fotocarol1
SARIE-blogs

Tallie: “Die waarde van water”

Ons woon in ‘n sekuriteitskompleks met  onder andere ‘n swembad. Die kompleks het van gemiddelde tot baie duur eenhede. Ses maande van die jaar is van die eenhede beset met buitelanders wat terugkeer na Europa wanneer die Afrika winter naderkruip.

Kort voor lank sien ek hoe die gegoedes met ‘n emmer swembad se kant toe stap. Hulle groet skalks, en stap verder. Skep water en stap met die volgeskepte emmer terug na hul onderskeie eenhede. Ek sit op die stoep en betrag die gedoente. Nie eens hulle baie geld kan vanaand water in hul krane verseker nie.

En ek dink terug aan baie jare gelede.

Ons het in Tzaneen gewoon, op ‘n huurplaas. Die plaas het aan die bure behoort, maar ons kon die huis huur. Lekker ruim huis onder ‘n pragtige ou wilde vyeboom. Daar was ‘n droogte. ‘n Groot droogte. Die Tzaneen-dam, vroeer bekend as die Fanie Botha-dam, was dolleeg. As ek se dolleeg, bedoel ek so leeg dat ons kon klippe verf in die loop waar water moes wees. Daar was geen water nie.

Bedags het ons in die dorp gewerk en saans teruggekeer na die plaas. Omring deur avokado- en mango-boorde was die huis met sy groot stoep gekenmerk met stilte, rustigheid en vrede. Ek was gek oor die stilte en donkerte wat saans na sononder op die plaas kon neerdaal.

Gedurende hierdie tyd was ons aangewese op water wat in die opvangstenk was. En daar was niks. As ek se die opvangstenk was leeg, dan bedoel ek regtig dolleeg. Die krane in die huis het geen water gehad nie, en bad was heeltemal uit. Wanneer ek saans van die werk terugkeer, moes ek tussen die mango bome na my buurman ry, aan sy deur klop, en vra, “het jy vir my water?”  Hy sou dan van sy water met ‘n staalpyp wat na ons plaashuis geloop het, water na my laat deurloop. Net genoeg vir drink- en bietjie afvee-water.

Die hele gesin moes in ‘n twee duim water was. Teen die tyd dat die twee kinders gewas is, was die water so seperig dat die seepwater skubberig aan my vel gesit het. Maar skoon moes ons skoon. Elke druppel water is so spaarsamig moontlik gebruik, want elke liewe waterdruppel het getel.

Die water wat ek van die buurman gekry het, moes vir minstens twee tot drie dae hou. Ongelukkig was ons water elke liewe aand gedaan. En so moes ek aand na aand vir buurman gaan water vra. Dit is glad nie maklik nie.

My buurman kon nie verstaan dat ons water elke aand gedaan is nie, totdat ons sou agterkom die vorige eienaar van die plaas waarop ons bly, elke oggend die plaas besoek.

Die koop van die plaas was nog nie deur nie, en hy het Klein advokadoboompies gehad wat hy elke oggend wanneer ons werk toe is, kom watergee het. Die verbasing, verontwaardigheid en woedendheid was oorweldigend. Vorige eienaar het letterlik elke oggend ons water kom steel ten einde sy avo-boompies water te gee.

Dit was ‘n lang droogte, as ek reg onthou, 7 jaar lank. Boere, dorpenaar en vrugtebome het swaargekry. Nietemin het ek die voorreg gehad om die kosbaarheid van water te leer ken. Tot vandag nog kan ek die mors en oorverbruik van water gladnie hanteer nie. Elke druppel was- en skottelgoed-water probeer ek iewers in die tuin gebruik.

As iemand nooit afhanklik van ‘n paar druppels water was nie, sal hy nooti besef hoe ontsettend kosbaar water is nie. Ek is bly ek kon hierdie duur, kosbare les vroeg in my lewe leer.