august_parow
Eie stories

SARIE-briewe Augustus 2010

Ons vang ‘gees’

As Afrikaanssprekende word ’n mens mos maar met rugby groot en dus was ek min gepla oor Fifa se
Wêreldbekersokkertoernooi. Ek vra wel eendag vir ons tuinhulp wie sy gunsteling-span is. Hy gaan vir Bafana Bafana skree, maar Brasilië is eintlik sy span. Op die ingewing van die oomblik koop ek vir hom ’n SA vlaggie en een van Brasilië.

Ek besoek Fifa se webwerf en druk die wêreldkaart met die deelnemende lande en hul vlae vir hom uit. Só begin ’n mini-aardrykskundeles. Later vertel hy hoe hy sy vriende danksy die kaart op die hoogte hou van die toernooi.

En skielik vang ons ook “gees”! Ek grawe ’n SA vlaggie uit en my man hang ’n string vlaggies van die ander lande op tussen die bome op ons erf. Met die openingseremonie sit ons vasgenael voor die TV. Ons bespreek geesdriftig spanne, koop serpe en koffiebekers, en leer wie speel vir watter span.

Ek sal 2010 nooit vergeet nie! Die duisende wapperende vlae, Suid-Afrikaners wat oor kleurgrense heen mekaar omhels as Bafana ’n doel aanteken en almal wat “ayoba” en “ke nako” skree, is beelde wat ek vir altyd in my geheue sal bewaar. 

Nuwe sokkeraanhanger, Rant-en-Dal

*Lees ook “Gees: Kyk, dit het ons!” op sarie.com > Ons gesels > Redakteursbrief

 

Brief van die maand


‘Nuwe sokkeraanhanger’ wen vandeesmaand R250 kontant, asook ’n 50 ml- en ’n 100 ml-bottel Versace Versus ter waarde van R1 430. Versus is vroulik en het ’n hart van blomme – lemoenblom en roos. Die dinamiese geur het topnote van die koemkwat, die uniekheid van die ster-appel en die varsheid van suurlemoen. Versus is pure energie.



  
Waspapier in Korea

Ek kry af en toe ’n gevoel van totale onbeholpenheid sedert ek myself in ’n volksvreemde land soos Korea bevind.
Vanoggend soek ek waspapier in die supermark. ’n Gier het my beetgepak om blomme te pars, net om die mooi van die lente in my huidige tuisdorp te onthou. Hiervoor het ek waspapier nodig, of só sê die aanwysings.

Ek kyk na die produkte, maar die Koreaanse geskribbel maak nie nou méér sin as vyf minute gelede toe ek dieselfde pakkie in my hand gehou het nie.

Die bekende gevoel van hulpeloosheid sak op my neer, want ondanks al die hoeveelhede kleefplastiek en foelie in alle denkbare groottes, kry ek net nie waarna ek soek nie. Ek moes lankal die taal onder die knie gekry het, maar hoeveel woorde sou ek nie moes leer voor ek by “waspapier” uitkom nie.

Moedeloos laat vaar ek die soektog en stap na die sjampoerak. Daar het ek minstens die stryd teen onbeholpenheid gewen.
Suzette Bornman, Suid-Korea

Namens die kinders

Soveel publisiteit is reeds aan Cezanne Visser en haar ma, mev. Susan Lemmer, gegee (“Nou val my lewe uitmekaar”, Julie) dat ek wonder of daar gedink word aan die kinders wat vir die res van hul lewe geskend is? Een van die jong vroue wat as kind deur me. Visser gemolesteer is, het selfmoord gepleeg.

Kinders vertrou maklik volwassenes en weet nie altyd seksuele mishandeling is verkeerd nie. Die meeste seksueel gemolesteerde kinders voel verantwoordelik vir dít wat gebeur het. Hulle ervaar verwerping en probeer ander maniere, onder meer dwelms en prostitusie, om aanvaar te word.

Nie alle gemolesteerde kinders ontvang terapie nie. Hulle ondervind dan later in hul lewe emosionele en sosiale probleme.

Ek is ’n maatskaplike werker by die Teddy Bear-kliniek in Johannesburg, en werk met sulke kinders. Klem moet geplaas word op gemolesteerde kinders en nie net op die molesteerder, soos in hierdie geval, nie.
Esmé de Weerdt, Sandton

*Lees ook “Ek verkwalik myself” – Adv. Barbie se ma, op sarie.com

 

Cool is hier

Vandag is alles cool. Rapper Jack Parow maak my trots om anders te wees en die gehalte-lirieke van Fokofpolisiekar ewenaar die goeie oues s’n. Daardie neigings van oorsee, waar die plaaslike talent soos die laaste drie frikkadelle in ’n braaipan moes dryf, is uiteindelik verby, en die ideaal van diversiteit het my realiteit geword. Alles en almal is aanvaarbaar!

Ek wens ek kon jare gelede geleer het dat my velkleur, geloofsoortuiging, seksuele oriëntasie of ’n kledingstuk nie hoef styf te sit nie. Stywe klere is nie cool nie. Dis ongemaklik.

Hou op tob oor gister. Drome is net cool as dit nag is. Die tyd van cool het aangebreek, en ek en jy kan terugsit en dit geniet. Vandag is jy cool.

