sr0912brieweblad
Eie stories

SARIE-briewe Desember 2009

Naasteliefde in aksie

Op 19 Junie 2009 gebeur ’n wonderwerk. Ons gesin van vyf word lewendig uit die wrak van ’n dubbelkajuit gehaal. My lewe word tot stilstand geruk.
Skielik besef ek hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek smag daarna om self my kind te kan troos, te kan loop, te kan omdraai as ek ongemaklik lê, my vrou te kan vashou, op my knieë te kan bid en self my tande te borsel.Watter skok toe ek hoor my vrou sal dalk nie weer kan loop nie, maar watter vreugde toe die operasie ’n sukses is.
Watter les om “en jou naaste liefhê soos jouself” in aksie te sien. Watter voorreg om te kan glo dat Hy nog werk vir ons hier op aarde het.
Ek kry nuwe perspektief op vriendskap met die optrede van die (toe) onbekende vrou wat my beangste kind ná die ongeluk getroos het. Vriendskap is om iets vir ander te doen sonder om enigiets in ruil daarvoor te verwag.
Naude Pienaar, Buhrmannsdrift

 

Brief van die Maand

Dankbare droom


My Facebook-update gisteraand was: “Ek’s dankbaar vir my man, my werk, my drome, my lewe.” My beker was vol. Nie omdat iets spesifieks gebeur het nie, maar omdat ek geweet het my lewe kon soveel anders gewees het.

En skaars 12 uur later sien ek dit in die oë van ander. Ek besoek ’n gemeentelid in ’n staatshospitaal, en kry haar 37 uur ná haar aankoms steeds in Ongevalle.

By die uitgang staan ’n ma, met twee kindertjies. Sy kyk bekommerd rond oor hoe hulle by die huis gaan kom. Ek laai hulle op en luister na haar hartverskeurende trane. Haar oudste moet dringend ’n mangeloperasie kry, maar nie eens Ongevalle het ’n bed vir hom nie.

By hul huis belowe ek om hulle môre weer te kom haal. Haar oë is hoopvol. Net ’n flikkering, maar tog, want iemand wil help.

My trane rol, want ek’s dankbaar dat ek iemand kan help. Dankbaar om te kan droom oor meer as net ’n hospitaalbed vir my kind.

Marlize Gasson, Benoni


Marlize is vandeesmaand die wenner van R250 kontant, asook ’n 50 ml-bottel elk van Amarige – ’n klassieke geur vir die dag, Absolutely Irresistible Givenchy – ’n blomgeur met speserynote, en Ange ou Démon Le Secret – ’n spel tussen lig en donker. Die parfuum is R2 470 werd.

Moenie oordeel nie

Ek lees “Dilemma: My seun is gay” (Oktober) met my hart wat in duisende stukke is.
Ek het onlangs my (gay) lewensmaat van 18 jaar ná ’n onverwagte en kort siekte verloor. Hoe begin ek op 42 van voor af my lewe opbou? Ons verhouding was een van wedersydse respek, ondersteuning, moed inpraat en humor.
Ons ouers, familielede en kollegas het in ons vreugdes gedeel, sonder enige oordeel of vooropgestelde negatiewe idees.
Die tradisionele Joodse begrafnis vir hom was iets besonders. Met my Afrikaanse pa en my Joodse “ma” aan my sy was daar liefde en onderskraging. Die rabbi het afgesluit met ’n pragtige boodskap oor my en Paul se ongelooflike band en die voorbeeld wat ons vir baie gestel het.
Aan ouers met gay kinders: Gee hulle liefde en onvoorwaardelike aanvaarding. Die lewe is te kort vir die oordeel van ander.
Jaco Janse van Rensburg, Sandton

Ek’s vrou!

