sr1010brieweblad01
Eie stories

SARIE-briewe Oktober 2010

BRIEF VAN DIE MAAND

Plant ’n boom!
Ons is pas terug ná sewe ongelooflike weke in Engeland! Afgesien van die opwindende voorreg om ons enigste dogter se eersteling te ontmoet, het een ding vir my en my man soos ’n paal bo water uitgestaan . . . die wonder van bome en nogmaals bome! Groen in alle moontlike skakerings.

In woongebiede, dorpe en selfs stede is daar grasgroen, boomryke parke, waar moeë en oorwerkte siele tot rus kan kom en asem skep. Letterlik. Reg rondom Londen is dit die geval – ma’s met babas in stootwaentjies en gesinne en bejaardes in groot getalle soek die natuur op.

Bome word gedurig grootskaals aangeplant en versorg. Dis só jammer dat dit nie in ons wonderskone land ook gebeur nie. Bome en parke sneuwel eerder in die naam van vooruitgang.

Kom ons besluit nóú: Hierdie lente plant ek ’n boom. Op dié manier bewys ons ’n groot weldaad aan ons nageslag.
Engela Retief, Strand

Stof jouself af
Dis 22:33. Alles is stil in die huis. Ek kry 65 bladsye van Kaalkop 2 in ’n rekordtyd gelees. Kaalkop 1 was my metgesel toe ek wanhopig langs die hospitaalbed van my 16 maande oue seuntjie gesit het. En nou sit Nataniël ’n dankbare glimlag op my gesig.

In hierdie 65 bladsye het hy my weer geleer om my drome te gryp, om met passie te lewe, om nie my kristal net vir “beste” te bêre nie, om ’n vriendin met koffie en koek te bederf, om die warboel in my kop opsy te skuif en tot stilstand te kom, en om dit wat ek wil doen, nóú te doen.

Ons leef net een keer, daarom moet ons dit met passie en oorgawe doen. Kom ons wees vroue met oorgawe. Ek daag elke SARIE-leser uit: Stof jouself af en begin lewe!

Ek gaan haal my resepteboeke uit die kas. Môre bak ek ’n koek. Ek slaan nou ’n splinternuwe blaadjie om.
Tanya du Toit, Wierdapark

Agter die wolke
“Al weer die suisende stofwind wat waai. Dis stof oral – in my ore en oë en tussen my tande. Dis net sand, stof en nog die blare ook.” Só omgekrap begin ’n kollega vanoggend die winderige dag.

Wind . . . digters dig daaroor. Sangers sing daaroor. Wie sal “Kinders van die wind” vergeet?

Die Bybel het verskeie verwysings na wind. In Handelinge lees ons dat “die wind teen ons was”. Baie idiome handel oor die negatiewe betekenis van wind, want as jy deur die wind is, is jy deurmekaar. As jy in die wind praat, praat jy onsin, en as dit sleg gaan, kry jy die wind van voor. Dit kan darem ook voor die wind gaan!

Maar kyk agter die stofwolke, en jy sien die blou reënwolke. Dan suiwer die sagte reëndruppels weer lug en land. En die wonderlike natgrond-reuk vul die skoon lug. Hou maar die vensters toe as die wind so waai: Die reën kom!
Wind van die Vrystaat, Langenhovenpark

 

My aanneemseun

 Die egpaar wat die bruin babaseuntjie aangeneem het, het ’n geskenk van God gekry. Hou aan om hom al jul liefde te gee. (“Aanneem-storie met ’n verskil”, Julie 2010.)

Ons het in 1991 ’n weggooi-babaseuntjie in ons huis ingeneem en later aangeneem. Ek kan baie stories oor ons ervarings vertel. Maar een ding wat my hart verbly, is dat God jou dié kinders om ’n rede gee.

Manuel is nou 18 jaar oud en by ’n Bybelskool. Sy begeerte is om vir die Here te werk, en hy wil verder in dié rigting studeer.

Wanneer ons saam in die straat loop – die Zoeloe-seun en die ou wit man – sien ek mense fluister-praat. ’n Mens sal nooit weet wat gesê word nie.

Maar ek weet Manuel is vir die werk van die Here hier. En net Hy weet wat voorlê.

Sterkte aan almal wat dit doen, nie om gesien te word nie, maar omdat kinders ’n geskenk van God is.
Ernst van Niekerk, Heidelberg (Gauteng)



 

Warm om die hart

 Die aanneem-storie van Hennie, Doré en klein Johan het warm in my hart kom nesskop. Dis so ’n mooi storie van opregte liefde.

My vriendin se man is oorlede kort nadat hulle ’n swart seuntjie aangeneem het. Hierdie kindjie het haar deur haar helingsproses gehelp.

