sr0904brieweblad01
Eie stories

SARIE-briewe April 2009

Skryf aan SARIE, My sê Tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446-5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie.

Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.

Reëls: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.

Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

Langer briewe sal vir e-briewe hier op die webwerf oorweeg word. SARIE sal dit verwerk en verkort, waar nodig.

BRIEF VAN DIE MAAND

Vang ’n ster


“Catch a falling star and put it in your pocket, save it for a rainy day” . . . Dit was nog altyd my lewensuitkyk. Ek is verlede jaar, op my 44ste verjaardag, met borskanker gediagnoseer. Die mastektomie het my tot op die been gestroop van my vroulikheid, soms ook van my drome en hoop op ’n toekoms.


Die harde werklikheid – verlies aan gesondheid, moontlik ’n korter lewe en minder tyd saam met my kinders – het my in ’n alleenwêreld van vrees binne-in my eie liggaam gedompel, ten spyte van die ondersteuning van omgee-mense.


Maar danksy my leefwyse en die dinge wat ek saam met my geliefdes gedoen het, kan ek in dié tyd vasklou aan ’n “galaxy of light” vol mooi herinneringe.


Ek dank God vir elke “falling star” in my lewe. Leef voluit. Vang daardie ster . . . jy weet nooit wanneer jy ekstra lig gaan nodig hê nie. Wees liewer spyt oor dít wat jy nie gedoen het nie, as oor dít wat jy gedoen het.


Ragel Steyl, Moreleta-rif (lees ook Wini Esterhuizen se brief op Litnet)


Ragel Steyl wen ons prysgeld van R250, asook twee 150 ml-bottels CK IN2U eau de Parfum-sproei ter waarde van R560 elk – een vir jou en een vir hom. spontaan en sexy, met note van hout, blomme en Oosterse geure. Gemaak vir almal wat die lewe met albei hande aangryp!



 

Moederhart

My luilekker middag word kortgeknip deur ’n oproep dat ons seun beroof is, op pad huis toe van die kampus af. Skoolkinders sien dit, maar doen niks nie. Het misdaad regtig alledaags geword?

Ek en my man fynkam die misdaadtoneel en soek vergeefs na ons seun se besittings. Ons is dankbaar hy leef. Ek probeer kalmeer en moed inpraat. Dis nie maklik nie, want ek ervaar emosies wat ek nooit gedink het bestaan nie.

Die son skyn weer, almal gaan hul gang, maar hierdie moederhart is bekommerd. Ons moet ons gemeenskappe beveilig – ons kinders verdien dit.

Mercia Fortuin, Kuilsrivier

Moontlikhede elke oomblik

Ons kla so maklik. Geen salarisverhoging beïndruk die smartvraat nie, want wat die prysstygings nie opslurp nie, sal inflasie en hoër rentekoerse in elk geval verteer.

Soms dink ’n mens omstandighede bepaal jou sukses en geluk. Al kan ons nie veel aan die vreemde klimaatstoestande, swak goudprys, stygende rentekoerse en voedselpryse doen nie, kan elkeen wel op ’n manier ’n verskil aan sy eie en ander se lewe maak.

Die wagwoord is hoe ons op omstandighede reageer. Die lewe is dikwels wat jy daarvan maak! Geduld en vasberadenheid kan positiewe eggo’s uitstuur, wat negatiewe gedagtes die nek omdraai. Soek die goeie in situasies. Dan word elke oomblik vol moontlikhede en môre ’n dag om na uit te sien.

Jacoba, Bloemfontein

Anneline nog mooier

Baie dankie vir die interessante artikel oor Anneline Kriel. Sy is ’n pragtige voorbeeld vir ons. Sy was mooi toe sy as jong meisie die Mej. Wêreld-kroon ontvang het, maar sy’s nou vir my nog mooier. ’n Mens wat mooi van binne is, straal dit uit na buite. Anneline het haar natuurlikheid, waardigheid en menslikheid behou. Ons vroue is nie almal ewe mooi nie, maar ons hoef geensins bang te wees vir die ouderdom nie!

Vivienne Martin, Pretoria


Anneline  Kriel

Annie, wat van Mev. Wêreld!

Dankie vir die pragfoto’s van Annie (Anneline Kriel, Februarie 2009)! Ek volg haar doen en late sedert sy as Mej. SA en Mej. Wêreld gekroon is. Sy word net mooier, en kan nou maar vir die Mev. Wêreld-kompetisie inskryf!


