Eie stories

SARIE-briewe Mei 2009

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com.
Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.

Reëls:
Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat.
Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: Net aan SARIE gerig.

WENBRIEF

Terug by myself


My besluit om uit my werk te bedank en voltyds ma te wees, het verskeie reaksies ontlok. Wat besiel jou om jou werk op te gee in hierdie ekonomie? Min het ek geweet watter groot besluit ek neem.


Pleks van moeilike kliënte, ignoreer ek nou ’n 2-jarige se tantrum. Ek hou saam konsert in stringe vere en krale. Ek hoor my dogtertjie uit volle bors “veels geluk, liewe maatjie” sing vir die kriek op die gras. Ek wag by die tuinhekkie vir my seuntjie, wat ná ’n pinkie-belofte sy bende-geheim met my deel. Sakekontrakte maak plek vir feëverhale en fantasieë waarin ek verdwaal.


Ek sien in die spieël weer iets van myself raak. Ek staar in verwondering na my kinders en besef met ’n dankbare hart en ’n modderkoekie in die hand: Ek het die beste leermeesters. 

Rosa Duvenhage, George


Rosa Duvenhage wen ons prysgeld van R250, plus ’n 50 ml- en 30 ml-bottel van Prada se Infusion d’Iris. Dis ’n klassieke en luukse ouwêreldse parfuum. Die vars geur van iris definieer dié eau de parfum.



 

12 JAAR LAAS…

Ek’s een van die ma’s wie se enigste kind die afgelope 5 jaar oorsee werk. Daar lê 34 vlieguur tussen ons en Tokio, en ons besoek mekaar een keer per jaar. Tussendeur Skype ons daagliks, maar die verlange bly erg.
Ek ontmoet ’n 26-jarige man van Kambodja in Bangkok. Hy was 14 toe hy in Thailand gaan werk het. Sy salaris is karig, maar hy knyp iets af om vir sy behoeftige ouers te stuur. Hy en sy ma het mekaar 12 jaar laas gesien. Daar’s nie geld vir kuier nie. Sy sal hom seker nie meer herken nie!
Ek stap weg, verblind deur trane van skaamte en dankbaarheid. Hoe bevoorreg is ek, hoe tragies vir sy ma . . . Ek bid hulle sal mekaar weer kan sien en vashou, en dank God vir al die seëninge wat ek soms as vanselfsprekend aanvaar.
Marie Minnaar, Sedgefield

SOOS ‘N PÊREL

Die glaspêrel-oorbelle wat ek in SARIE se Maart-uitgawe gekry het, het my opnuut die diep simboliek van pêrels laat besef. ’n Pêrel ontstaan uit ’n enkele sandkorreltjie wat in ’n oesterskulp beland. Die sandkorrel veroorsaak wrywing oor ’n lang tydperk. Hoe langer hierdie proses plaasvind, hoe mooier en groter word die pêrel.

Dis presies hoe ons lewe is. Hoe meer jy sukkel of ly, hoe sterker word jy van binne. Jou uithouvermoë word op die proef gestel.

Die oesterskulp steek dalk af by die ander pragtige skulpe in die oseaan, maar die innerlike skoonheid is belangriker.

Met die mens is dit ook so. Binne-in jou lê ’n skat. Moenie wag totdat iemand jou skulp oopmaak en jou pêrel ontdek nie. Begin lewe! Jy bepaal jou eie geluk.

Elizabeth Bezuidenhout, Moreleta Park

PASOP, KUBERMAATS

Dis 2009 en ons leef in ’n kuberwêreld. Ek soek op ’n dag my 13-jarige dogter, my praatkind. Sy’s vas aan die slaap, met die vinger op haar selfoon se stuur-knoppie. Die boodskap half getik . . . die slaap het gewen. (Wel, hierdie keer!)

Wat het geword van briefies in die klas van die seun wat jou wil uitneem? Jy ken hom. Jy dink hy’s oulik.

Dít verdwyn in die kuberruim. Julle MXit nou al ’n week, maar jy weet nie hoe hy lyk nie. Julle deel intieme gedagtes. Is hy werklik die persoon op die foto wat hy vir jou stuur? Hoe lees jy sy lyftaal?

Hoe beskerm ons ons kinders teen die vyand as ons nie eens die vyand kan identifiseer nie? Vra hulle om nooit persoonlike inligting op kletswerwe te verskaf nie. Die “oulike” kuber-kêrel is dalk net gereed vir sy volgende prooi!

Magda Pepler, Montagu

NIE GESTRAND MET SARIE

Ek skryf uit die Midde-Ooste, en dis wonderlik om SARIE (én Afrikaans) op die internet te lees. Die grootste probleem hier in Bahrein is dat ’n mens jou taal “verleer” omdat jy dit so min praat.

Hier is baie Suid-Afrikaanse vroue wat SARIE wil lees, maar dis nie plaaslik verkrygbaar nie. Gelukkig kry ons dit wanneer ons Doebai toe gaan. Jawad Dome, een van die winkels in Bahrein, verkoop Suid-Afrikaanse kruideniersware – Mrs Ball’s proe nog die beste en Aromat is soos goue vlokkies! Wens net hulle het ook die SARIE gehad . . .

Wanneer een van ons huis toe gaan, koop ons tydskrifte op die lughawe en deel dit onder mekaar uit. Ons vroue op die “eiland sonder ’n strand” is honger vir nuus oor ons mense, sepies en resepte . . . in Afrikaans. Al is die tydskrif soms ’n jaar oud!

Dawne Odendaal, Bahrein


Geloof soos ‘n boom


Izak de Villiers se rubriek (“2 stamme”, April 2009) neem my terug na my dogter se geboorte, 27 jaar gelede. Op 3 dae moes sy weens dikderm-probleme ’n noodoperasie ondergaan. Ek kon haar nie voed of vashou nie. Ek het by die eerste oop badkamer ingevlug en die Here gesmeek om haar lewe te spaar. Sy het wonderbaarlik herstel.


Ons het God geprys, maar soos Izak se boompie, het die geloof begin taan. Met die geringste teëspoed het ek die Here om raad gevra, maar gewoonlik my eie kop gevolg.


Ons het ná ons aftrede na ’n huis by die see getrek, wat ons kinders gebou het. Ons was in die sewende hemel, moes skraps leef, maar die Here was goed.


Toe word ons motor gesteel, ons siekefonds raak bankrot, my man kry ’n beroerte. Was ek platgeslaan? Nee, Izak se boompie het begin roer onder toegegroeide rankplante. En stadig maar seker het ’n nuwe loot sy kop uitgesteek. Ná jare van skyn-Christenskap bloei nuwe blare in ’n sterk geloof dat ons ook dít sal oorleef.


Alida Coetsee, Crestholme