marinahenn
Eie stories

SARIE-leser Marina Henn vertel: “My reis met kanker”

“Ek smeer altyd lyfroom van my nek af oor my hele bolyf aan, en dis toe dat ek die knoppie voel, aan die bokant van my bors. Ek het dit begin dophou en besef hoe vinnig dit in ’n maand se tyd groter geraak het. Op 24 Mei vanjaar het ’n sonar en mammogram die knop bevestig. Die chirurg was ferm: dit moes uit. Van die weefsel is weggestuur vir ontleding. Toe begin die gewag op die uitslag. Maar ek het myself net positief ingestel en besluit, sou dit kwaadaardig wees, hanteer ek dit vandaar: een ding op ’n slag.

Maandag, 4 Junie 2012, is ek meegedeel dat dit borskanker is en dat ek ’n mastektomie (my linkerbors) met okseldisseksie moet ondergaan. (Okseldisseksie beteken dat hulle van die limfkliere onder my arm ook verwyder en ontleed om te kyk of die kanker versprei het.)

Ek het so baie vrae gehad oor hoe en wanneer dit gedoen gaan word, maar dit het vir my gevoel ons praat oor iemand anders. Ek het dadelik besef dit sal nie help om in ’n hoekie te sit en huil nie, dis die pad wat ek moet stap en ek sal positief bly en die beste daarvan maak.

My vriendinne kon nie verstaan dat ek so maklik daaroor gesels sonder om te huil nie. Maar ek het geleer hoe vinniger jy oor sulke moeilike dinge praat, hoe makliker verwerk jy dit.

Toe ek die nuus aan ons twee seuns, Pickard (21) en Eckard (17), oordra en vir hulle sê dat my bors verwyder gaan word, was dit vir hulle ’n groot skok. Pickard se reaksie was: ‘So Ma gaan nooit weer ’n bikini kan dra nie?’ Dit was so kosbaar om dit te hoor en ek moes lag met trane in my oë.

Eckard is nie eintlik ’n kind wat sommer emosies toon nie, so ek het langs hom op sy bed gaan plaasneem waar hy sit en kitaar speel en mooi verduidelik dat ‘Mamma nie doodgaan nie, maar dat hulle die kanker moet verwyder’. Hy’t net sy kop so oor die kitaar laat sak en begin huil. Ek het hulle verseker dat ek nooit vir hulle ’n verleentheid sal wees om so ‘ongebalanseerd te lyk nie’ en dit het ons almal weer laat lag.

Ek dink vir my man, De Wet, was die gewag die moeilikste. Hy’t al vir my gesê as dit nie vir my positiewe houding was nie, weet hy nie hoe hy dit sou kon hanteer nie.

Op 8 Junie 2012 is my linkerbors verwyder. Drie dae later is ek huis toe, steeds met twee dreineringsbuise in. Ek het ’n lapsakkie gehad waarin hulle gehang het, ek is dorp toe met my ‘handsakkie’ en niemand het eens iets agtergekom nie.

Ek het soveel vriende en familie wat ondersteuning bied, dis onbeskryflik. Eintlik het ek al so baie gelag en vrede ervaar dat ek nie anders kon as om tevrede te voel nie.  

Die tumor was ’n graad III-kanker, wat ’n aggressiewe soort is. Met my besoek aan die onkoloog het ek gehoor daar lê agt chemosessies voor – een elke drie weke. (Ja, my hare sou uitval!) En dan moet ek vir nog ’n jaar lank chemo binne-aars kry.

Ek het gewonder: Hoe sal ek tog sonder hare lyk? Ek koester nou my werkbroue en wimpers soos stukkies goud! Ek het besluit ek sal mooi goed om my kop drapeer en groot oorbelle dra. Ek wou nie ’n pruik hê nie. En dertien dae ná my eerste chemosessie het my hare soos blare van ’n boom afgeval. Dit was nogal emosioneel, en ek het op daardie sonnige oggend sommer lekker gehuil oor alles – en toe was dit ook verby. Ek het later die knipper deurgetrek en al die hare afgeskeer, want die uitvallery laat jou jeuk. Die afskeer was groot pret.

’n Vriendin het vir my die mooiste lappe met rose gegee – ek drapeer hulle net soos ek voel. Dis groot opgewondenheid elke oggend voor werk [Marina is ’n opgeleide verpleegsuster by ’n dokterspraktyk], en die groot oorbelle doen die ding. Die snaaksste is dat ek nog elke oggend my kaal kop met die droër droogblaas!

Ek het van die begin af met almal oor my kanker gepraat, want dit maak dinge makliker vir jouself én vir die mense om jou.