Elana Esterhuyse, Vredendal


*Jack Parow is deel vam Pendoring se Afrikaans-is-cool-veldtog vir 2010.

  Gaan na www.youtube.com/user/pendoringawards

  
Dankie?

Waarheen het al die liefde, respek en waardering verdwyn? Daar is nie meer komplimente nie, net verwyt. Ek doen my bes om my vir jou mooi te maak, maar jy sien net die vetjies raak wat nog nie heeltemal weg is ná die swangerskap nie. Jy sê nie dankie dat ons kind elke dag skoon en gesond is en ’n vol magie het nie. Net harde woorde omdat ek bekommerd is wanneer hy ’n bietjie koorsig voel. Die koffie is te flou, die kos te vervelig!

Wat van “dankie dat ek soggens koffie kry, dat my klere skoon is, dat jy snags opstaan om ons kind rustig te maak” of “dankie dat jy ná ’n besige dag steeds tyd maak vir my en my behoeftes”?

Ek het nie verander nie. My verantwoordelikhede het net ’n bietjie meer geword!
Hartseer, Kroonstad

Albi se taal

Lanklaas het ’n flitsverhaal my so getref soos “Tjimba” (Junie). Mooi so, Albi Prinsloo! Gee vir ons meer goeie taalgebruik soos in hierdie verhaal.

Ek het ’n soortgelyke ondervinding gehad, maar in my eie woorde sou dit geen indruk by die lesers gelaat het nie.

Die Tjimba, hoewel hulle geen internet het nie, het goed geweet hoe om ’n malaria-aanval te behandel. Die koestering tussen man en vrou word mooi uitgebeeld. Die ontwaking van die vrou se besef wat haar man werklik vir haar beteken en hoe die natuur rondom haar haar beïndruk, is treffend.

Ek lees SARIE (Marais) sedert haar beginjare – eers gekoop en toe ingeteken. Alles word gelos wanneer SARIE by die deur afgelewer word. Sy’s ’n dierbare vriendin, ook vir my twee skoondogters.
Taalgogga, Pietermaritzburg

Onderdanig met ’n wil

Is ons onderdanig of is ons nie? Wie gee om? Miskien diegene wat iets het om te bewys? Onderdanigheid was by my en my man nog nooit ’n kwessie nie. Waar daar respek en liefde is, hoef ons nie hieroor te debatteer nie.

As ek ooit gevra word of ek onderdanig aan my man sal wees, sal my antwoord sonder twyfel “ja” wees. Hy leef naby God en laat God toe om hom te lei en te vorm. Ná elke Mighty Men- byeenkoms is ons twee liewer vir mekaar.

En is dit nie soms lekker om onderdanig te wees nie? Om nie die verantwoordelikheid van ’n besluit hoef te dra nie.

Ek moet daagliks besluite neem – van wat om aan te trek tot logistieke besluite oor vervoer en hantering van personeel. Dán is ek bly ek kan soms net inval by my man se besluit.

Dit beteken glad nie dat ek nie ’n wil van my eie het nie! Maar ek is dankbaar vir manne wat leer om sterk te wees in God.
R. van Groenkloof

*Lees ook “Angus Buchan: Die vrou is die hart van die huis” op sarie.com > My styl>Praat Met

 

Viva! vir die straatveërs

Dis seweuur op ’n nat en koue oggend, en ek is op pad werk toe. Ek kyk na die ander bestuurders om my. Hulle lyk gefrustreerd, moeg en koud. Hoekom is daar so min glimlagte? Hoekom lyk almal so miserabel?

’n Munisipale voertuig ry stadig voor my. Ek wil mor, maar dan spring die vrolikste mense met besems uit. Dit lag en gesels en maak grappies. Groot glimlagte met geen tande.

Ek maak my venster oop – koue en nattigheid ten spyt – en ek hoor die wonderlikste Afrikaanse humor, so vroegoggend. Dit plaas ’n dankbare glimlag op my gesig.

Dié straatveërs is gelukkig. Hulle werk hard in reën en sonskyn. Hulle wys vir my daar is ’n kleurrykheid, vrolikheid en gelukkigheid in die swaarkry in hierdie komplekse land van ons.

Ek salueer hul lewensblyheid. Viva die straatveërs van Kaapstad!

Sandra van Rensburg, Rondebosch



SARIE is alles-in-een
Ag, ek wil sommer met die deur in die huis val en met ’n kompliment begin. Veels geluk met SARIE! Sy is so ’n groot sukses! Sy is voorwaar ’n inspirasie en ’n vriendin vir elke vrou (ek dink selfs ’n beste vriendin vir party).
Dit is met die absolute opgewondenheid van ’n voornemende gr. 1-kind dat ek maand ná maand hierdie alles-in-een-tydskrif gaan koop. SARIE is ’n dokter, ’n sielkundige, ’n briljante kok, ’n dieetkundige, ’n sielsvriendin en vele meer!

Mag sy aanhou om ons lewens jaar in en jaar uit te verryk en ons siele te laat asemhaal. Dis ’n voorreg om ’n leser te kan wees!
Ingemari Loots, Thabazimbi

Jóú sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Langer briewe word oorweeg vir sarie.com se E-briewe-afdeling. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.

REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.

Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.