Die ander dag loer ek deur my venster na ’n groepie meisies wat straat-af loop. Hulle giggel en gil, en is vasgevang in ’n oomblik van algehele vryheid en vriendskap.
Later die dag wag ek vir ’n vriendin vir ons weeklikse koppie tee. By die tafel langsaan sit ’n man en sy swanger vrou. Hulle hou hande vas en hy vertel haar hoe mooi sy is.
En ek besef dis die klein dingetjies in die lewe wat dit lekker maak om ’n vrou te wees. ’n Knipoog van jou man of ’n kompliment van ’n vriend . . . sommer net, om geen rede nie. Ons fassineer ons mans, inspireer ons kinders en koester ons vriendinne. Sowaar, dis wonderlik om ’n vrou te wees.
Christien Boshoff, Tsumeb

Dankie Izak

Die November-SARIE was ’n besonderse uitgawe met al die huldeblyke aan ons geliefde Izak de Villiers. Hy was van nature ’n ware gentleman, ’n begaafde en ’n omgee-mens wat almal, veral vroue, verstaan en gerespekteer het.
Jare gelede, toe ek in die skakelbedryf begin werk en leiding nodig gehad het in die wêreld van tydskrifte, het hy my altyd ondersteun ondanks sy besige program.

Ann Wallis-Brown, Kaapstad

(e-pos uit Engels vertaal)


Na sy tuin


As woorde ontbreek vir die woordmeester, word die gemoed stil, maar wel dankbaarheid op vir die voorreg om ’n entjie te kon saamstap op sy woordpad.

Izak de Villiers het ons net ’n wyle vooruit gegaan. “Hy het afgeloop na sy tuin om lelies te versamel” (na Hooglied 6:2). Só wil ek ds. Izak graag onthou.

SARIE, ek dink aan julle almal in die dae wat kom. Julle is mos maar sy groot familie.

Isabelle Steenkamp, Somerset-Wes

 

Tjoepstil


Izak de Villiers se rubriek “Tjoepstil” (November) het met my gepraat. Ek leer elke dag iets en is goed met baie dinge, maar stilbly – tjoepstil – is die een ding waarmee ek besonder baie sukkel. Dit klink so eenvoudig, maar ek moet altyd die laaste woord spreek, my sê inkry, soms met gevolge wat nog lank stofwolke laat.

Tog, nadat ek sy rubriek gelees het, voel dit asof daar iets binne my met my praat. Asof daar ’n stemmetjie is wat my my woorde laat terughou, asof daar ’n wag voor my mond is . . . ’n stopstraat op die punt van my tong. Tjoepstil, want stilbly is ook ’n antwoord.

Crizelle Dempers, Bothasig


Ruik soos Chanel


Ek lees Jerusalem tot Johannesburg van Izak de Villiers, en haal aan uit “Heilige reuk”: “By SARIE het dit soms na Chanel geruik.”

Dankie vir herinneringe in Dominee se boeke wat ’n lieflike geur nalaat.

Shalom.

Hettie van Schalkwyk, Brackenfell

 

Izak de Villiers

Lojale vriendskap

Dis nou vir jou ’n gemis, dat Izak weg is. Twee, drie weke gelede het ek hom gelukgewens met gloeiende resensies oor sy outobiografie. Ek het Strooidak en toring: Van mense en my tyd gaan koop, hom gebel en vertel hoe dit my inspireer.
En na prof. Kolie Kotzé gevra, wat van die preekstoel gesê het die hel gaan uitgeplavei wees met predikante se kopbene. Ons het gelag oor Izak skryf hy het, ná prof. Kolie se kritiek op sy proefpreek op Franschhoek, agter die kerk gaan staan en snik. Tog het die prof hom uitstekende punte gegee.
Toe vra ek: Hoekom klink jou stem so hees? Daar’s mense, hy bel my terug. Ek vra: Wat makeer? Hy antwoord nie, maar ons gesels en Izak vra: Moes hy nie maar destyds in Amerika gebly het nie? “Izak, nee, jy het so oneindig veel vir jou mense beteken!”
Ons eerste ontmoeting was in Kaapstad. Hy was NG-predikant, kort voor hy in 1983 as SARIE-redakteur in Johannesburg kom woon het. Ek het vir die SAUK ’n reeks radio-onderhoude gedoen, naamlik Ma agter die man. Ek is na Izak se huis en in sy studeerkamer sê hy: “Ek wil nie eintlik oor my ma praat nie, dis té gou. Sy’s skaars twee jaar gelede dood.” Tog het ek ’n uitstekende onderhoud oor sy grootworddae in die Paarl gekry.

