Eie stories

SARIE-briewe, Januarie 2009

Jóú sê tel 

 

Deel jou stories met ons – vreugde-stories, seerkry-stories en sommer net wonderlike alledaagse ervarings. Ons kies elke maand ‘n paar briewe vir die tydskrif – waaronder  ‘n wenbrief. Van jul bydraes sal ook gereeld op ons webwerf geplaas word. Stuur jul briewe aan mysetel@sarie.com

Briewe moet nie meer as 150 woorde wees nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
Reëls:
Briewe moet ‘n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat, ook in gevalle waar jy ‘n skuilnaam verkies. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

Dis nie oukei nie!

Ek lees SARIE-briewe van mense wat fokus op die positiewe en wat pleit dat ons die son moet sien skyn. Raai wat? Ek is moeg om te maak asof alles oukei is. Ek is bang om met my kleuter parkie toe te gaan. Ek is bang om saans alleen na ons selgroep te gaan. Ek is bang om te gaan slaap wanneer my man uitstedig werk. Ek is bang om alleen vir my ouers in die Kaap te gaan kuier, want die pad is ver en dis gevaarlik om op my eie te ry. En dis nie aanvaarbaar nie.

Ek doen wel bogenoemde, maar is heeltyd op my hoede. En nee, ek wil nie emigreer nie. Ek wil pleit vir ’n land van régte sonskyn, van vrede en geluk, van vertroue tussen mekaar, en bowenal, waar my kind buite kan speel sonder dat ek heeltyd bekommerd is.

Realistiese Gautenger


Sy ruik na rose

Ek deel my mooiste kompliment met julle na aanleiding van Michélle van Breda se redakteursbrief (Oktober 2008) oor rooi en rosegeur.

“Verskoon my, maar is jou naam Veralda?” vra die onbekende man. “Ja,” sê ek. En hy glimlag. Ons het ’n sake-afspraak, maar ek het nie geweet hoe die man lyk nie.
“Moenie jou bekommer nie, hy sal jou kry,” het my verskaffer gesê. Ek skraap moed bymekaar en vra hoe hy my in die oorvol koffiekroeg gekry het. “Maklik. Hy’t gesê jy sal iets roois aanhê en na rose ruik.”

Ek glimlag. Die beskrywing kon so anders gewees het. Die verskaffer kon gesê het ek is ronderig met bruin hare, of dat my voortande skeef is, maar hy’t my die mooiste kompliment gegee.

Veralda Schmidt, Kyalami

WENBRIEF

 

Stil tyd

Josh Groban se CD Noël gly uit tussen die resepteboeke op die kombuiskas. Dis Oktober,  maar ek klik dit in die CD-speler. Ek draai die klank harder toe “Silent Night” die vertrek vul. En dis asof iemand my skud: Here, wat het ek gemaak met die tyd wat verby is?

 

Dis byna Kersfees. Ondanks my eie vermanings om vanjaar tyd te maak vir dit wat vir my kosbaar is, besef ek ek het weer misluk. Ek het verval in ’n roetine van opstaan, aangaan, weke vooruit beplan en nooit rustig geword nie. Hoeveel keer het ek saam met my kleinseun sandkastele in die sandput gebou? Het ek werklik gehóór wanneer my kinders my iets vertel?

 

Ek is skuldig. Moenie in dieselfde strik beland deur daar te wees sonder om regtig dáár te wees nie. Moenie dat “Stille Nag” eers moet speel om stil te word nie.

 

Annien Teubes, Moorreesburg

 

Annien Teubes het die wenbrief vir SARIE se Januarie 2009-uitgawe geskryf. Sy wen R250 en ’n geskenkpak van R1 440 met Chloe Narcisse eau de Toilette-sproei. Dit is ’n sensuele blomgeur met Oosterse aksente.



 

Pa se prinses

Een van my vriendinne is altyd die spil waarom ’n partytjie draai. En ek bewonder haar vir haar energie en vreugde wat sy so mildelik rondstrooi. Toe sê sy een aand vir my: “Ek is (soos) Anna” (n.a.v. Elbie Lötter se boek oor kindermolestering, Dis Ek, Anna). Ek was geskok dat sy al die jare die geheim in haar ronddra, en daagliks met ’n masker loop soos die ander Annas in die wêreld.

Daarom sê ek vandag vir my pa dankie omdat hy my as dogtertjie soos een behandel het. Wanneer hy na my kamer gekom het, was dit om salf in die groeipynbene te smeer of om ’n pilletjie met melk te gee. Ek besef hoe gelukkig ek was dat my kindwees nie vermoor is soos die Annas s’n nie.

Aan al die pa’s wat jul kinders beskerm en liefhet – julle het ons prinsesse gemaak.

Prinses van Murrayfield, Pretoria

 

Soos haar eie

Sy het hom lief soos haar eie kinders. Sy sorg vir hom en pepa (Sotho vir abba) hom as hy nie wil slaap nie. Sy bid elke aand vir hom. Sy het ’n koeël getrotseer omdat sy nie haar liefde vir hom wou verraai nie.

“Hoekom is jy lief vir die wit kind?” wou die rowers weet. “Wat van apartheid?”
“Waar was hy met apartheid?” het sy gekeer. “Sy ma weet niks van apartheid nie.”