Zet Perry, Gauteng

 
Kom asseblief terug

My lewe val stukkie vir stukkie uitmekaar. Waar hou ’n mens en waar los jy? ’n Mens lees daagliks van ander se hartseer. En dan wonder jy hoe mense in so ’n situasie beland.

Dit sal nooit met mý gebeur nie . . .

Sowaar! My onvoorwaardelike liefde was nie groot en goed genoeg vir my man nie. Hy kies nie vir ons nie, ná alles! Hoe breek jy ’n stukkie van jou hart af en gooi dit weg? Ons is mos een.

Ek bid jy besef ons hoort bymekaar en dat jy as ’n nuwe mens sal terugkom. Ek het jou so lief. Ek dank God dat Hy my in dié tyd staande hou. Hy’s eerste in my lewe, ook in hierdie leerproses.

Dankie, SARIE-vriendin, dat jy geluister het. Elke bietjie praat help.

Nuwe hoop, Pretoria-Noord

Hartklop

My skoonma het my vir my verjaardag op SARIE ingeteken – wat ’n absolute bederf van die huis af! Nie ’n oomblik sal ek begin kla oor ons lewe in Londen nie. Hier doen ons goeie ervaring op, veg ons ons eie gevegte en soek geluk tussen die min sonskyn en baie nuwe vriende.

Soms verg dit moeite om seker te maak jou hart bly eg Afrikaans en trots Suid-Afrikaans. Elke maand wanneer die posbode my SARIE aflewer, klop my hart sonder enige moeite suiwer Afrikaans! Ná ’n paar dae se selfsugtige plesier deel ek my tydskrif met my huismaats. Dis hoe dinge hier werk.

Danksy ’n wonderlike skoonma en ’n fantastiese tydskrif onthou ons huis-dinge. ’n Warm dankie aan julle albei uit ’n nat en koue Londen!

Marlein Fanoy, Stratford

Gee Steve net kans

Ek lees met hartseer die artikel oor Carien Hofmeyr (“Steve se ma praat 1ste keer”, Maart 2009). Sy weet nie waar die kwaad vandaan kom nie. Ek is deur ’n huwelik van 12 jaar van emosionele aftakeling deur my gewese man én sy pa. Menigmaal het ek met my dogtertjie na my ouers “gevlug”.


Ek is 5 maande geskei, en my kwaad en aggressie is iets van die verlede. Ek het ’n wonderlike man in my lewe wat my soos ’n prinses behandel. Ek het God opnuut gevind en het vrede in my hart.


Ek was ook op ’n vernietigingstog, het te veel gekuier en het mans se aandag verwelkom. Hoekom? Omdat ek leeg en seer was. Omdat daar ’n gat in my hart was. Dís hoekom mense so optree, Carien.


Almal wys die vinger na Steve. Maar ek glo niemand sal ander liefde soek as mense ware sielsgenote is nie. Steve sal nog by daardie vrede uitkom, gee hom kans.


Seer is verby, Bloemfontein


Carien Hofmeyr


Staan by jou seun


Ek is ook ’n ma! En vir Steve se ma wil ek net sê: Staan by jou seun. God het hom vir jou gegee. Diegene wat Steve nie in vrede kan los nie, beroof hulle van hul eie tyd. God het ons elkeen net een lewe gegee.

Die asem wat mense mors, kan hulle eerder gebruik om onkruid uit die tuin te trek of ’n knoop aan te werk wat al lank af is. Gebruik jul krag positief. Los maar vir Steve en kry jul eie lewe in orde. Vee die spinnerakke onder jul eie bed uit. Steve is mooi groot. Laat hom toe om sý spinnerakke self uit te sorteer.


Rina van Zyl, Boksburg

 

 

Dink weer, Natasha . . .


Ek pak my oorvol tydskrifrak uit en kom af op die Oktober 2008-SARIE waarop die “skrikwekkend mooi” Natasha Sutherland pryk.


Ek voel ek móét net vir haar sê: Ek en my man was in Desember 2008 50 jaar getroud. Ons het deur die jare sakke sout opgeëet en teleurstellings gehad, maar daar was ook vergifnis.


Jy, en almal wat ’n egskeiding oorweeg, moenie oorhaastig wees nie. As ’n mens jare later terugkyk, is jy bly oor die besluit van saam deurworstel, verwerk en oorwin . . . omdat julle mekaar liefgehad het! Dis ’n vreugde om saam oud te word.


Wysheid in die grysheid, Amanzimtoti