sr0911brieweblad01_bottle
Eie stories

SARIE-briewe April 2010

Brief van die maand –
Kind in ’n geur

Vandag oor ’n week trou my kind, ousus, my beste vriendin, vertroueling en my eerste baba! En ek dink terug . . . bontgeverfde herinneringe van kleuterskool, haasbek-oggende se hare kam en stertjies maak, atletiek op pasgereënde grasgroen gras, en bordkryt-reuke in haar skooltas. Ek onthou die kosblik se krummels in die waspapier, die reuk van ’n warm plastiek-koeldrankbotteltjie.
Ek onthou grootseun-wolwe wat haar inwag in graad 8 en die vreugdes van matriek. Ek sal nooit die baie trane van die aflaaiery by die universiteit vergeet nie. Dis so seer vir ’n ouerhart! Die naelstring word finaal geknip en die term “jou kinders word aan jou geleen” kry al hoe meer diepte deur my verlange. Ek sien die sterre in haar oë toe haar trouman begin kuier, die opwinding van ring soek en verloof raak. Dis alles vreeslik vinnig verby, in ’n oogwink, selfs nog gouer!
Volgende Saterdag haak sy by haar pa in voor die kerk. Ek hoop my maskara is regtig
waterproof.
Irma Viljoen, Standerton

 

Verfrissend

Ek weet nie of ek vandag oor-emosioneel is nie, maar ek is regtig geraak deur jul artikel oor Nico Panagio (Februarie 2010). Dis vir my só lekker om te lees hoe mooi hy van sy vrou, Christi, praat. “Die tweede week dat ek nie by Christi is nie, mis ek haar erg. Teen die derde week maak dit seer,” vertel hy.
Hierdie woorde is so opreg en hartroerend. Ek het gedink: “What a man!” Christi is sy nr. 1-prioriteit, nie sy suksesvolle en opwindende beroep nie.
Ons gewone mense is so moeg van celebrity-paartjies wat konstant misluk in hul verhoudings . . . veral ons celeb-mans wat hul vroue verkul. Is dit ’n modegier? Dis asof “sukses en glans” eenvoudig nie saam met “gelukkige huwelik” in een sin gebruik word nie. Dis verfrissend om te lees hoe erg dié twee oor mekaar is. Julle gee ons skeptiese mense hoop!
Karla, Bellville

Trouvrou-droom
Deon Maas was dalk menige Idols-deelnemer se pyn en nagmerrie, maar ek dink hy’s een van die min mans wat ’n vrou beskryf wat bestaan (“Hoe lyk ’n trouvrou?”, Februarie 2010). Maas wil nie hê sy moet net sy ego streel nie, maar sy moet kan kaalvoet wees of op hoë hakke rondloop. Sy moet vol game en geheime of die “queen in the bed” wees.
Shame
, die ander mans in die artikel sal taamlik lank na hul trouvrou soek, ás hulle haar gaan kry. As sy heeltyd agter die kinders moet aanhardloop, Meneer se ego moet streel, heeltyd – selfs in die PMS-tye – builoos en rustig moet wees, sal sy dood neerslaan en nie omgee of haar naels nog hul “French look” het en of haar hare goed lyk nie.
Dream on, manne, ek hoop julle kry jul lewelose droomvrou.
Madeleen Grobler, Pretoria

Karre vol liefde
Ons was in die Desember-vakansie in die Wes-Kaap. Ek het my verwonder aan die luukse strandhuise met die asemrowende see-uitsigte, en luukse seiljagte wat soos Dromedarisse statig by Knysna se Waterfront ingesweef kom.
Soms, wanneer ons na die swemstrand gegaan het, het afslaankap-motors by die parkeerterrein hul buiging gemaak – tot almal se bewondering. My seuntjie vra my – so ewe kop onderstebo – hoekom Pappa nie ook so ’n kar kan ry nie, “dan sal almal mos ook vir ons kyk as ons kom swem”. My dogtertjie antwoord: “Ons het mos ’n kar, en Pappa en Mamma is lief vir ons.”
Daar het jy dit. Geld is nie alles nie. Om mekaar te hê is baie waardevoller. Niks kom naby ’n liefdevolle drukkie van my dogter of om elke aand styf in my man se arms te lê nie.
Dankbaar, Hartbeespoort

2010 met rooi lippe
1 Januarie 2010 . . . 00:01. Sy’s hier! Elke klapper kondig haar koms aan. Sy loer met ’n glimlag in die maanskyn deur my kamer se dakvenster . . . en haar lippe is rooi. Ja, sy het met groot fanfare opgedaag. En ek moet saamgaan.
2010 kan net ’n vrou wees, want geen wese op aarde kan soveel afwagting en verwagting dra as net ’n vrou nie. Die jaar gaan wonderlik wees, en dit het niks met sokker te doen nie.
Ek lees oor ’n eksperiment met water. Die wetenskaplike het elke dag vir een glaswater lelike woorde gesê, soos “kwaad”, “woede”, “hartseer”, en dit teen die glas geplak. Teenoor die tweede glas het hy net positiewe woorde gebruik. Ná ’n ruk het die water in die “negatiewe” glas al dowwer geword en dié in die positiewe glas al helderder en lekkerder. Met ons samestelling van 70% water is die uitwerking dieselfde.
Vanjaar gaan my positiewe jaar wees, my dankbaar-jaar, my omgee-jaar, my ek-besluit-wat-is-belangrik-en-dringend-jaar.
Carla Pattison, Midrand

