inge_43_
Eie stories

SARIE-briewe Mei 2010

BRIEF VAN DIE MAAND

Dans in die reën
Dit reën in die Suid-Kaap – genade-gawe uit sy Vaderhand. ’n Fyn misreën vou see, berge en land in ’n sluier van dankbaarheid toe.

Aan die kant van die halfdroë lagune vergader die watervoëls. Dis ’n mengelmoes van kleure en vere. Party sit met vlerke wyd gesprei, koppe ver agteroor gebuig in ’n “loof die Here”-houding. Ander sit ineengedoke, koppe tussen die vlerke ingetrek – ’n toonbeeld van stille verwondering en dankbare gebed.

Die res trippel-dans en klap uitbundig met hul vlerke in die modderige water. Só moes koning Dawid gevoel het toe hy die arkdans uitgevoer het – huppelend van vreugde.

Ek koers in die nat straat af met die reën wat ’n vreugde-mantel oor en om my vou en ek dank God vir só baie vreugde en genade wat deel is van my lewe.
Bettie Louw, Mosselbaai

Dobbelsteentjie
Met my verjaardag op hande kry ek bedekte vrae van my man oor wat ek as geskenk wil hê. Botox, facelifts en so ’n bietjie nartjieskil uitsuig is dalk ’n opsie, maar helaas, baie duur.

Ek lê in die bad ná ’n lang parsdag (ek’s ’n wynmaker) en sien die bottel skuimbad raak. My gedagtes gaan 35 jaar terug en ek onthou die opgewondenheid van ’n Kerskous.

Ek was tien, op ’n klein plattelandse dorp sonder krag. Geen TV of selfs ’n tape recorder nie. Ons vermaak was bordspeletjies, en die belangrikste item die dobbelsteentjie. Ons ouers het voor Kersfees vir ons op die naaste groot dorp gaan presente koop. In my Kerskous was ’n bottel badolie. In sy prop, vasgevang in glas, was’n rooi dobbelsteentjie. Die bottel is vandag nog net so op my bad se rand.

En toe ek universiteit toe gaan, het my pa vir my ’n klein spaarboksie van hout gegee. Dis nou op my lessenaar, gevul met besigheidskaartjies van wynvriende wêreldwyd en steeds my kosbaarste besitting.
Soms is die klein dingetjies in die lewe soveel meer werd as geld en glorie.
Jacoline Haasbroek, Franschhoek

In ons bloed
Saterdagaand vlieg ek ná ’n kongres terug van Johannesburg af Durban toe. ’n Vreemdeling kom sit langs my.
Ek begin ’n bietjie gesels nadat ons opgestyg het. Hy vertel my dis sy eerste besoek aan Suid-Afrika. Hy is van Ghana.

Saam kyk ons na die vlugtydskrif en hy wys vir my op die Afrika-kaart hoe ver hy gevlieg het. Hy het ’n B.Com.-graad verwerf en kom nou by sy vriend in Port Shepstone kuier.

Toe ons oor Durban vlieg, kyk ons saam na die nuwe Moses Mabhida-stadion wat helder verlig is. Hy draai na my en sê SA lyk na ’n wonderlike land. Hy kom sy sokkerspan hier ondersteun.

Nadat ons geland het, haal hy my oornagtas uit die bagasierak bokant ons koppe en groet my met die hand.
’n Vreemdeling het my pad gekruis en weer eens het ek met dankbaarheid besef wat ek het. Ons is almal bekommerd oor SA se toekoms, maar dit bly ’n wonderlike land! Afrika se rooi grond is in ons bloed.
Marika van Wyk, Kloof

 

Bertha le Roux7de Laan se Emma

Comrades, hier kom ek

 Ek gaan binnekort my doelgewig bereik nadat ek in Augustus 2009 met Bertha le Roux se dieetplan by Dr. Cohen begin het.

Ek het reeds 26 kg afgeskud en moet nog 12 kg verloor. Dis werklik die beste eetplan waarop ek al ooit was. En my “kleiner” klere pas my weer.


Ek het vorige dieetplanne sonder enige sukses gevolg. Nou voel ek byna soos ’n celeb wanneer ek in die dorp loop en mense wil weet wat ek doen om so goed te lyk.


Al die odds was eintlik teen my, want hier in KZN is nie ’n kliniek nie. Ek sluit toe by een in Midrand aan en ondersteuning was altyd net ’n e-pos-boodskap en telefoonoproep ver. Nou is daar geen keer aan my nie! Vanjaar kan ek my negende Comrades met groter gemak aandurf.

Sandra Odendaal, Amanzimtoti
*Lees ook “Nuwe lyf” op sarie.com> my wêreld> briewe> SARIE-briewe

Hoe gee ek ’n selfoondrukkie?
Ons sit op die lughawe en eet vir oulaas ’n steak. Ons is hier om vir ouboet af te sien wat by kleinsus gaan kuier. Ek’s die in-between sus, en my hart is ook vandag in-between.

My kinders is nog te klein om saam te vlieg, maar ’n deel van my hart lê in Londen. Hoe onregverdig dat werkgeleenthede die afstand moet bepaal waaroor harte moet span. Was dit ooit so bedoel dat ’n Facebook-poke ons drukkies moes wees of dat you’ve got mail meer doen vir die emosie as ’n glinster van liefde in die oë?

