010509srh154
Eie stories

SARIE-briewe Augustus 2009

REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

BRIEF VAN DIE MAAND

 

Kyk boontoe

Ek en my man ervaar ’n groot finansiële krisis. Die prokureur het laat weet die twee motors word teruggeneem. My man probeer sy stres vir ander mense wegsteek, maar verskree my.
Ek probeer ter wille van die kinders nederig bly. Soms brand my keel, ek kan nie praat nie. Ek wil die seerkry binne hou.
Ek gooi R50 se brandstof in. Die petroljoggie glimlag breed, en net voor ek wegry, sê hy: “Mevrou, jy’s number one!” Ek kyk vir hom, maar uit my brandende keel kry ek nie ’n woord nie. Hy herhaal dieselfde woorde, met ’n “oukei!” agterna. Ek knik net my kop en ry weg.
Die dominee preek oor die wêreldwye geldkrisis. Hy sê jy moenie afkyk of voor jou nie, maar boontoe. Ek dink weer aan die petroljoggie se woorde. In God se oë is ek number one, al praat Hy deur mense wat ek nie ken nie.
Nommer een, Mosselbaai

Vandeesmaand ontvang die skrywer van ons wenbrief ons prysgeld van R250, asook ’n CK One EDT-versamelaarsbottel van 100 ml wat versier is met die woorde “we are one” in verskeie tale. Dié bottel spog ook met ’n verwyderbare MP3-speler met ’n luidspreker. CK One het geurnote van pynappel, jasmyn, neutmuskaat, roos en papaja.

Hawe van liefde

Donnalee Roberts (7de Laan-aktrise) en haar ma

Ek lees met groot heimwee jul artikel oor enkelmoeders (Mei 2009). My ma het in die 1950’s self dié pad geloop toe sy geskei en met drie klein kindertjies agtergelaat is.

Sy’t baie ondersteuning en liefde van haar ouers gekry, maar is nie so geredelik deur die samelewing aanvaar soos vandag die geval met geskeides en enkelmoeders is nie.

Ek onthou haar trane oor die snedige aanmerkings wat sy soms verduur het. Ons het baie rondgetrek, maar elke plek was ’n hawe van liefde. Sy was ’n grapjas en ons het baie pret gehad, veral wanneer sy mense nageboots het. Ná haar dood het ons gehoor hoe sy talle mense in tye van nood bygestaan het, moreel en materieel.

Sy het ons geleer om in moeilike omstandighede vasberade te wees, mekaar lief te hê, en om hardwerkend en gelowig te wees. Vandag besef ons sy was ’n formidabele vrou.

Rita, Johannesburg

Saterdag se bederf

Ek verlang na die Saterdae – my pa en boetie by ’n rugbywedstryd, en ek en my ma op die bed. Ons smul saam aan sjokolade en blaai deur SARIE.
Toe ek so elf jaar oud was, het ek begin saamgesels oor skoonheid en resepte. Ek het ’n knipsel met skoonheidswenke vir elke dag van die week. Die produkte-pryse? R1,50 elk vir badolie en skuimbad, R1,80 vir velolie en R1,10 vir lyfpoeier! En in my tienerjare het ek met skoonheidsidees uit SARIE begin eksperimenteer – tuisgemaakte gesigmaskers en suurlemoensap vir blink hare.
‘n Knipsel uit die sestigerjare lees onder meer: Party meisies is geseën met ’n pragtige vel en ’n mooi figuur, maar hulle is in die minderheid. Selfs jy met jou sproetgesiggie, wipneusie en mollige lyfie kan aantreklik wees as jy van jou blinkgeborselde hare tot jou toonnaels silwerskoon is. My dogters ken dit ook!
As pasgetroude in die sewentigerjare het ek uit SARIE leer kook. Die speserykoek bly ’n treffer in ons huis. En die artikels oor binneversiering was deur die jare ’n inspirasie om van ons huis ’n tuiste te maak. Lank lewe SARIE!
Theresa Smith, Rondebosch

Die mat trek ver

Jy het op 6 Augustus 1980 net 60c gekos. My ma het die mat gehekel wat op die inlasfoto op jou voorblad verskyn het. Ek was toe in graad 11.
Die mat was op die vloer in die huis aan die Suidkus. Granny, toe reeds in haar tagtigs, het kom kuier. Tot groot vermaak van ons kinders, wat toe nie die gevaar besef het as ’n bejaarde val nie, het sy op die mat gegly. Sy’t gelukkig geen breuke opgedoen nie. Miskien was dit haar SARIE-“beskermengel”.
Die mat het talle “Groot Trekke” – van die Suidkus en Rustenburg tot in Pretoria – oorleef en is nog net so mooi. My ma is in 2002 aan kanker oorlede, maar haar handewerk sal nog lank my woonstel versier.
Dankie vir al die jare se wonderlike leesbederf, al die raad wat uitgedeel is, die heerlike geregte wat ek gemaak het, die prente wat my kinders se boeke versier het en die tye wanneer ek net kon ontspan met my jare lange vriendin, SARIE.
Janet Marnewick, Sunnyside