Ons het al ons goed teruggekry. Ons het nie ons kind verloor nie en ook nie vir haar nie. Maar dié wonderlike Sotho-vrou het ’n deel van haar menswees verloor – al het die geweer nie afgegaan nie.

Ek dra haar elke dag aan die Here op. Sonder hierdie engel sal ons gesin soveel armer wees.

Kian se mamma, Vereeniging

 

Ons sal dit oorleef

Mamma, jy staan met jou een voet in die graf, maar jy wil shop en kaaskoek eet! Die vrou wat eens kon boer en tennis speel is nou so totaal broos.

Sewentien jaar gelede het jy ondanks chemoterapie jou oudste kleinkind onder die stof geloop op soek na die mooiste matriekafskeidsrok. As mense jou in die winkels sou vra hoe dit gaan, het jy hulle met ’n teenvraag geantwoord: “Jy het nie dalk die nuutste kriekettelling nie?”

En nou het ons saam geworstel oor die nuus dat jy siekeboeg toe moet gaan. Ek vra hoe dit is en jy sê: “Swaar.” Oplaas, net voor ek loop, vra ek: “Nothing to declare?” Jy lag en ek weet ons sal ook dít oorleef!

Ounooi, Tygervallei

 

SARIE, jou beauty! 

Jul Kers-uitgawe met Dana Winner op die voorblad is ’n fees vir die oog en uitstekende waarde vir geld! Ek het dit in ’n stil oomblik rustig deurgeblaai en besef hoekom SARIE die gunsteling van my vrou en dogter is.

Geen ander tydskrif bied wat julle het nie en die verskeidenheid artikels is verstommend.  Die Engelse woord astounding sal meer waarde aan dié stelling gee.

My dogter, Wiesie, is ’n modeslaaf en is gaande oor die skoen-advertensies! Met die glansblaaie vol nuwe goed en nuwe geure is SARIE ’n beauty.

Johan Smith, Struisbaai

Ons matriek-kinders

 

Vreugde en liefde

 

Daar is vyf spesiale mense in my huis en in my hart, en binnekort verlaat twee van hulle ons. My twee seuns gaan ná matriek hul vlerke sprei en die buitewêreld leer ken. En hulle neem twee groot dele van my hart saam.

 

Jacques en Doran is biologies nie myne nie, maar die pyn is nie minder of makliker nie. Die jongste was twee toe hy in ons lewe gekom het. Hy’t ons lewens verryk en die geluk in ons huis vermenigvuldig. Die oudste het met ’n groot ompad via die kinderhuis na ons toe gekom.

 

Tussen hulle twee is ons huis altyd vol glimlagte en vuil skottelgoed en leë yskaste! Ons gaan hulle mis, want hulle het vreugde en liefde vir ons almal gebring.


Elizabeth Cilliers, Warmbad

 

 

 

Carpe diem!

 

Ek kon gewoonlik nie wág vir die groot opruiming ná my kinders se eksamen nie! Die skryfboeke word deurgeblaai vir skoon bladsye wat weer gebruik kan word. Ons kyk na goeie én minder goeie toetspunte. ’n Perfekte afsluiting van ’n goeie jaar met die verwagting van nóg ’n beter jaar wat wink.

 

2008 was egter anders . . . my oudste het sy matriekeksamen geskryf en is gereed om sy toekomsdrome te verwesenlik. Hy gaan in ’n studente-huis of piepklein woonstelletjie bly en sy eie potjie krap.

 

Met ’n hart wat om die beurt swel van trots en die volgende oomblik skeur van hartseer stap ek saam met duisende ma’s die onbekende in. Ons plak ons glimlagte op en sê vir ons studentekinders: carpe diem!

 

Charlotte Pretorius, Kimberley

 

 


Liewe graad 12-kind …

 

So het ons aan die einde van ’n skoolloopbaan gekom. Twaalf jaar – 4 380 dae. Ek het ’n paar berekenings gedoen. Weet jy, ek het ± 2 400 toebroodjies gemaak, sowat 40 uur lank omsendbriewe gelees en in byna 36 briewe verduidelik hoekom jy afwesig was?

 

Ek het 48 oueraande bygewoon, sowat 400 toetse geteken, 120 sportgeleenthede bygewoon en daai seer ego en spiere gevryf. Wat het met jou in dié 18 jaar gebeur? Jy het ’n minimum van 6 jaar geslaap, anderhalf jaar huiswerk gedoen, 3 jaar vakansie gehad en 28 800 keer die skoolklok hoor lui.

 

Ek en al jou opvoeders hoop ons het die boompie gesnoei. Ons hoop jy is uniek, ’n sterk jong boom met takke wat baldadig in alle windrigtings groei terwyl jy steeds, altyd, boontoe reik en veral boontoe kyk.

 

Louise van Niekerk, Linden-uitbreiding

 

 


 

 

 

 

 

 

  • Hier is iets in die lug in Franschhoek……vergeet van koningskos en bobaaswyn, berge en n swetterjoel tale.Alle paartjies loop hand aan hand,soen sommer openlik en glimlag geheimsinnig.So sien ek hulle elke dag vanwaar ek op my stoep in die winterson sit.Stuur n spioen om ondersoek in te stel en bottel dit, ons wat permanent hier bly wil ook daarvan he!