SARIE-blogs

Tallie blog wéér: Só het haar grootste vrees toe gebeur

“Ek kan nie glo ons is al in Meimaand van hierdie uitdagende jaar nie. Uitdagend beslis, maar laat ek julle eers vertel wat alles gebeur het sedert ons laas gesels het.

In die Laatsomer van 2012 het ons teruggekeer van Amerika waar ons vir ons kinders en kleinkinders gaan kuier het. Toe ons voete die Afrika-grond raak was dit met ‘n lus vir 2012 wat voorlê. Na die koue winter in Amerika, was dit heerlik om die warmgoed weg te pak.

Terug in die kantoor, het kollegas stuksgewys by my kom sit en vertel van die nuwe CEO wat binnekort sou begin. 1 Februarie om presies te wees. Almal was onseker, vraend en onseker. Net ek, lekker uitgerus, was positief oor die res van die jaar. Die aanstelling van die nuwe CEO was regtig die laaste gedagte wat my laat wakkerle het.

In ‘n groot kantoor met ‘n verskeidenheid kollegas, sommige van Ooste en ander van Weste, het almal nie juis dieselfde liefde vir mekaar gehad nie. Mens lewe mos maar elkeen sy eie lewe. Skinder ook maar lekker ondermekaar, maar netnou drink ons weer almal saam koffie.

Ek het regtig begin om kollegas kwalik te neem dat hulle so negatief oor die toekoms is. Hoe kan mens so negatief wees oor iets wat nog nie gesê, gebeur of ‘n moontlikheid is nie? Hoe kan mens negatief wees as die somerson soggens vroeg saam met die voëlgesang opkom en die lus in enige slaperige liggaam insyfer?

Die werk het maar sy loop geneem, e-posse en telefoonoproepe beantwoord, kliënte gaan sien, nuwe besigheid skryf, die normale gang wat mens maar die afgelope paar jaar doen.

1 Februarie breek aan en nuwe CEO word welkom geheet met alles wat ‘n soettand kan begeer. Soos mak dassies sit ons en al die ander afdelings se kollegas in die raadsaal en luister na die intree-toespraak van Meneer X. Ek sit rondom my en kyk stadig na my kollegas, een vir een. Sommige lyk soos mak katjies wat hulle paaiendste gesiggies moet opsit vir die grootste bakkie melk, ander sit met oë wat strelend oor die konferensietafel na meneer X sit en luister, hier en daar sien ek een of twee kollegas met kille oë voor hulle uitstaar, bemerk ek selfs ‘n ietwat van ‘n vyandigheid.

Soos dit elke nuwe besem beaam, luister ons na Meneer X wat gewilde “buzz-woorde” soos “strategie vir die toekoms“, “nuwe hoogtes vir die maatskappy”, “die uniekheid van die maatskappy”, bla bla bla bla. Elke woord sorgvuldig uitgesoek, blinkgepoets en met ‘n pruilmond ge-uiter. Musiek in die klein blink oortjies van dié wat hom aangestel het.

Na die toespraak, het ek ‘n sterk koppie tee nodig, en so ook sommige van my kollegas, terwyl ander in die ry staan om Meneer X van nader te leer ken. Op sommige gesigte sien jy die angstigheid van “SIEN MY TOG NET RAAK MENEER X!!”  Ek sien hoe Susie Schoonholl nadertrippel met ‘n bordjie eetgoed vir Meneer X, wat dit opgevoed ordentlik uit haar hande neem, haar bedank en sy gesprek voortsit met William Sithole.

Belaglik, dink ek, drink my tee klaar en verlaat die vertrek. Hoe kan mense so aangeplak wees? Ons is almal Godgeskape mense, almal dieselfde, almal feilbaar, en tog kan ons soms buite ons karakter optree ter wille van “aanvaarding” – aanvaarding? vir hoe lank? Net vir solank elke party kry dit wat hulle verwag en vir solank elkeen sy nar-rol speel.

Ek stap terug na die gebou en verlustig my in die ryp sonskyndag. Daar is ‘n volrondheid, ‘n speelsheid en niks sal my van stryk af bring nie.

Maandagoggend, 7 Februarie is ek oppad na ‘n kliënt, toe een van my kollegas skakel om te sê daar is ‘n vergadering om 12 uur in die raadsaal. Ons afdeling moet teenwoordig wees. Uitkomkans is daar nie, en ek kanselleer my afspraak.