Dagdrome

Ek lees graag SARIE en sien dan die mooiste blink goed, die pragtigste mense en plekke waar ek nooit sal kom nie. Weet julle, ek begeer ook hierdie mooi goed vir my huis, vir my kinders, en vir al die arm vroue wat ook maar net kan kyk. Ek droom nou maar net van ’n bootreis en ’n eiland-vakansie.
Die Bybel sê jy mag nie begeer nie . . . hoe nou? Ek lees die artikels, beleef dit en dit kom lê hier in my hart en word vertroetel om dit dalk ook eendag self te ervaar. Is dit verkeerd?
Dankie, SARIE, dat ek minstens alles kan sien!
Jennie Agenbach, Okahandja

Naby die huis

Dis ’n sonskyndag in die suide van Frankryk en ek lê en lees die SARIE wat my skoonma vir my gepos het,
al die pad van Graaff-Reinet af. Ek besef opnuut dat ons alles so maklik as vanselfsprekend aanvaar, want hoe waardeer ek nie vandag hierdie SARIE nie. Met elke woord wat ek lees, verlang ek huis toe en dink ek aan die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika”. Ek sing dit saggies terwyl ’n opgewondenheid in my borrel oor die artikels wat volg.
Dankie, SARIE, dat jy my in ’n vreemde land so naby aan die huis laat voel het.
Jana Larson, Lourdes

Uit die argiewe

50’s


16 April 1952-voorblad van SARIE

 

16 April 1952

 

Wie mag veroordeel?


Hoe baie keer maak ons nie ander se gevoelens onnodig seer nie! Gister lees ek nog in ’n tydskrif hoe kras sommige briefskrywers te kere gaan oor mense wat net een kind of glad nie kinders het nie. Hoe dankbaar kan u wat wel meer het nie wees nie, maar is u altyd? En is ons so seker dat die vrou wat net een kind het nog meer kan hê? En die taktlose opmerkings: “Jy weet ’n huis sonder kinders is geen huis nie. Alle mans wil tog kinders hê.” Dis soos iets wat jy sonder ’n wapen moet beveg. Wees tog versigtig as u volgende keer in die versoeking kom om so iets te sê.

Heimwee, Mamreweg

 

60’s


10 September 1969

 

Kompleet nes ’n mansmens


Onlangs het my tant Maria en oom Flip vir die eerste keer ’n vakansie in ’n hotel  deurgebring. Ons het tant Maria dit gegun, omdat sy elke vakansie in hul strandhuis was met baie gaste en geen bediende om te help nie. Toe sy terugkeer, was my eerste vraag aan haar dan ook: “Tante, en hoe voel dit om agteroor te sit en bedien te word?” “Ag, kind,” antwoord sy, “ek het presies soos ’n man gevoel: eet, opstaan, aanstap . . . kompleet nes ’n man.”

Katinka op O

 

In my hart

Ek is die trotse ma van vier kinders. Hoewel twee (my man s’n) nie my vlees en bloed is nie, het hulle my hart. Ek het egter eers besef wat dit is om régtig ma te wees toe my tweeling in Januarie gebore is. Toe ek my seun en dogter sien, het my hart gebreek.
Hoekom? Terwyl ons so lank gesukkel het om ’n kind van ons eie te kry, was daar ’n ma daar buite wat twee wonderlike kinders het, maar hulle nie wil hê nie. Wat nie bekommerd was of hulle ’n broodjie het om by die skool te eet nie, of hulle warm slaap of liefde ontvang nie.
Terwyl ek oor my kinders se toekoms droom, kan ek nie my lewe sonder een van hulle voorstel nie. Hoe kan ’n ma nie vir haar kinders omgee nie. Dankie aan al die ma’s wat hul kinders liefhet. Dankie aan my wonderlike man en pa van ons kinders. Dankie ook aan die Hemelse Vader, want Hy het hulle oor my pad gestuur.
Mamma, Kaapstad

Opgespoor deur blokraai

SARIE is my getroue vriendin, en ek los haar nie totdat ek álles gelees het nie. En toe kry ek die grootste verrassing in ’n baie lang tyd. Ek lees deur die lys wenners van jul blokraai en kom af op die naam en adres van ’n ou vriendin wat ek al jare in die hande probeer kry. Sy gaan net so verras wees oor my brief met die baie onthou-jy-nogs!
Molly Cawalla, Doringkloof

Nog ’n Sarie

Ek is ook ’n Sarie, wat in November vanjaar 60 jaar oud word. Dankie vir ’n lieflike tydskrif wat ek sedert my 20ste verjaardag koop. Menige trui is uit SARIE gebrei. Kinders is met jóú raad grootgemaak. Baie kinderpartytjies is gehou met al jou watertand-resepte wat ek deur die jare versamel het en nou aan my kinders gegee het.
My gunsteling-rubrieke is Op die vrou af en Kaalkop. André le Roux en Nataniël slaan altyd die spyker op die kop! SARIE is werklik nog deur al die jare ’n positiewe, ontspannende tydskrif wat jy oral met jou kan saamneem.
Hou so aan!
Sarie Luus, Centurion