sr1101inteken01
Eie stories

SARIE-briewe Januarie 2011

Die pragtige papawerversierde bottel (hiernaas) is hervulbaar. Skroef die pompie af en hervul by ’n “Flower”-fontein by Kenzo-toonbanke.

WENBRIEF: Gelukkige kind
Ons is altyd meer bekommerd oor ons kinders se wiskunde-punte as oor hul  opstelpunte. Só druk my tiener nou die dag haar nuutste opstel onder my neus en sê: “Kyk hoe goed het ek gedoen.”
Die onderwerp is wyd en enige ou se storie kan inpas: Hier is ek op my gelukkigste.
Haar storie begin so:
“Op ’n plek van vreugde, vrede en geluk het ek myself onverwags gevind. Daar waar ek nog na die lewe kyk as kind.”En eindig so:
“So besef ek toe dat waar ek die gelukkigste is, is in die oomblik waar ek myself elke sekonde van die dag bevind. Ja, ek is die gelukkigste binne myself, met wie ek is, wat
ek is en wat ek nog kan word…”
Sy is 16 jaar oud, met ’n eie identiteit en gemaklik daarmee. Ek kan nie dink dat ek op 16 so veilig in my eie vel en “in die oomblik” gevoel het nie. Lees jul kinders se opstelle. Kyk verby die spelfoute en lomp sinne en ontdek jou kind.
Anne-Marie Strydom, Garsfontein-Oos

’n Elvis-fan
Ek het nie gereeld Idols gekyk nie, en het gewonder hoekom die wenner Elvis Blue so ’n unieke naam het . . . Koos van der Merwe se “Laaste sê” (November 2010) het my in trane gehad. My twee kinders het langs my gesit terwyl ek dit gelees het, en ek het besef hoe geseënd ek is.
Ek weet nou Elvis is eintlik Jan en sy verhoognaam is Elvis Blue, die naam van ’n seuntjie, Elvis Blaauw, wat weens vigs gesterf het.
Elvis, jy het definitief ’n fan bygekry. ’n Mens kla so gou oor nietighede. As jy goed daaroor nadink, maak dit nie regtig saak nie. Waardeer wat julle het en tel daagliks al jul seëninge. Sien al die mooi dinge in jou lewe raak, want dis ’n geskenk wat so vinnig weggeneem kan word. Doen goed aan ander, want hoe meer jy kan gee, hoe meer sal na jou toe terugkom. Elvis is opnuut ’n voorbeeld hiervan.
Mag hy ’n baie suksesvolle loopbaan hê!

Cindy van der Merwe, Roossenekal
*Lees “Elvis Blue het lankal geskyn, toe hy nog net Jan was” op sarie.com > Ons gesels > Rubrieke > Koos van der Merwe

 

Brei-bonus

Dit was so verskriklik lekker om gister my SARIE in die posbus te kry met die gróót bonus van die brei- en hekelkaarte.
Ons is ’n groep vriendinne wat ’n breiklub begin het. Dis ongelooflik aangenaam. Ons geniet mekaar se geselskap en deel mekaar se lief en leed. Ons ouderdomme wissel van 26 – 56, en die jong vroue brei net so ywerig.
Soms brei ons slegs ’n paar steke, maar ons voel tonne ligter as toe ons dalk met ’n swaar gemoed by die deur ingestap het.
Dis moeilik om in die somer aan die brei te bly, maar hierdie hekel- en breipatrone is ideaal vir vinnige somerprojekte. Gee asseblief vir ons nóg!
Ons is al klaar besig om met jul breipatrone wat die afgelope winter gepubliseer is, vir winter 2011 te brei.
Elaine Greyvenstein, Centurion

Vir die brei-liefhebbers


 

‘n Blink klippie

Met ’n vreugdevolle hart ontvang ek my 80ste verjaardaggeskenk van SARIE en sê dankie vir die breipatroon vir ’n trui in die Augustus 2010-uitgawe. Daarmee gaan ek my rustige leë ure vul en so baie harte en lyfies gelukkig en warm maak. ’n Wonderlike geskenk om al my dogters, kleinkinders en vriendinne op hul verjaardae te verras. Dis kosbaar, besonders, eksklusief!
Wat ’n voorreg om SARIE vanaf die eerste uitgawe (as Sarie Marais) te kon geniet.
Dis ’n prag-tydskrif wat gees en liggaam mildelik voed met soveel kundigheid.
SARIE, ek koester jou, want jy is ’n blink klippie op my lewenspad.
Rina van S, Wingate Park


