Eie stories

SARIE-briewe Maart 2010

 

Hand aan hand
Ek nader die toerbus vanwaar ek die laaste tempel in Kaïro besoek het. By die trappe verkoop ’n jong seun – sowat 10 jaar oud – boekmerkies. “Ten for ten pounds!” roep hy uit. My “no thank you” val op dowe ore.

Skuldig gooi ek die laaste paar silwerstukke in my hand uit en vra: “How many for this?” Hy plaas drie in my hand en met sy ander hand druk hy my vingers toe oor die sente. “For gift for you.”

Ek kyk in daardie pragtige, vonkelende oë en sien net opregtheid daarin. Daar staan ons twee – ’n Moslem-seuntjie se hand gevou om ’n Christen-vrou s’n. Hy waai vir oulaas vir my. Toe plaas hy ’n soentjie in sy hand en blaas dit vir my. Met wasige oë blaas ek vir hom ’n soen terug . . .
Anetta Smith, Die Boord

 

Wenbrief se pryse

Anetta Smith wen vandeesmaand ons prysgeld van R250, asook ’n 30 ml- en ’n 50 ml-bottel Marc Jacobs Woman eDP. Die geur is sag en vroulik, met ’n luukse en klassieke fokus op die katjiepiering-blom. Die totale pryswaarde is R1 500.

Dankie, Michélle
Toe ek Michélle van Breda se antwoord lees op die briewe wat oor Amor geskryf is (Januarie 2010), het ek opnuut besef hoeveel invloed die media, veral gesinstydskrifte, op kinders se ontwikkeling het. Ons as ouers koop die tydskrifte en vertrou dat die redakteurs met insig alle artikels goedkeur en publiseer.

Ek is bly dat SARIE plek maak om van vroue se swaarkry en geluk te vertel. Ek het soveel empatie met Amor. Sy’s ’n vrou wat ’n baie moeilike tyd in haar lewe met styl hanteer. Dis jammer dat sommige tydskrifte dikwels vir skinderstories betaal, dit dan gebruik vir ’n goeie verkoopsyfer en nie bekendes se privaatheid respekteer nie. Ek is trots om SARIE vir my en my meisiekind te koop.

My ma sê altyd “geld koop nie styl nie”. Michélle, jy’s ’n stylvolle vrou en ’n wonderlike redakteur. Ons sê dankie vir jou!
Danel Myburgh, Linden

Matriekdrome
Ek en my vriendinne help sedert 2007 jaarliks ’n behoeftige matriekmeisie om haar afskeidsdroom te verwesenlik. En dít alles danksy skenkings.

Verlede jaar het ons ’n tweedehandse rok ontvang. Toe ons hoor dis nie juis haar droomkleur nie, het een van my pasiënte haar die regte kleur laat uitsoek in kant en chiffon en daarvoor betaal.

Nog ’n pasiënt het dié pragtige groen meesterlik by die room- en goudkleurige rok ingewerk. Ons het haar skoene met dieselfde groen materiaal oorgetrek en goue krale daarop geborduur. ’n Vriendin het vir haar juweliersware met kristalkrale gemaak. En haar grimering, hare en naels is gratis versorg. Sy was ’n ster!

Wat vir my so mooi is, is dat my pasiënte wat meegedoen het, self behoeftig is, maar so ryklik kon gee.
Dr. Omgee, Bloemfontein

Selfoon-lied
Ná my eerste mammogram sit ek gespanne en wag vir die uitslae. Ek probeer my gedagtes aflei en besef hoe baie humor daar is. ’n Vrou kom in met haar loopring en haar selfoon begin lui – die luitoon klink soos iets waarmee ’n popkonsert afgesluit word . . . baie intens en vol ritme. Sy praat opgewek en vol passie oor haar planne vir die dag.

’n Ouer man kom sit langs my. Sy selfoon lui – babageluide in versnelde rat. Nogal dierbaar, maar ek het nie gedink dit sou sý keuse wees nie. Hy vertel hy wag opgewonde vir sy kinders van oorsee af.

Selfoondeuntjies verklap nogal baie en is wonderlike terapie wat jou vir daardie oomblik wegvoer na jou hartsbegeerte, grootste avontuur of verlange.

Mag almal hul lewensdeuntjies ook so aanpas, want die lewe is inderdaad ’n lied. Vreemdelinge het my deur my moeilike wagtyd gehelp, onwetend watter inspirasie hulle was.
Mariska Venter, Bellville

Pêrels met stories
Ek string al jare pêrels. Nie vir die geld nie, sommer vir die lekkerte daarvan. Eers was dit vir susters en niggies, later vir vriendinne en toe vir die vriendinne se vriendinne, buurvroue en die wêreld daarbuite.

