Eie stories

SARIE mý keuse op inkopielys

Hallo my vriendin SARIE

Ná my besoek vandag aan die winkelsentrum, moes ek net hierdie briefie met jou deel. Soos almal reg oor die wêreld, is ek maar net te bewus van die ekonomiese knyp waarin ons, onsself bevind. Om besparingsmaatreëls vir ons huishouding in te stel was eintlik ’n broodnodige projek wat ons oor ’n koppie sterk koffie bespreek het. Die syfers praat hard en emosies is glad nie ter sprake nie.

Ons moet met ons koppe dink, beaam ek en manlief albei! Natuurlik is dit maklik as ons weet dat dit nie vir langer as ’n jaar gaan wees nie. Eintlik het mens mos baie min nodig om te “survive”. En ons besluit klink soos ’n uitdaging!

 Maar toe gebeur dit … Vandag sien ek toe mos die nuutste SARIE (Mei 2009)!

Dis nie so duur nie, skerm ek, maar manlief staar stip na die inkopielys! Jy moet fokus, my vrou, maan hy. Hy stap verby, maar ek kan net nie. Dis nogal so ’n ekstra dik uitgawe! Soos ’n gelukspakkie! Ek haat begrotings!

Daar móét ’n manier wees. Ek dink vinnig. Ons elkeen het ’n “bederfie” in die maandelikse begroting ingewerk, soos ’n spesiale blok sjokolade of ’n bottel van die geurigste koffie. Nou ja, hier kies ek dan nou onvoorwaardelik my nuwe bederf vir die maand. My spesiale ruimhartige SARIE! Al sit ek en sy die res van die maand en tee drink, gaan ek nie eenmaal oor my bottel koffie treur nie. Ek druk my keuse styf onder my arm in, hier teenaan my hart, en stem in dat ons alles het wat nodig is. Ons kan maar huis toe gaan.
Manlief skud net sy kop en glimlag skelmpies met die eenkant van sy mond. Mans sal mos nou nie alles hiervan verstaan nie, maar dis goed dat hy my keuse ook aanvaar.

Tuis maak ek die allerlekkerste pot tee vir ons, en met my bene lank voor my uitgestrek, verlustig ek myself in die kleurryke uitgawe van my vriendin SARIE. Vir baie jare het ek hierdie bederf maar net as ’n gegewe aanvaar, en nooit gedink dat ek dit soos ’n sny “Blackforest”-koek saam met my tee sal geniet nie. Ryk en vol van die mooiste artikels, skoonheidswenke en hier en daar ’n “cherry” in die vorm van ’n lekker kompetisie. Manlief sien die foto van François Pienaar met die 1995-Wêreldbeker raak, en vra of hy ook bietjie deur die tydskrif kan blaai. Ja, maar dit sal jou die helfte van jou blok spesiale sjokolade kos, stem ek in. Alles het ’n prys en hiervan neem ons deeglik kennis. Maar ek weet SARIE, my keuse, is haar prys werd. Sy’s my “feel-good look-good”-vriendin.

Kontrei-groete uit Kaapsche Hoop, Nelspruit

Connie Garrard