In 2011 gaan ek …
Wie maak nog Nuwejaarsvoornemens? Ek is een van die mense wat die afgelope paar jaar getrou daarby hou. Dis ’n klein veranderinkie wat ek aanbring om myself ’n bietjie nuut te maak. En dit werk.
In 2009 het ek besluit om net een bord kos per maaltyd te eet. En minus 9 kg later is ek bly hieroor. Verlede jaar wou ek verkeersreëls gehoorsaam en geen verkeerskaartjie kry nie. En ek hou steeds by my 2005-voornemens om nie op my selfoon te praat terwyl ek bestuur nie.
Ek neem altyd ’n besluit wat haalbaar is, soos geen whisky vanjaar – een regmerkie. Of ek gaan élke dag parfuum dra, dan ís dit élke dag.
Vanjaar gaan ek geen bykomende plastieksakke koop wanneer ek inkopies doen nie. Al gaan ek soms deur die parkeerplek strompel met brood onder die arm en melk in my handsak, juig my toe.
Ek probeer hard!
Minnie Kriek, Stellenbosch

Stunning, ouma!
Glo my, om ’n ouma te wees, is flippen stunning! ’n Mens voel weer soos ’n jong ma. Dis cool om sewe kleinkinders te hê. Ek het sonder grootouers grootgeword – net foto’s van ooms en tantes met swart klere aan wat reguit na jou kyk.
My kleinkinders het die voorreg van drie oupas en drie oumas, mense met talent en baie liefde.
Daar is geen wedywering tussen ons nie. Een ouma is ’n rekenaar-ekspert en het ook baie boeke. ’n Kind se droom! Die ander ouma maak die mooiste kwilts en praat Engels met hulle. Ek doen krale- en verfwerk en by my krap hulle met penne op álles. Hulle ken my ook as Ouma Kos, want hier’s altyd eetgoed.
Maar dis erg wanneer hul ouers hulle kom haal. Jy sien ’n sokkie sonder maat en ’n vergete bottel rooi koeldrank. In die tuimeldroër is kleertjies so eie aan die lyfie wat laasnag langs jou gelê het. En teen die tyd dat jy hul vuil eetgerei opruim, huil jy sommer kliphard.
Maar hulle kom góú weer en dan is alles weer flippen stunning!
Willma Burger, Vermont

 

Erik Holm en sy suster NikeElsje Blair, Ryk Neethling se suster               Salueer hulle

“Maak altyd die beste van ’n goeie ding, maar nooit die slegste van ’n slegte nie.” Dié spreuk van Langenhoven bly in my gedagtes sedert ek Elsje Blair (SARIE, September 2010) en gisteraand ook Erik en Nike Holm (Oktober 2010) se besielende en aangrypende stories gelees het.
Niemand wil swaarkry nie. Nie finansieel nie, en ook nie emosioneel of liggaamlik nie. As ons kon kies, sou ons sekerlik almal eerder rustig, gesond, sonder pyn en afhanklikheid en in oorvloed wou leef. Maar ons het nie altyd beheer oor dinge wat oor ons pad kom nie.
Ons kla so maklik. Ons verkeer onder die indruk dat ’n mens se omstandighede jou sukses en geluk bepaal.
Elsje, Erik en Nike wys ons die lewe is wat jy daarvan maak. Vasberadenheid, liefde en geduld kan positiewe eggo’s uitstuur en negatiewes help nek omdraai. Onmoontlik? Nee, die drietal wys ons dit ís moontlik. Hulle heers oor hul omstandighede.
Ek salueer hulle!
Marie du Plooy, Bloemfontein


 

Nuwe wêreld
Drie maande gelede land ons in Rio de Janeiro met agt tasse, harte gevul van angs en opwinding. Dié besluit is goed deurdink, alle moontlikhede is oorweeg en die idee van “dis nie permanent nie” maak dit dalk makliker . . . so dink ’n mens.
Al die nuwe dinge hou jou kop en lyf besig en die tyd gaan vinnig verby tussen skool, huis, geregte, kultuur en die Skype uittoets met familie in SA. Die opwinding is groot.
Maar dan kom kuier ’n vriend en bring vir jou die Oktober-uitgawe van SARIE. Jy lees die redakteursbrief wat so spesiaal vir jou geskryf is. Dit bring reuke en smake van die bekende terug, verlange na kuiers met vriende en familie.
Jy word bang vir die “eendag terugkom”, want jy gaan anders wees. Gaan die bekende nog van jou hou? Gaan jy weer inpas?
Maar die ma van ’n huis gaan nie lê nie. Jy is dapper en pak nuwe dinge geesdriftig aan. Om ’n nuwe wêreld te leer ken is ’n geleentheid wat nie almal te beurt val nie.
Om die skepping te aanskou vanaf ’n nuwe sonsopkoms is ’n voorreg.
Marinda Gerber, Rio de Janeiro

 

Jou sê tel!

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer envolledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.