junie_2010_image1
Eie stories

SARIE-briewe Junie 2010

Brief van die maand

My titel is Mamma!
Ek’t “minder” geword as wat ander mense moontlik verwag het, maar soveel meer as waarvoor ek kon hoop. Wanneer ’n eenjarige se sagte armpies om jou nek vou, jy die eerste wankelrige tree gesien het en jy daar was om elke “mamma” te hoor, word die gesogte titel van “Ma” soveel meer werd as die postitel van projekbestuurder.

Ek bemeester nou eers die kuns van logistieke bestuur, want slaap-, eet- en speeltye moet fyn gebalanseer word met alledaagse bedrywighede.

Met dankbaarheid besef ek dat ek belangriker is in dié rol. En al het ek dalk nie geword wat die wêreld van my verwag het nie, is ek die wêreld werd vir een klein mensie. My titel is Mamma!
Priscilla Potgieter, Uitenhage

 

Dit wil gedoen wees, Ma
Ek kyk aandagtig hoe my vriendin een oggend haar een seun se skooltas regruk, die ander seun raad gee oor sy hartsake, geld in skoolkoeverte sit, haar babaseun voer, die ouer een herinner aan die datum van ’n toets, sorg dat almal se uniforms gereed is, ’n inkopielys neerkrabbel en terselfdertyd maalvleis uithaal vir die aand.

Later die middag ry ek saam met haar terwyl sy haar kinders oral heen karwei en vir haar man vertel “wat eet ons”. En skielik besef ek iets . . .

My ma was nie net ’n taxi, sekretaresse, persoonlike assistent, raadgewer, kitsbank, huishulp, sjef en vriendin vir my nie. Sy was ook ’n vrou vir my pa en al die bogenoemde vir nog twee mense, my susters!

Dankie, Ma, dit wil gedoen wees!
Dorothea Dykstra, Doebai

 

Oogplesier

Die pragtige pienk voorblad van Mei 2010 trek ’n mens soos ’n magneet. Binne-in is dit die ene oogplesier met pragtige foto’s van geliefde 7de Laan-karakters en knuswarm wintermodes.

Ek beplan elke maand om slegs een tydskrif te koop, want weens die knypende ekonomie moet ’n mens mos bespaar waar jy kan. Jy voel tog so skuldig om jouself te bederf.

Maar ek is ’n tydskrifverslaafde en ’n regte Bennie Boekwurm. Sodoende word ek tog so maklik verlei om meer tydskrifte te koop. Ek móét altyd leesstof hê, al is die tyd hoe min. Dis vir my so noodsaaklik soos suurstof.

Viva vir mense soos julle wat hul liefde vir papier en woorde met ander deel!

Judith Vermeulen, Vanrhynsdorp

 

Liefde met ’n glimlag
As rooikopdogtertjie was kaalvoet skool toe stap en brood knie douvoordag dalk al wat jou kon laat sug het. As getroude was dit die (soms) streng man wat jy gelukkig wou hou of die hartseer miskrame wat jou dalk kon laat huil het. Later is julle geseën met vier kinders, en het jy net so hard gewerk om vir hulle die beste te gee.

Toe Pa Parkinson se siekte kry en weerloos soos ’n kind geword het, het jy aangehou werk en hom versorg.

Maar Ma, jy’t nooit gesug, gehuil of moeg geword waar ons dit kon sien nie. Die liefde en ewige glimlag is al wat ons ken.

Dalk is dit die baie tye op daardie knieë wat jou deur alles dra.

Ons sê dankie vir so ’n kosbare juweel.
Erika Jonker, Uitenhage

 

Hemelse bederf

SARIE, jy het die sokkerbal onder my stewels uitgeskop! Baie dankie vir die heerlike parfuumverrassing. DKNY Sweet Caramel is hemels en dit het op die regte tyd gekom.

Ek het al verskeie kere in die apteek gestaan en window shopping doen, maar dan besluit die geld moet vir ’n meer noodsaaklike item gebruik word. Klink dit nie soos ’n Ma se kop nie? Ek lees SARIE al feitlik my lewe lank, en ek gaan voortaan met my neus in die lug loop en spog omdat ek so deur my goeie vriendin bederf word.

Mag julle nog vir baie jare talle vroue se hart so warm soos myne laat klop wanneer hulle ook húl “bederfies” ontvang. 


Rina du Plessis, Rietondale




*DKNY se Delicious Candy Apples in 3 geure was ’n intekenaanbod in die Maart 2010-SARIE.

 

SARIE-rondrits
SARIE, my naamgenoot, bondgenoot, sielsgenoot.

Ek wil dankie sê dat jy elke maand by my huis aankom, my dan oplaai sodat ons twee saam kan gaan rondrits. Ons gaan maak gou ’n draai by die haarsalon en my hare word volgens die nuutste style getooi, daarna gaan ons winkels toe en pas die mooiste klere aan. En dan dwarrel ons saam daar uit met ’n titseltjie Flora by Gucci agter die ore.

