img_9304
Eie stories

SARIE ski met Kurt, Elvis Blue, Bobby Skinstad: Dag 1

St Johann is een van daardie sjokoladeboks-ski-dorpies met feetjie-liggies in die bome, die sneeu lê soos dik lae vanielje-versiersuiker op Hansie-en-Grietjie-houthuise, stalagtiete drup van die dakke in die fynste patrone wat lyk soos kristalle, en jy verbeel jou Bambi gaan enige oomblik by een van die bome waarvan die takke onder sneeu buig, uitloer . . .

Dit is propvol toeriste en die hange wemel van kleurvolle skiërs – baie van hulle van Suid-Afrika.

Die eerste aand, met ons verwelkomingskonsert tydens die SARIE/Snocomber celeb-skitoer, het Elvis Blue, groen mus op die kop, afgeskop met ”Closer”. ”Ek is regtig bly ek sing eerste en ek sing nie ná Bobby nie. Hy wil sy Europese debuut maak . . .”, het hy gespot.

Elvis Blue aan die sing in St. Johann in die Oostenrykse Tirool

Dunay en Kurt was baie ontspanne. Sy het met haar kop teen sy skouer geleun. Hy het later (tydens sy eerste ski-les die volgende dag) laat val dat dit die eerste keer is dat hy sneeu gesien het, en dit laat hom ongelooflik skoon en veilig voel.

Dunay en Kurt luister na Elvis Blue

Elvis Blue het die skares ook in vervoering gehad met ”Dangerous”. Veral toe hy vertel dat hy agtergekom het ”gevaarlik” is nie altyd ‘n slegte ding nie. ”My vrou is baie gevaarlik! ” As die liewe Chireze, sy vrou (regs op die foto hieronder), gevaarlik is, is ek ‘n Olimpiese skiër. Sy is so plat op die aarde as kan kom. Maar ek stry nie met Elvis Blue nie, ek bedoel, watter man ken nou nie sy vrou nie?

Dunay Darren, Elvis Blue en sy vrou, Chireze

Bobby het my knieë laat voel soos as mens té lank op ‘n dag ski! Hy is noudat hy ‘n ouer is, nóg ouliker as in sy jong dae En hy het ‘n sin vir humor wat Seinfeld sal laat bloos. ”Ek het absoluut geen idee hoekom ek hier is nie. My lieflike vrou wat saam met my hier is en ek is bietjie paranoiës, want elke keer as ek bietjie ‘tipsy’ is, dan begin ek sing. Noudat Naas Botha op nr 99 nie kon kom nie, is ek ook bereid om ‘n Blou Bul-trui te dra as ons gaan ‘ski-bob’.”

Bobby Skinstad aan die woord

En toe was dit tyd vir die Kaptein. Soos altyd het ”Loslappie” die ding gedoen. Kurt het na die mense by die tafels gestap en plek-plek het hulle kans gekry om te ”Loslappie”. Hy het sy gewilde heupswaaie gedoen en ge-Kaptein, en naderhand was die dansbaan ook aan die kook. Die hande get geswaai en Oostenryk het nie geweet wat hom tref nie. (Kaptein natuurlik!) Die mense wou darem die aartappels en bier, schnitzels en daai lekker sjokoladekoek met ‘n mega-ryk blerts room ook verbrand.  

Kurt en 'n aanhanger

Die eintlike Kurt & Elvis über-konsert is Maandagaand – aandete is tipies Oostenryks (varkvleis, uie, aartappels, kruie en ‘n gebakte eier bo-op, praat van proteïene!) met koolslaai. (Dis nogal ‘n Hilda van 7de Laan-‘konkosie”)

En daarvoor moet mens bietjie opwaarts steier. Berg-uit na die Schöne Aussicht (Mooi uitsig)-hotel. En ná ete gly die avontuurlikes op hul agterstewes op ‘n sogenaamde “bumboard” (boud-plank) af teen ‘n ski-helling – lekker (vreesaanjaend?) vinnig. Hier is nie ‘n gebrek aan dinge vir adrenalien-smagtendes nie!

'Let the games begin!'

VIDEO: KURT EN DUNAY SE EERSTE SKI-LES

  • Hannes Struyweg

    Ek kan sien my vrou geniet haar self (Kurt se video en Bobby se galery foto) . Gelukkig is dit hier in Pretoria heelwat warmer