So het menige verweerde en afgedopte string pêrels voor my kom lê. Duur pêrels, goedkoop pêrels, glaspêrels (wat die draer al die jare gedink het regtes is) en al die variëteite van varswaterpêrels. Altyd met ’n storie. Die pa wat 40 jaar gelede vir sy dogtertjie ’n stringetjie pêrels van die een of ander uithoek van die wêreld saamgebring het, die vrou wie se man wat nooit geskenke gee nie haar een jaar met pêrels bederf het, die kêrel wat met sy min geld vir sy meisie varswaterpêrels gekoop het, maar toe nooit tot trou gekom het nie.

Ingeknoop in elke string is die sentiment en onthou. Ek wonder soms of ’n nuwe string pêrels nie beter sou wees nie, maar dan weet ek die kosbaarheid lê juis in die sentiment.
Hendrina Ackermann, Wierdapark

 

Agter elke man

Met sy 75ste verjaardag het die skrywer PG du Plessis sy vrou bedank vir “die vryheid wat jy my gegun het om my ding te doen”. ’n Gedagte wat myns insiens baie sê van ’n lewensmaat se karakter, veral as sy moet huis bymekaarhou en saamleef met ’n begaafde en bekende wederhelf wat passievol sy talente beoefen.

Ná Izak de Villiers se afsterwe wil ek hierdie woorde aan sy vrou opdra. Rina, baie dankie dat jy as talentvolle vrou uit eie reg die liefde in jou hart kon vind om as predikantsvrou, redakteursvrou, asook vrou van ’n depressielyer, jou man só te ondersteun dat hy in staat was om baie “dinge” te kon doen.

Daarsonder sou ons vandag baie armer gewees het.
Elsje Hall, Lynnwoodrif


*Lees ook “Hoe die liefde werk (PG 50 jaar gelukkig getroud)” op sarie.com >My lewe > Ons stories.

Om nie te voel nie
My sestienjarige dogter het van ’n plattelandse skool na ’n kosskool in die stad geskuif. ’n Maand later bel sy my snikkend sy wil huis toe kom. “Ek soek my ma.” Dit ruk my ouerhart.

Aanvanklik dink ek sy verlang net huis toe. Maar toe hoor ek 60% van haar medeleerders het al dwelms gebruik. En die meisies spog oor hul rondslapery.

Dit sou maklik wees om die skool se dissipline die skuld te gee, maar gaan ons dié saak regtig voor hul deur lê?

Ek onthou ’n fliek waarin die kind van geskeide ouers dwelms gebruik. Hy sê vir sy pa: “I like how it feels not to feel.”

Hoekom verkies ons kinders om “nie te voel nie”. Hoekom soek hulle ontvlugting? Is ons ouers te besig met ’n gejaag na wind om op te let wat ons kinders doen?
Anneke Rautenbach, Lichtenburg

Die nagsuster
Vroegoggend, teen halfses, het ek ná ’n vinnige oggendstappie ’n nagsuster by die private hospitaal se ingang raakgeloop. Sy was toegewikkel in ’n dik woltrui en het ’n voelbare hartseer om haar gehad. Saam het ons staan en kyk hoe die dag ontvou. Sy vertel sy het daardie nag ’n pasiënt aan die dood afgestaan. Trane het vrylik haar mooi bruin oë gevul en sy het erken dat haar belewenis van die dood vir haar baie erg was.

Miskien het ek haar pad op die regte tyd gekruis. Sy het vir seker ’n impak op mý pad gelaat, my laat dink aan die ander kant van die lewe . . .
Charlene Smith, Bloemfontein

 

Ds. Koos

Toe ek Desember 2009 my SARIE oopmaak en ds. Izak se “Laaste sê” deurgelees het, was ek weemoedig en het ek gewonder of daar iemand sal wees wat sal kan oorneem met dieselfde inspirerende boodskappe.

Met Januarie 2010 se uitgawe het ek eerste na “Laaste sê” geblaai – wat ek gewoonlik nie doen nie, want ek bêre altyd dié lekkerte vir laaste. Maar ek wou weet wie loop nou in liewe ds. Izak se spore.

Wat ’n heerlike verrassing om te sien dis ds. Koos. Nou is daar weer rustigheid in my hart, want “Laaste sê” is in goeie hande en steeds iets om na uit te sien.
Diana van Vuuren, Centurion

 

Windverwaai
Terwyl die takke gewillig oorbuig waarheen die wind hulle waai, dink ek aan my vriendin wat op ’n keer vertel het van die binnelander wat so knaend gekerm en gekla het oor die vrééslike wind.

Wanneer die wind die vars seelug oor ons stranddorpie stoot, het almal die jongman se verdrietige klaagliedere aangehoor.

’n Bejaarde inwoner het ná die derde dag se gekerm vir hom gesê: “Boetman, ek weet nie waar jy vandaan kom nie, maar hiér maak die Here die wind.”

Daarna was die neulpot se mond gesnoer.