Ek ry terug kantoor toe, min wetende wat wag.

* Volg Tallie se nuutste blog hier op sarie.com

  • John

    So bly Tallie is terug sy is n absolute inspirasie vir ons almal.

  • Lezette

    Ek wonder wie die bordjie eetgoed aangedra het – definitief nie ek nie….ha……ha…..ha…

  • Suzette

    Ja, hierdie klink vir my soos dit in ABSA gegaan het, almal kruip by hulle mnre X of mev X net om tog raakgesien te word, om "in" te wees in sy/haar goeie boekies sodat hulle tog net kan weet dat daar mense is wat graag die leer wil klim, ag sulke belaglikhede en as die beursie uitgedeel word, kry jy maar net jou persentasie en basta die res, en dan moet jy hoor van die beursie was so en so groot, en jy moet dankbaar wees jy’t nog ‘n werk. So bitter bly eks ontslae van dit alles, jy hardloop jou bene stompies, bemark vir die vale hel, en as die bevordering kom, dan kry die direkte baas die chip op die skouer en jou klip donder maar weer teen die bult af, ag nee dankie genoeg gehad van dit, nou’s ek gelukkig en ontslae van ABSA en daar is beslis ‘n lewe buite ABSA. So is ons deur verskeie kere se samesmeltings van die Bank en wat het jy gekry? Niks, jou huis en kinders afgesloop en wie het weggeloop met die eer? Die base.

  • Wendy

    Tallie ek moet sê jy is ‘n baie sterk vrou. Om twee keer deur dieselfde ding te gaan, kon nie maklik gewees het nie, ons kan net ons Almagtige Vader bedank. Dit was definitief ‘n baie moeilike tyd. Jy’s regtig my inspirasie. Baie lief vir jou.

  • Iemand wat nie saak maak nie

    Meneer X en al sy trawante sal wel eendag hulle agterente sien met ‘n spieel – manne wat saam daar in die hoogstes gesit het – het ook agtergekom daar is nie iets soos vriende in ‘n werksplek nie. X kon iets gedoen het om die mense wat jare getrou was aan die maatskappy te hou ……glo my hy gaan ook nie lank hou nie net soos al die vorige CEO’s blerrie sirkus om voor te werk

  • Iemand wat nie saak maak nie

    Oppas Lezette net nou is jy volgende – kan ook net solank aan die tafel vashou!! haha

  • Lizz

    Soooo bly ek het vir Tallie ontdek – het ook haar boek gelees!! Sy skryf so uit haar hart – reguit en op die man af!! Sien uit na die volgende aflewering ……….. kan nie wag nie …….

  • Cojaja

    Tallie, dankie tog jy is terug… Jou boek gelees en is op die oomblik (‘n bietjie lang oomblik wat al 10 maande duur…) in dieselfde bootjie,die ding is net ek wil dit al uit skree teen die berge…want ek het net eenvoudig nie meer krag vir hierdie werkloosheid van my man nie…ek HET nie meer verskonings vir die kinders nie,ook nie vir die Skool nie, ook nie vir die Flippen Bank wat die kar wil kom haal nie, my krag is net eenvoudig op!!! En my salaris Wat bestaan uit kommissie..) kan eenvoudig net nie meer alles betaal nie…Ek weet nie meer wat om vir die kinders te sê, as hulle vir my vra Wanneer begin Pappa weer werk nie??? Hulle skaam hulle as die maatjies kom kuier, want hy lê helder oordag en tv kyk of speel kaarte op die rekenaar…Dis nou na hy glo sy Cv weer uitgestuur het aan wie weet almal…Hy is 45 en "spierwit"….en kry net nie werk nie…Ek loop al kruppel want ek werk in die dag en bak naweke en saans "cupcakes" vir al wat leef en beef om te kan brood koop of petrol ingooi…my kind vra my vandag vir ‘n roomys, en ek moes kies tussen vir haar ‘n roomys koop en ‘n flippen brood…My hart wil breek, ek kan nie eers ‘n flippen roomys vir haar koop nie…Wat de hel gaan ek doen as die skool volgende week begin, en ek moet skryf behoeftes koop en nuwe skoolrokke, want die oues is so kort hul "panties" steek omtrent uit? En die ergste van alles my man se familie draai net hul koppe weg, en is siende blind vir ons ellende..Ek weet hul kan dit bekostig om ons net so bietjie te help….HOE kom ‘n mens hier deur???