Kamma-mamma
Ek is nooit getroud nie en het geen kinders nie. Nou probeer ek die beste tannie wees. Ek’s lief vir die kinders in ons gesin, en het een peetkind (7), wat ’n spesiale plek in my hart het. Een keer per week kry ek ’n bederfkans om ’n “kamma-mamma” te wees. Dan gaan laai ek haar by die skool af. Die vyf minute in die motor is ’n ritueel. Ons luister na ’n gospel-liedjie, met haar hand in myne.
Terwyl ons hand-aan-hand klaskamer toe loop, straal die lekkerte van saamloop uit die ogies. En dan kry ek ’n soentjie wat tot by die motor vir my aangeblaas word.
Ek wonder hoekom so min ouers hierdie bederfkanse gebruik. Kinders word vinnig groot en dan stuur hulle nie meer windsoentjies nie, en hou nie meer jou hand vas nie. Is dit net omdat ek ’n kamma-mamma is dat ek die bedel in hul oë sien vir ’n bederfie van saamloop?
Ek sal nie omgee om dit elke dag te doen nie . . . dié bederf vir my is net soveel groter!
Alet Beeslaar, Centurion

 

Nataniël die ‘towenaar’

Ek het die Februarie-SARIE gekoop vir my vriendin om ’n rysresep in te stuur sodat sy die reis vir twee na Thailand kan wen (“Wen ’n kostoer na Thailand”). Sy kom van Thailand en is met ’n Suid-Afrikaner getroud. Vriende van haar was oor die Kerstyd Thailand toe, en ek kon die verlange in haar oë sien. Toe ek die kompetisie sien, het ek geweet dit sal haar dag maak.
Toe begin ek deur die tydskrif blaai, tot by Nataniël se Kaalkop, en besef ek gaan meer uit hierdie SARIE kry as net ’n kompetisie. Ek begin kliphard lag toe ek sy rubriek lees. Hy sê ’n ding soos dit is. En ek dink baie mense het nodig om meer realisties te wees.
Hy’s definitief die towenaar in ons lewens! Ek was by een van sy konserte – was seker onder die eerstes wat kaartjies gekoop het. Binne vyf minute was al my grimering van my gesig afgehuil van die lag.
Renate Russouw, Langebaan

 

Hou by
Die jaar is nog jonk, met baie onsekerheid oor alles wat nog voorlê. Ek het ’n dogter in graad 12 en een in graad 7. Ek dink aan die rybewys wat vanjaar volg, die talle skoolkampe én die matriekafskeid.
Gaan ’n mens kan byhou met alles, wonder ek, en raak ’n bietjie paniekerig. Toe lees ek my dagteks en kry die antwoord: “Moenie toelaat dat jou negatiewe en afbrekende gedagtes oor jouself en jou lewe jou pootjie nie. Vra elke dag dat die Gees jou sal help om te glo dat jy ’n suksesvolle en positiewe lewe kan lei. Vertrou dat jy met God aan jou sy tot enigiets in staat is.”
Ek kry dadelik skaam vir myself. Ek weet as ek Hom deel van elke gedagte en droom van my lewe gaan maak, gaan ek tot soveel meer in staat wees!
Positief, Kemptonpark

Met ’n glimlag huis toe
Ek het ’n spesiale kind, gebore toe ek ook nog ’n kind was . . . my eerste ontmoeting met ’n blinde persoon. Ek moes maar op instink staatmaak. Toe hy 12 was, is sy pa oorlede.
Ek het hom na die Skool vir Blindes op Worcester geneem. Hy’s steeds daar, nou 48 jaar oud. Ons leef vir die tye wanneer hy huis toe kom. Vrydae kom hy met ’n groot glimlag huis toe en Sondae vertrek hy sonder ’n glimlag. As hy weggaan, staan ek langs die bussie en tik met my nael teen die ruit waar hy sit. Dan lig hy sy hand in ’n groet.
Wanneer hy naweke by die koshuis bly, stel ek die Sondag my wekker vir elfuur, want dan wag hy by die telefoon dat ek bel, al vir so baie jare.
Hy’t ons gesin so nederig gemaak. Ek kan nie dink hoe ons lewe sonder hom sou gewees het nie. Hy gaan môre terug. Vanoggend loop my trane stil oor my wange. Hy vra: “Het Ma hooikoors?”
Ek sê: “Ja, bietjie.”
Liefdeskind, Noorder-Paarl

Waarheen op pad?
“Elke dag ’n pelgrim” (SARIE, Maart 2010) . . . dis só waar. Ons is almal pelgrims na daardie onbekende. Daar waar ons stukkie geluk aan die voet van die reënboog wag.
As ons maar net ons oë kan oopmaak vir die geluk wat ons elke dag ervaar, ín ons, bý ons.
God het elkeen van ons na sy beeld geskape en ons toegerus om ons roeping op aarde uit te leef met ’n glimlag en ’n mooi antwoord op daardie onverstaanbare vraag. Dan, ja, dan sal ons lewens vorm aanneem in hierdie “koninkryk” op aarde.
Waarheen is ons op pad? En daardie vrag op jou rug? Is dit nodig? Skud dit af. ’n Blink toekoms wag op jou.
Griet Meyer, Germiston

 

Jou sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie. REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.