’n Foto vertel altyd ’n storie, daarom het ek besluit met hierdie kaal kop wil ek vir ’n fotosessie gaan om my storie uit te beeld. Dit was ’n wonderlike ervaring en ek het soos ’n model gevoel. Ek gaan mooi vergrotings maak en in ons huis hang. Eintlik sou ek graag een vir Nataniël wou stuur. Ek het gespot en gesê ek gaan in die nuwe Checkers- boerewors-advertensie verskyn – saam met hom!

Ek speel al die afgelope vier jaar model vir ’n boetiek op Upington waar ons woon. Met die mastektomie het ek vir Bettie [die eienaar] gesê: ‘Asseblief, al het ek net een bors, gaan ek weer model speel – met of sonder hare!’ Ek het tulbande gedra, elke keer anders geknoop. En in die aandrok sonder bandjies het ek met my kaal kop die loopplank aangedurf. Dit was ’n perfekte oomblik, en ek kon hoor hoe die mense ‘oe en aa’. Ek het so trots en mooi gevoel en moes hard sluk aan die trane toe almal opstaan en hande klap.

Ek wil graag vir ander vroue wat ook die pad stap, sê:
As jy dit positief aanpak en voluit lewe, kan jy steeds waardig vrou wees, en jy kan mooi en goed voel al is daar geen hare of bors(te) nie. Dis hoe jy hier diep binne-in jou hart voel – dis wat jy uitstraal na ander.

Moenie dat borskanker jou terughou of onderkry nie. As jy mooi na jouself kyk en goed voel oor hoe jy lyk, positief bly, voluit lewe, lag so baie soos jy asemhaal, dan het jy klaar die stryd gewen. Dis ’n keuse wat jy maak …

Ek het ’n stukkie gelees wat sê: As jy iets geleer het uit 
’n verlies, het jy iets gewen.
Dit klink dalk snaaks, maar ek het nog nooit so goed gevoel oor myself nie, ek loop oor van energie en voel so dankbaar oor alles. Dis die beste tyd van my lewe. Dis
soos party mense se oorsese reis, hierdie is my beste reis!

Dis byna soos seisoene van die lewe. 

Marina en haar gesin

  • Tersia

    Sjoe! Jy laat my sommer tjank!
    Jou aansteeklike humorsin en positiewe benadering is wonderlik! Baie sterkte vir jou en jou gesin!
    Blessings

  • Charmane

    Ja, ek moes self nou hard sluk…jy is ‘n motivering vir baie!!!

  • Alta Coetzee

    Lekker huil ek nou! So dankbaar vir my eie gesondheid.

  • Sonja

    Marina, jy is beslis ‘n inspirasie en ek is mal oor hoe positief jy is. As ‘n mens positief is kan jy enige iets oorwin, dit gaan oor jou ‘attitude’. Baie sterkte vir jou en dankie vir jou boodskap.

  • Theresa

    Baie goed en inspirerend!! Het jy nie baie naar geraak van sessies nie?

  • Karin

    Wat ‘n pragtige en moedige vrou!

  • Juliana

    Sjoe wat ‘n inspirasie is sy nie. GOD bless.

  • elza

    Voorspoed en dankie!!

  • Gerzelda Cooper

    Hi Marina was jou nooiensvan Maas gewees? Jy het die jaar voor ons by Otto du Plessis klaar gemaak!

    Baie Sterkte vir jou! Jy is ‘n inspirasie vir almal!

    Groete

    Gerzelda Cooper (neé Theron)

  • Jolandie

    En ek tjank sommer saam!!! Jy is ‘n pragtige mens en wonderlik om alles so goed te kan hanteer. En ‘n inspirasie vir elke vrou daarbuite wat dieselfde moet deurgaan!! Ek is mal oor julle familie-foto, dit is pragtig, en ek is seker jou man en seuns is net so trots op jou! Sterkte en mag die pad vorentoe net met rose besaai wees vir julle almal!

  • Lillian

    Trane kry ek nou in my oë, jy is ‘n inspirasie en dankie.

    Jou benadering gee mens ‘n ander perspektief van hoe om kanker te hanteer as dit deel word van jou lewe.

  • marina henn

    Hi jitte julle baie dankie vir die mooi terugvoering.ek so bly dit beteken vir iemand anders ook iets,en Grezelda my nooiensvan was Maas,ek onthou jou!!Sjoe soos ek nou hier sit kry ek n soort warm!!chemo sit n mens n vroee menopause!!!!!maar moeni worry nie,dis die eier wat verval,nie die hen nie,dis wat n vrou opoffer net om gesond te word!

  • Janey

    Dis hoe ek Marina ken – haar positiewe uitkyk op die lewe en lieflike humorsin is werklik aansteeklik. Saam met my boeta De Wet en haar twee ewe-komieklike seuns is hulle ‘n regte ‘treat’ en word daar baie gelag. Ons ry maklik kilometers agter hulle aan vir ‘n lekker bederfkuier. Maak gerus ‘n draai by hulle gastehuis: http://dheilsguesthouse.com/