Hierna eet ons saam van jou eksotiese geregte en klink ’n glasie Pongrácz Rosé. Op pad terug maak ons ’n vinnige draai by Stian Bam en Gys de Villiers.

Onderweg leer ek ook ’n paar betekenisvolle lewenslesse. Groet dan heel laaste vir Koos van der Merwe.

En jy, my vriendin, vra my vir die hele trippie net R27,95. Dankie!
Sarie Kiesling, Middelburg (Mpumalanga)

Min maar baie
Die meeste van ons gaan gebuk onder die huidige ekonomiese toestand. Dit kos meet en pas om uit te kom.

Ek het egter ’n rubriek van Nataniël gelees waarin hy sê oorvloed is ’n keuse. Dit het my uitkyk en ingesteldheid totaal vernuwe. ’n Mens kyk met nuwe oë na dit wat jy het en jy staar jou nie meer blind teen wat jy nie het nie. Elke dag bring nuwe uitdagings om met die beskikbare (al is dit soms min) die beste plan te maak.

Jy leer om te toor, of dit nou in die kombuis, voor die klerekas of idees vir ontspanning is. Soms is jy self verbaas oor jou skielike kreatiwiteit.

Laat ons dus, in plaas van om altyd te kla, dit ’n leefwyse maak en elke dag oorvloedig leef. Glo my, dit is moontlik!
Leef oorvloedig, Eversdal

*Lees Nataniël se rubrieke op sarie.com > Ons gesels > Rubrieke.

 

Handleiding vir die lewe

Met ’n tikkie heimwee tel ek die April-uitgawe van SARIE van die winkelrak af op. Ek koop haar al die afgelope paar jaar by die KKNK op Oudtshoorn, maar vanjaar koop ek dit toe in Bloemfontein. Die inspirasie en lewenslesse in hierdie uitgawe skuif egter gou-gou die verlange na die volstruisdorp se feestelikheid opsy.

Die trane loop sommer met die lees van Michélle se redakteursbrief, juis omdat ek net vroeër die dag haar raad aan ’n spesiale persoon wou gee, maar nie die regte woorde gehad het nie.

Nataniël se aangrypende rubriek oor sy ma, waarin ek myself en my ma so duidelik kan sien, laat my met ’n gevoel van nostalgie. Ek hou vir eers op met lees by Marita van der Vyver se brief aan haar seun, want die trane loop steeds en ek besluit net daar . . . hierdie April-SARIE gaan boekrak toe. Dis my handleiding vir die lewe!
Ilne Vermeulen, Langenhovenpark


 

Die belofte
26 November 2009 . . ek neem afskeid van my neef.

Ek verseker hom van my liefde, dat ek hom eendag weer sal sien, hou sy maer hand vas, en belowe dat ek my bos blonde hare sal afskeer vir hom.

Op 4 Desember sterf my geliefde neef in die ouderdom van 51 jaar aan die groot K. Hy het tien maande lank dapper daarteen geveg.

Op 6 Maart 2010 doen ek my belofte aan hom gestand en skeer my hare af. Familie en vriende ondersteun my, want hulle weet dat my wilde bos hare deel van my persoonlikheid is.

Daagliks vra mense of dit nie vir my moeilik was om dié stap te neem nie.

Nee. Om iemand te groet en te weet as jy uit die vertrek stap gaan jy daardie persoon nooit weer sien nie . . . dís moeilik!
Karin Venter, Brackenfell

Bafana Bafana!
Daar’s waarlik nog mense in SA wat negatief is oor die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Sommige wens selfs dis ’n mislukking. Gelukkig woon ek in ’n aftreehuis, omring deur wonderlike, positiewe bejaardes.

Tina is ’n 80-plusser en ’n baie toegewyde rugbygeesdriftige. Sy’t egter onderneem om die sokkerreëls in Afrikaans bymekaar te maak. Hanchen (90+) en Helen (80+) bestudeer dit nou.

Dié vroue het voorheen niks van sokker af geweet of sokkerwedstryde op TV gekyk nie. Hulle sien dit egter as ’n uitdaging om hul land en ons span te ondersteun.

As bejaardes dié toernooi as ’n geleentheid sien en nie as ’n verleentheid nie, kan ’n mens nie anders nie as om positief daaroor te wees.
Bekkie Engelbrecht, Durbanville

My sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

 

KORTLIKS

• Kleinkinders is ’n bonus in my lewe. Ek het ’n nuwe wip in my stap en lag weer onbevange. Nooit het ek gedink ek sou weer glyplank gly, hobbelperd ry en in die gange resies jaag met popwaentjies nie! Kleinkinders is kos vir die siel en verjongingskure vir liggaam en gees.
’n Ouma, Hopetown


• In die koerant voor my is berigte oor verkragting en bedrog . . . Dan kyk ek deur die venster na waar ’n duif uitgelate in die voëlbad in ons tuin baljaar. Mag ek nooit so oorweldig en verwar word deur negatiewe berigte dat ek die baie positiewe dade van mense en die natuur rondom my nie meer kan raaksien nie.
Rolene, Stellenbosch