Almal het gedink hy gaan bederf wees. Maar hy is die soetste en oulikste kind op drie wat ’n mens kan kry. Sy lewensvreugde en passie vir die lewe is vir ons as volwassenes ’n inspirasie en ’n lig elke dag.

Geniet jul seun, Hennie en Doré. Al wat ’n kind nodig het, is liefde.  Dit maak nie saak wat sy velkleur is nie.
Carima Jonker, Brackenfell

*Lees ook “Ons vreugde van ’n ander kleur” op sarie.com > My lewe > Ons stories > My storie.

 

Feetjieland
Terwyl ek na ’n TV-program kyk oor die trauma waardeur sommige kinders gaan, dink ek aan ’n skoolhoof op Saldanha. Hy het ’n feetjieland in een van sy klaskamers geskep. Oral is rakke met feetjies in alle groottes. In een hoek is ’n spuitfontein met ’n groot fee in die middel. Klein liggies verlig die vertrek net effens.

Alles is doodstil. Jy hoor net die gemurmel van water. Verwag ’n feetjie gaan enige oomblik met haar towerstaf op jou skouer tik.

As die personeel agterkom ’n leerder het ’n probleem – tuis of by die skool – word hy feetjieland toe gestuur. Hier kan hy vir ’n rukkie al die onaangenaamhede daarbuite vergeet. Daarna sien die kind weer kans om die lewe in die oë te kyk. En dit werk!

Miskien moet elke skool ’n feetjiekamer hê. Ek glo daar sal meer gelukkige kinders wees in ’n wêreld wat so vol probleme vir klein mensies kan wees. Feetjies verklik mos nie!
Bessie Oosthuysen, Knysna

Posbusgeskenk
SARIE, die dag toe ek jou in my posbus kry, was ek stomgeslaan, half histeries, maar tog dansend van blydskap. Sien, dit was my man se geskenk aan my. ’n Vriendin wat ek so graag wou hê.

Ek kan nie wag om jou elke maand uit my posbus te haal nie. Ek maak jou oop en dan ruik ek aan jou. Ja, jy het ’n besonderse reuk, en soos ’n verslaafde kan ek nie daarsonder nie.

Jy’s so spesiaal en verras ons gedurig met geskenke, of dit nou ’n armband of pasta is. En vandag sê ek: SARIE, ek is lief vir jou!
Linda Jansen van Rensburg, Vanderbijlpark

 

Dankie, Nedine

Watter moed moes dit van Nedine Blom en haar suster, Elmi, geverg het om hul verhaal aan die wêreld te vertel? (Augustus 2010.)

Ek is bly dat Nedine haar platform gebruik om kinders wat dieselfde deurmaak of deurgemaak het, te help. Hul ma moet ook deur ’n moeilike tyd gaan. Al drie het ons ondersteuning en gebede nodig.

Kom ons ondersteun Nedine se CD-verkope vir haar werk om ’n veilige hawe vir gemolesteerde kinders te help vind.

En vir Elmi . . . dalk ’n groot ruiker van liefde.
Anita Boezaart, Die Wilgers

*Lees artikel op sarie.com > My lewe >Ons stories > My storie.

 

Kook uit sarie.com
Ek is 26 en bly al vier jaar in Londen. Ek kyk vandag by die venster uit en sien die donker grys wolke wat dreig om reën te bring. Dis ’n dag vir lekker kos kook. Ek “google” SARIE en kry ’n bobotie-resep, en natuurlik vele meer!

Hoe lekker is dit om myself ure te kan besig hou op jul webtuiste hier in ’n ver land, en om huis ’n bietjie nader te bring. Waarlik SARIE, jy’s ’n inspirasie vir elke vrou!
Bianca Diedericks, Londen

Liefde sonder perke
Ek dink heelparty vroue was teleurgesteld toe hulle lees Hugh Grant, een van die hedendaagse ikone van liefde, glo nie man en vrou is werklik vir mekaar bedoel nie, en dat ware liefde nie bestaan nie (Maart 2010).

Daar word gesê mans is van Mars en vroue van Venus, maar ons almal weet, die twee is sonder twyfel vir mekaar bedoel. Dis jammer dat liefde altyd as hierdie skoenlapper-in-die-maag-gevoel voorgestel word.

Onvoorwaardelike liefde, die soort wat vir ewig hou, is om onselfsugtig lief te wees vir die ander persoon, al het hy of sy jou hoe kwaad- of seergemaak. Dié liefde ken geen perke nie.
Anja Cook, Somerset-Wes

 

Jou sê tel

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie.
REËLS: Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer envolledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie.
Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.