Eie stories

SARIE-briewe Oktober 2009

Leef pienk

Dit begin nou oral ’n verskyning maak, in die klerewinkels en selfs in eetgerei. En natuurlik die pienk borskanker-strikkie.
Ek gaan, soos verlede jaar, weer my strikkie in Oktober dra. Ek gaan die lewe waterpas in die oë kyk en elke dag voluit leef. Met dankbaarheid.
Wanneer die eerste pienk lentebloeisels hul verskyning maak, gaan ek stilstaan en tyd maak om aan hulle te ruik.
Ek gaan die kospotte eenkant toe stoot en saam met my seun tafeltennis speel.
En terwyl die pienk strikkie my herinner aan my suster, Erika, wat aan borskanker gesterf het, is dit ook ’n teken van my ondersteuning aan ander vroue in hul stryd teen borskanker.

Charmaine Munro, Randburg

Michélle van Breda

Hul glimlagte


Ek lees die artikel oor Michélle van Breda (Julie 2009). Sy vra: “Wat is tog mooier as ’n mooi glimlag?” My hart trek styf saam van die seer. Ek sien al die mooi om my raak . . . ons huis, mooi goed in die huis, ’n mooi tuin, mooi sonsondergang op ons stoep. Maar die mooiste ding van alles kan ek nie koop nie. My kinders se glimlagte.
My seuntjie is outisties en ek wens hy’s in ’n skool met maats wat sy hart verbly en hom kan laat lag. Vra ek te veel of begeer ek net wat ander ouers as vanselfsprekend aanvaar?
Hy het die wonderlikste sussie, maar sy’s ongelukkig. Dis vir haar moeilik om te verstaan dat haar boetie nie kan sien wanneer hy haar hartseer of bly maak nie.
Maar wanneer daardie glimlagte soms deurskemer, voel dit tog asof ek die rykste vrou op aarde is.
Liesl Röhm, Witbank

Sonder werk


Vandag moet ek die beklemming om my hart met iemand deel. My man is een van talle wat sy werk gaan verloor. Hy is 55 en gesond, maar die mededinging met die jonger geslag is oorweldigend.
Hy moet op vervroegde pensioen gaan, maar weens ’n egskeidingsooreenkoms waarin hy die helfte van sy pensioen moes afstaan, kan hy dit nie bekostig om af te tree nie.
Ons dink nooit aan al die mense wat skielik hul werk verloor nie, totdat jy een van daardie groep is. Wat gaan van ons word? Daar is soveel onsekerhede, soveel spanning van wonder waarheen, wat gaan gebeur, hoe maak ons om te oorleef?
Mense wat nog ’n werk het, moet dit as ’n wonderlike voorreg beskou.
Biddende vrou op V

SARIE gee kleur

Sondagoggend moet ek vroeg kerk toe gaan. My gesin slaap nog en ek skarrel in die donker rond (net die dowwe bedlampie is aan) om my gesig in te kleur. Ek kry niks raakgevat nie. SARIE lê op my spieëltafel en ek onthou ek het ’n paar grimeer-samples daarin gesien.
Met my SARIE, Bybel en halfmaankringe onder die oë is ek op pad. Ek kon myself mooi maak met onderlaag, ’n pragtige rooi Revlon-lipkleur en handeroom voordat ek met selfvertroue agter die klavier ingeskuif het.
Dankie, SARIE, jy kleur my lewe in! (En daai lipstiffie hou sowaar 12 uur!) Ek is ná kerk reguit Red Square toe waar ek die drie produkte gekoop het. Dit blý nou in my handsak.
Anel Vorster, Durbanville

 

My jubeljaar


2008 was een van die stormagtigste, moeilikste jare van my lewe. Dit het op ’n baie lae noot geëindig toe ek met ’n buisswangerskap in die hospitaal beland het. ’n Ervaring wat ek niemand toewens nie.

Ek het 2009 my jaar van feeste gemaak. Ek woon vir die eerste keer die Suidoosterfees en Woordfees by. Een van my gedigte is in die Nuwe kinderverseboek gepubliseer en ek was op Noot vir Noot!

Ek het SARIE se lesersdag by D’Aria bygewoon – ’n feesoggend propvol bederf!

En ek het die voorreg gehad om onder andere vir emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu te ontmoet.

Die jaar is nog nie verby nie, maar sover is dit werklik ’n jubeljaar. Ook vir SARIE met haar 60ste verjaardag. Dis elke maand ’n fees om so ’n pragtydskrif in Afrikaans van bladsy tot bladsy deur te lees.

Elmarie Waltman, Kaapstad

 

Brief van die maand


Suster-krag


Ons is vier susters en het sedert verlede jaar daaglikse dagboek-sessies per e-pos. Ons kommunikasie bestaan uit die vorige dag se gebeure, iets snaaks, ’n skeet, ongelukkigheid wat gedeel word, raad oor kinders of resepte uitruil. Soms is dit onthou-jy-nogs. Ons kyk met grootmens-oë na ons kinderdae en dis heerlik om dit weer te beleef!
Ons is oor die Wes-Kaap heen versprei, maar is tog saamgevat in ’n pragtige eenheid met dié gesprekke. Ons het ’n kosbare manier ontdek om ons daaglikse bestaan op te kikker.
Ons was tussen 5 en 13 jaar oud toe ons ma in 1973 gesterf het. Die dagboek-sessies is ’n ongelooflike gevoel van behoort en samesyn, en hiermee is ons ma se wens vir ’n hegte band tot ’n groot mate vervul. My vriendinne en kollegas beny my hierdie absolute vreugde!
Herma Moore, Durbanville



Herma wen R250 kontant, asook ’n 50 ml-bottel Prada Infusion d’Iris ter waarde van R760 en ’n 50 ml-bottel bypassende Prada Infusion d’Hommeter waarde van R570. Infusion d’Iris is ’n elegante, multi-dimensionele geur met sitrus en iris en vleugies wierook en sederhout

 

‘Happy time’

Ek voel siek van die buikbestraling ná my histerektomie. My jaar is gekenmerk deur talle chirurgiese prosedures, mediese toetse en behandelings. Vriende nooi ons vir ’n naweek in hul wooneenheid naby Clarens.
Die naweekplanne ry wipplank, maar op die nippertjie besluit ons die wegbreek na die mooi sandsteengebergtes sal my en my man albei goed doen. By die padstal koop ek SARIE, met die pragtige Anna-Mart op die voorblad. My verhouding met die tydskrif het tydens my siekverlof verinnig – SARIE in die dokter se spreekkamers, langs my hospitaalbed of tuis, SARIE op Facebook.
Ná my stortbad besef ek dat ek my lyfroom tuis vergeet het. Druipstert en droog staan ek voor my hopie klere. My oog val op SARIE en ek onthou die Happy Time Nivea-koevertjie in die tydskrif.
Dankie vir die goedvoel-sensasie van ’n sitrusroom wat sorg vir ’n bietjie “happy time”!
Elsabé Olivier, Brooklyn

My sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.