Dankie tog vir tegnologies-ondersteunde liefde, maar ai, ’n drukkie bly ’n drukkie!
Petro Kleingeld, Trompsburg

Nou toe nou!
Groot was my verbasing toe ek die Maart 2010-SARIE in die dokter se wagkamer optel en lees ’n sogenaamde Afri-Frans-CD, waarop ’n Franse diva “ons heel mooiste Afrikaanse liedjies in Frans sing”, het SA se musiekliefhebbers oorrompel.

Nou toe nou!

Hierdie “musiekliefhebbers” het seker nooit “Kinders van die wind” waardeer as Laurika Rauch of Koos du Plessis dit sing nie. Of hulle weet nie hoe klink “Al lê die berge nog so blou” wanneer Johannes Kerkorrel dit sing nie. Wat dan van “Lisa se klavier” met die gevierde Koos Kombuis? En dit alles in Afrikaans.Ag nee wat, ek gaan nie die Afri-Frans-CD koop nie en ook nie die Afri-Frans-vertoning bywoon nie.

Ek gaan liewer lekker saamsing wanneer die liedjies in Afrikaans gesing word!
Paul van Zijl, Groot-Brakrivier

* Redakteur: Ons respekteer jou mening en wil jou verseker: Die hart van SARIE is Afrikaans – dis ons passie. Ons stem saam met Anna-Mart van der Merwe, wat nes Laurika Rauch deel is van Afri-Frans, wanneer sy sê: Dit laat ons taal op ’n ander manier lewe!

 

Lied van ‘n tango

Ek was bevoorreg om vroeër vanjaar kaartjies vir die wonderlike Tango-vertoning by die Suidoosterfees te wen in ’n SARIE-kompetisie.

Die vertoning het my herinner aan al die klein dingetjies wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar en so maklik vergeet. Ek en my vriendin is met ’n lied in die hart daar weg. Dit was vir ons albei, as werkende ma’s van jong kinders, van onskatbare waarde.

Dankie, Amanda Strydom en Jeanne Els.
Fre-Nay Brown, Kuilsrivier

*Jeanne Els is die skrywer van Tango: Ligvoets deur die lewe.

’n Ligstraal
Ek kan soos gewoonlik nie wag om SARIE se briewe te lees nie. Griet Meyer se “Waarheen op pad?” (April 2010) was ’n ligstraal. Die vrag op my rug . . . is dit nodig?

Terug by die werk op 5 Januarie 2010 word ek meegedeel dat my salaris met R2 000 per maand verminder word. Dis glo onregverdig teenoor ander personeel dat ek soveel meer as hulle verdien. My tien jaar in die maatskappy se diens teenoor hul vier en vyf jaar maak nie saak nie.

Hoe gaan ek oorleef? My seun gaan op ’n kerkkamp. Hy sê hy’t ’n probleem en vra of ek kwaad gaan wees as dit geld kos. Hy wil graag ’n pakkie skyfies en koeldrank hê vir die bus. My hart wil breek. Dis ongelooflik hoe kinders saam leer swaarkry en geraak word wanneer ma daagliks wonder waar die volgende dag se brood vandaan gaan kom.

Dan lees ek dat ek die vrag op my rug moet afskud. Eke het nog altyd bo uitgekom en weet dat wanneer ek glo en vertrou, daar ’n blink toekoms op my wag!
Positief, Jeffreysbaai

Die resep
My moeder is in Januarie 1995 oorlede, maar ek het al die kosbare herinneringe en ’n liefde vir bak wat ons so dikwels gedeel het.

Groot was my verbasing toe ek onlangs ’n kaartjie in die pos kry en sien dit kom van my tuisdorp af. Ek kon my oë nie glo toe ek die koevert oopmaak nie. “Kaasskons sonder eiers”, ’n resep wat my ma in 1984 in haar eie handskrif geskryf het. Ek het betraand met ’n groot gesukkel die briefie daarby begin lees.

My ma se kollega, wat saam met haar by die stadsraad gewerk het, en haar dogter het laaie reggepak en die resep gevind. Hulle het my opgespoor en die oorspronklike geskrewe resep vir my gestuur. Dit was die wonderlikste geskenk ooit en is nou in my spesiale resepte-plakboek.

’n Mens moet die tye saam met jou moeder koester. Dít onthou jy wanneer dit net jy en jou gedagtes is.
Ina de Bruyn, Malelane

Sarie Marais
Op 7 Augustus verlede jaar word ek ouma van ’n pragtige babadogter. Ek ontmoet haar en haar ma en my skoonfamilie ses maande later – op 24 Desember 2009 in ’n spierwit sneeubedekte Amsterdam, waar hulle woon.

Die ontmoeting oortref elke verwagting wat ek gekoester het. ’n Opname van “My Sarie Marais”, gesing deur ’n Nederlandse sanger, word vir ons gespeel. Dit bring heimwee.

In Eva, my skoondogter, se sitkamer hang ’n lewensgrootte foto van Nelson Mandela. Dit laat my besef dat hierdie mense opreg belang stel in ons land se tale en kulture.

Wat my diep geraak het, is dat ons kleindogter na Sarie Marais genoem is.
Marianne Beames, Wynberg

Jou sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.

REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.