Eie stories

SA laat my tone krul in die Ooste

Sy 1 200 km ver en ek 12 000 km verder.

Tussen die lyne lees ek dat ons albei eintlik wonder hoe dit sou wees om plekke te kon ruil. Ek wonder of ek nie maar liewer net moes trek na ‘n rustiger, veiliger deel van ons land nie, en sy merk op dat dit hoogtyd is dat sy ook iets doen wat haar tone weer sal laat krul.

Hoeveel keer het my tone gekrul sedert ons verlede jaar weg is uit ons land? My tone het gekrul om al die nuwe gebruike, mense en plekke te ontdek en te ontrafel. Maar my tone krul steeds elke dag wanneer ek iets uit Suid-Afrika hier in die Ooste ontdek, soos ‘n onverwagte dag van blousel-blou lug, ‘n ou SARIE wat ‘n SA vriendin vergeet het om weg te gooi nadat sy uitgetrek het (of was dit subtiel agtergelaat?), miracle whip mayonnaise op ‘n rak en ‘n vreemdeling wat my taal praat by ‘n bushalte.

In SA moes ek soms liewer ‘n paar nuwe skoolsokkies koop in plaas van ‘n SARIE, maar daar was altyd die salige wete dat daar volgende maand weer ‘n vars een sal wees. Toe ons hier kom, was dit opwindend om die eksotiese tydskrifte met vreemde gesigte in vreemde tale teen ‘n vreemde prys op die rakke te ontdek. Eers blaai jy entosiasties daar deur, want dis internasionaal. Jy knyp oë toe en koop een teen ‘n prys wat ‘n jaar se sokkies kon koop. Net om aan te hou blaai en blaai, en die een pragfoto op die ander te bewonder, sonder dat die lus om ‘n volle artikel te lees jou oorval, soos die reklame-tydskrifte in dokters se spreekkamers.

Later loop jy liewer verby die krakende rakke en wens jy kan net weer ‘n voorblad met ‘n bekende gesig iewers gewaar, al is dit nou ook die tragiese weeklikse tydskrif waaraan ek nooit my sensitiewe siel blootgestel het nie.

En dan as iemand kom kuier en die vraag opkom van wat hulle vir jou kan saambring, hoef jy nie twee keer na te dink nie. Jy reageer op instink: “‘n Tydskrif, asb.” Met ontvangs van dié weelde, sê jy saggies “dankie” en glip dit ongesiens (vir jou huisgesin) in jou onderklere-kas. Dan word dit gesuiwer vir selfbederfoomblikke van suinig lees. Dit word nie binne ‘n dag of ‘n week gelees nie, maar ingelê vir ‘n etensuur, ‘n busrit, ‘n middag op die rusbank wanneer die familie almal uithuisig is, ‘n halfuur voordat die slaap jou oorval. Net een artikel op ‘n slag.

Dis nou hier wat ek besef het dat ek nie meer die SARIE op openbare plekke kan lees nie, want sonder waarskuwing laat iets onbenulligs – waaroor 90% mense nie sal huil nie – my beteuterd en betraand net omdat dit so oorspronklik en mooi uit die perd se bek is.

Hoekom sou mens wou tjank as iemand sê die berge in SA is blou? Kom ek vertel jou hoekom. Hier in Hong Kong is die berge vir ‘n begin groen, en ek sê nie dis lelik nie. Natal se berge is ook pragtig en groen. Wat ek eintlik probeer sê, is dat wanneer mens kyk na die reklame-foto’s van Hong Kong, is die lug, see en berge alles gedokter met ‘n goeie dosis ekstra pigment uit photoshop. Almal weet dit is onwerklik, maar niemand sê iets nie. Dit word kommentaarloos aanvaar dat die werklikheid ‘n tikkie hulp nodig het. 

Ek lees ‘n artikel van ‘n SA meisie wat in Engeland ‘n Pierneef-skildery onder ‘n stoflaag ontdek het. Sy vertel in die artikel dat die Engelse hul monde vol gehad het oor die “blou berge” (sarkasties bedoel), wat Pierneef geverf het, en dat sy vir hulle moes sê “die berge in Suid-Afrika ís régtig so blou”. Dis met die besef dat Pierneef die berge presies geverf het soos wat hy dit gesien het, en dit nie vir hom nodig was om die werklikheid met ‘n onrealistiese blou pigment aan te help nie, dat my gemoed volgeskiet het.

Só, as jy naby een van daardie blou-blou berge in SA woon, gaan uit en drink hulle in met jou oë totdat jou tone behoorlik krul, want hulle is régtig. 

Celia Claase, Hong Kong

  • Jip celia, nes jy da se net die gedagte aan jou beskrywing laat my oe water ,ons het n pragtige land ons hier sien nou nie sofeel van berge nie maar vir ons is dit, die rooi sand duine grass en sonsonder wat mens tot stilte dwing en laat wonder ?is daar dalk iets meer as wat ek het. wat mis ek .ydlose wondere speel voor jou af.
    jou briewe is gr8
    groetnis
    werner

  • Karin Duvenhage

    Dankie vir die brief, Celia.
    Die 1200 km trek was helaas nie maklik nie, maar ek het intussen ook juweel-vriendinne hier ontmoet. Jou opofferings was baie groot, avontuurlustig ! Ek hoop ons kan nog lekker saamkuier.
    Karin

  • Melinda van Zyl

    Uitstekend Celia, jy het my opnuut weer die voorreg om in die Kaap te bly, laat besef en WAARDEER! Mis jou vreeslik my vriendin, maar die feit dat jy jou "comfort zone" verlaat het en uitgewaag het, is nou nie net vir jou naaste vriende en familie beskore nie, maar kan mense aanraak letterlik tot aan die uithoeke van die wêreld! Dankie dat jy ons seën en inspireer met jou briewe! Baie liefde, Melinda