‘Ek het soveel by hom geleer … ‘

Ten slotte het hy vertel van die laerskool-onderwyser wat hom in een stadium elke middag ná skool gehou het, vir te veel praat in die klas. Een middag was daar ’n klop aan die klaskamerdeur. “En daar staan Ma,” het hy beduie, “met haar langsteel-sambreel oor haar arm, en sy sê kortaf ‘Meneer, kan ek met Meneer praat?’ Ek het hul stemme buite gehoor, toe kom hy in en sê ‘Izak, jy kan maar gaan’. Die man het my nooit weer ná skool gehou nie . . . ek het geweet Ma is aan my kant.” En toe sit ons daar, skielik tjoepstil. Ek kyk af en my trane drup op die geriffelde klapperhaar-mat, syne ook.
Daarna skryf ek vir SARIE ’n storie oor my pa. Izak bel: “Ek het gehou van jou storie oor jou pa. Wil jy nie vir SARIE ’n rubriek oor goeie maniere skryf nie?” So het my lang, goeie jare met SARIE-etiket begin. Ek het soveel by hom geleer: van humor en ekonomies werk met woorde.
Vier jaar gelede het hy in Pretoria ’n roudiens gehou vir my kind, Johannes, wat in die loopgrawe in Angola geveg het. En kort daarna een aand gebel toe ek in die dieptes van ellende was, my gered met ’n lang gewoon-rustige gesprek. Ek bly hom dankbaar vir jare van lojale vriendskap. Izak was altyd aan my kant.
Emsie Schoeman, etiket-kenner

 

Michelle ‘n goue voorbeeld


Ek wil julle gelukwens met jul November 2009-uitgawe en pertinent met die voorblad en artikel oor Michelle McLean.

Ons “gewone” mense is geneig om glansmense se lewe as sonder hartseer en pyn te sien. Deur die artikel het Michelle bewys waarom sy Mej. Heelal was. Sy is en was nog altyd pragtig, maar danksy jul artikel en die pragtige foto’s het ons die mens agter die glansmens leer ken.

Ek glo almal sal met my saamstem dat sy net so pragtig van binne is as van buite! Sy’s ’n ware ambassadeur en goue voorbeeld vir SA vroue.

Dankie vir ’n tydskrif vol leesstof van bladsy 1 – 208.

Adri du Plessis, Somerset-Wes



Die liefde kruip nader

So helder soos gister onthou ek. Ek was ’n opgewonde, bolmakiesie-rollende, uit-haar-vel gr.1-kind, daardie dag in 1990! Die kroning van Suzette van der Merwe as Mej. SA!

Sy was dié superheldin, die mooiste vrou met die breedste glimlag en witste tande.

Koerantknipsels oor haar het op al wat kas, muur en enigiets plakbaars gepronk. En haar eerste troue – met Greg Vogt – was my sprokiesdroom.

Vandag, 19 jaar later, staan ek self voor die kansel. Suzette se voorbladartikel (September) het my laat dink. Wat is liefde? Waar voel jy dit?

Dankie, Suzette! Deur jou het ek besef ek doen die regte ding. Ek het my droomman regtig lief! Liefde is nie ’n besluit nie. Dit kruip sommer nader, so sonder dat jy daarna soek.

Anneke Brink, Bloubergstrand

 

Boer soek die waarheid
Die artikel “Ek soek nie meer ’n boer se liefde” (November) bevat ernstige  onwaarhede deur Lynda Smuts. Ek vind dit ’n regstreekse aanval op my  geloofwaardigheid en integriteit.
Sy beweer wat gebeur het die aand toe ons Pieter H. se vriende ontmoet het, was “bogstories”. Sy maak van my ’n leuenaar terwyl sy dit nie teenoor ’n ander tydskrif ontken het nie. Ek wil dit op skrif stel dat dit onwaar en ’n versinsel aan haar kant is.
Ashley Pugh (e-pos uit Engels vertaal)

My sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie. REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIGpe or paste here.