sonder dat die kos dik word in hul kele?

  • Annette Gilham

    Niemand sal ooit weet hoe traumaties so iets is nie. Gooi nog ‘n persoonlike trauma daarby en mens begin jou eie bestaan betwyfel.

  • Wendy

    Toe ek hierdie lees, het dit net weer herinneringe teruggebring wat met hartseer en woede geassosieer word. Maar kon nie lag vir sekere dinge, soos die sielkundige en haar dier speletjies nie. Daardie was ‘n baie moeilike tyd, maar ons is almal "SURVIVORS".

  • Sandra Els

    Plaas jy sê jy wil’n leeu wees,want jy wil vir haar en die CEO opvreet.Geniet jou blog baie.