sr0906brieweblad
Eie stories

SARIE-briewe Junie 2009

REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

Sê nou ook jou sê op ons nuwe webtuiste, sarie.com, en lees nóg lesersbriewe onder My wêreld, Briewe

Liefdeswoorde

’n Vriendin laat weet sy’s ’n finalis in SARIE se liefdesbriefwedstryd. Ek lees Lindey van der Merwe* se brief en besef dit kon netsowel uit my pen gekom het. Kort voor my 14de huweliksherdenking pas ek haar brief effens aan en skryf vir my man ’n liefdesbrief.

Sy sal my die plagiaat vergewe, want miskien, net miskien, kan my dikvellige man verstaan dat die liefde nie lê in die feit dat hy elke aand getrou huis toe kom nie. Kommunikasieprobleme sluip maklik ’n huwelik binne, en ek skryf toe onder meer: “Deur moeilike tye dra jy my, sonder om iets te sê. In die goeie tye hou jy my styf vas en soms sien ek selfs die trots in jou oë. Dankie dat jy partykeer niks sê as woorde oortollig sou wees nie.”

Ongeslypte diamant, Centurion

*Lindey se liefdesbrief is te lees op sarie.com (My wêreld, Briewe en dan Wedstrydbriewe)

Brief van die maand

My polisieman


Dis voor drie in die oggend. Ek en my man skrik wakker van ’n harde slag. ’n Huisalarm skreeu in die verte. Hy staan vinnig op en kry sy dienspistool in die kluis. Ek hoor hom die straat af ry.

Ek is wawyd wakker, sit op die kombuiskas en hou die horlosie dop. Die minute tik verby en ek dink aan my polisieman. Die meeste inwoners ken hom, maar dít wat hulle sien, is nie al wie hy is nie. Hy’s man en pa wat enigiets vir sy vrou en seun sal doen, maar hy’s ook polisieman wat met trots sy uniform aantrek en tot 24 uur paraat staan vir reg en geregtigheid, sonder die arrogansie en “weet alles”-houding. Hy is soms ook bang in sekere situasies, maar hy is opgelei om te dien en te beskerm.

Hy stap ná vier die huis binne. Die skuldiges het ’n paar huise verder tussen plante weggekruip, maar hy’t hulle gevang. Ek is so trots dat dit seermaak. Ek wens die Suid-Afrikaanse Polisiediens het meer lede soos hy.


Trotse vrou, Oos-Kaap


Trotse vrou wen vandeesmaand ons prysgeld van R250, asook ’n 30 ml- en 100 ml-bottel Flower by Kenzo van R1 520. Flower by Kenzo se kleurryke blomgeur is ’n poëtiese vermenging van die natuur se varsheid en die stad se energie. Die moderne geurkombinasie is sag en verleidelik en sal jou terselfdertyd energiek én sensueel laat voel.

 
Vrugte van die tyd
Met verwondering kyk hulle terwyl ek die granaat oopbreek en die rooi pitjies in ’n bakkie gooi. In graad 6 is dit hul eerste kennismaking met dié vars vrug. Ek is verstom dat hulle nog nooit ’n vars vy of kweper gesien of geproe het nie. Hulle sien dit net in konfyt.

As kind is ek blootgestel aan al wat ’n vrug was in ons tuin – goudgeel perskes, pruime, rooiwang-appelkose. Vandag is vrugtebome in voorstedelike tuine so skaars soos hoendertande. En slegs ’n klein groepie kinders beskik oor dié hedendaagse “luukse”.

Vetsug onder kinders neem toe, want teen R20 vir vier perskes is lekkergoed en ander ongesonde eetgoed deesdae baie goedkoper. Ek verlang nou na die dae toe vrugte verniet en in oorvloed was . . .

Charlotte Pretorius, Kimberley

Eerlike eenvoud

Ons trek vir twee jaar Mauritius toe. Ek’s opgewonde, want dis ’n versugting van my hart . . . terug na eenvoud. Voor ons vertrek koop ek Barbara Joubert se SARIE 5: Eerlike kos met vyf bestanddele. Op die omslag lees ek sy is van die Karoo. Ek weet sy sal die “eerlik” gestand doen.