Waarom mopper ons so oor kleinighede? Vergeet ons dat God deur die natuur met ons ’n gesprek aanknoop?
Annatjie van der Merwe, Stilbaai

Steek ’n kers aan
2010 is hier en ons wil opnuut batterye herlaai en gelukkig wees. Ma’s en pa’sbring hul kant. Dankie tog dat mans uiteindelik huishoudelik gelyke regte het! Hulle kon toe al die tyd meer as een taak gelyktydig verrig . . . genoeg rede om blymoedig te raak.

Al terrein waar ons nog tekortskiet, is om die verskil te wees wat ons in SA wil sien. Dit was nie slegs ons vorige presidente wat in 1994 die wa deur die drif getrek het nie, dit was ook die goeie verhoudinge op voetsoolvlak tussen vroue en hul huiswerkers.

As ons regtig met mekaar praat, saamlag en respek toon, móét dinge positief raak. Sommige mense spartel om brood op die tafel te kry. Ons moet mekaar bemagtig om gemeenskaplike probleme saam aan te pak. Soos ’n onlangse koerantbrief sê: “Steek liewer ’n kers van hoop aan as wat jy tier teen die duister.”

Dankie vir ’n batterylaai-SARIE. Laat ons vroue met “substansie” wees en nie selfgerig soos baie sterflinge nie.
Mensekind, Somerset-Wes

Gelukkig sonder man
Ek is 23 en het nog net een kêrel gehad. Dikwels vra iemand hoekom ek so gemaklikis op my eie. Soek ek nie ’n man nie?

Daar is by my geen haas om ’n man te ontmoet en te trou nie. En wanneer ek na ander vroue van my ouderdom kyk, wat al deur ’n tweede egskeiding gaan, kom ek tot die gevolgtrekking dat my manier van dinge doen tog beter moet wees as hulle s’n.

In die nuutste Twilight-fliek is die meisie slegs gelukkig wanneer daar ’n man in haar lewe is en oorweeg sy selfs selfmoord nadat haar liefde haar verlaat het.

As dít is hoe die wêreld jong meisies beskou, is ek seker maar vreemd − en trots daarop!
Alta Bezuidenhout, Hercules

 

Beste vriendin 

’n Vriendin is iemand by wie jy iets kan leer, op wie jy trots kan wees, wat ’n voorbeeld kan stel en nie mense oordeel nie. SARIE, jy is alles wat ek in ’n vriendin wil hê.

Jul artikel (Desember 2009) oor Amor het my met heel ander oë na haar laat kyk. Julle het nie vir Joost in ’n slegte lig gestel nie, en ek het soveel respek vir haar gekry. Ek hoop hul huwelik werk weer 100% met die hulp van Jesus.

Toe Steve Hofmeyr se persoonlike lewe ter sprake was, het baie mense negatiewe dinge oor hom in tydskrifte gesê. Gevolglik word hy ook nie meer oral as die beste manlike sanger in SA erken nie. Dankie vir SARIE se artikel (“Fans maak hart oop”, Oktober 2009) met kommentaar dat “Steve ’n topverkoper bly”.

Dankie, my vriendin. Jy moet trots wees om so met styl op straat te verskyn.
Dina du Toit, Vanderbijlpark

Onthou, Ma?
Ma, ek lê hier in die wit bed en skryf – al van vroeg af wakker. Die dag stort hier in bondels strale deur my venster, maar dis koud en die hope beddegoed wat Ma met besoektyd gisteraand hier om my vasgedruk het, voel solied. 

Onthou Ma nog die langpad-drawwery ná skemer? Ma het met die bakkie agterna gery soos langs die see. Plek-plek spoed vermeerder as ek vinniger sou hardloop.  Altyd agter my, die dreuning van die bakkie … deel van draf, van glo in my, staan by my. Sal ons ooit weer so kan ry? Jou ligte wat in strepe deur my treë skyn?

Ek wil nie vandag terugverlang nie. Hospitaalverlange ruik na etanol en salf. Ek wonder skielik oor ’n papie en die digte kokonnetjie waarin hy slaap. Vanoggend is ’n winterslaap, Ma. Ek het besluit hier gaan geen hartseervlinder uitbroei nie.
Andriët, Namibië

Spoor van vrede
Ons ry in stilte huiswaarts ná ’n verkwikkende groen vakansie. Net die gedagte aan die intense Gauteng knaag aan my vrede.

By die tolhek bedien ’n dinamiese jong man ons met ’n “May God bless you, sir!” In antwoord op ons wedersydse seëngroet steek hy sy hand in die lug met ’n uitbundige “halleluja!”

En net daar skep ek moed vir hierdie gebroke samelewing van ons. In sy kortstondige kontak met ons het die man ’n spoor van vrede agtergelaat. Ek wens dit was myne.
Antonette Buys, Sinoville

Skryf aan ons

Stuur jou brief aan SARIE, My sê Tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446-5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie. Briewe moet ‘n volledige doopnaam, posadres en kontaknommer bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander publikasies gestuur word nie. Dui onderaan jou brief: NET AAN SARIE GERIG.