Die verlepte groente en vrugte in die supermark maak my neerslagtig. My huiswerker neem my na die buurdorp, Bambous, waar háár familie koop. Ek word verswelg deur kleure, geure en aromas van kraakvars groente, vrugte en geregte.

Ek koop vyf bestanddele en maak groenboneslaai vir aandete. Die bure loer in en my tot-nou-toe effe stug Franse buurvrou glimlag toe sy dit proe. Toe ons die Robertson-wyn uithaal, bied sy hartlik aan om my met my Frans te help.

Met onpaar borde en eetgerei onthaal ek dikwels uit Barbara se boek. Eerlikheid en eenvoud bly die beste filosofie!

Jacqueline Brandt, Mauritius

Jolette sê dankie

Die KKNK was vir my ’n heerlike fees, en dis ’n groot eer om deel te kan wees van Op die vrou af 2*. Ek is trots om deel te wees van die produksie, asook op die SARIE-verbintenis. Dankie vir al jul ondersteuning.

Die boek met rubrieke** lyk ook fantasties. Ek het nooit kon droom dat ek op die omslag van ’n boek sou wees nie!

Dra asseblief my dankies oor aan almal by SARIE wat so hard werk om ’n stylvolle produk te lewer!


Jolette Odendaal, Melville

Jolette Odendaal en Pedro Kruger

*Jolette en Pedro Kruger speel in dié musiekteaterstuk gegrond op André le Roux se SARIE-rubriek.

** André le Roux se boek Op die Vrou af 2 is nou (van Junie 2009) beskikbaar.

Die voorreg van tieners

As ma van drie tieners wil ek opstaan vir al die tieners wat, ondanks moeilike omstandighede en al die negatiewe invloede wat hulle moet trotseer, dit regkry om gelukkige, gebalanseerde jongmense te wees.

Watter wonderlike voorreg en vreugde vir ’n ouer om ’n primêre rol te kan speel in die grootmaak van ’n tiener! Al is dié stadium nie altyd maanskyn en rose nie en al is daar kort-kort dramas en krisisse in so ’n huis, moet ons aanvaar dis deel van die proses.

Ons as ouers moet ophou kla en besef dat die tienerstadium, met die regte positiewe gesindheid, tonne liefde, gebed en geduld en baie dissipline, die heerlikste tydperk in ’n ouer én kind se lewe kan wees.

Margie, Welgemoed

Om aan ander te dink

      

Hoop en lig


Met ’n baie swaar gemoed sak ek met my SARIE op die leerbank neer. Paarlberg brand al dae lank en my hart is seer oor ons pragtige berg. Toe verander jul artikel “Dieremaat, sielsmaat” (April) my middag van neerdrukkend en donker na hoopvol en lig!

Ek kry inspirasie uit Anoux Massey* se storie. Baie van ons leef net vir onsself en sien nie diere of ander mense in nood raak nie.

Dis makliker om anderpad te kyk of te dink die volgende persoon sal wel help. Dink net, as ons maar meer mense soos Anoux gehad het, mense wat na ander uitreik, sou die wêreld ’n veel beter plek wees.

Liezl Smit, Paarl

*Anoux Massey van Somerset-Wes is stigterlid van PETS (Pet Empowerment in Townships). Lees haar storie op sarie.com onder My lewe, Ons stories, Mense soos jy.

**********************

 

Word ’n vriend


Ek stem volkome saam met Suzette Truter in haar artikel “Dieremaat, sielsmaat”. Honde is ons beste vriende (sielkundiges!).

Ek neem “afgetrede” gidshonde aan. Omdat dié skeiding baie emosioneel is vir die blinde en die hond, word ek voor die tyd aan albei bekend gestel. Ek word ’n “nuwe ma” vir die hond, maar ook ’n vriendin van die eienaar, selfs ná die aanneming.

My honde leer my geduld en gee my baie liefde. Dis deur hul toedoen dat ek weer studeer het en my in 2008 as hondegedragskonsultant gekwalifiseer het.

Ek wil SARIE-lesers nooi om ook by die SA Gidshondvereniging betrokke te raak. Skakel 021 674 7394 of 011 705 3512 of besoek www.guidedog.org.za.

Annabé Maritz, Bellville