Eie stories

SARIE Voorbladgesig 2012, Tana, en haar aktrise-suster

Sy is vir my die mooiste mens op aarde! Mia het groot, ronde oë, lieflike tande, die mooiste vel, sy is lank en lyk soos ’n model.

Ek bewonder haar met my hele hart, want sy laat my glo niks kan ons skei van die liefde van die Here nie. Mia herinner my dat die lewe altyd sal uitwerk soos dit moet. Sy maak van my ’n beter mens en is beslis een van die beste dinge in my lewe.

Ek is so trots op haar. Sy is ’n onderwyseres aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria waar sy onderrig gee in drama en kuns en kultuur. Sy het al in die verlede die rol van Ansu Louw, die flerrie (glad nie soos sy nie!), vertolk in die kykNET-sepie Villa Rosa. Vanaf 17 Desember tot 8 Januarie was sy ook te sien as Janie Wehmeyer in die SABC2-sepie 7de Laan. Mia is eintlik al sedert kindertyd een vir die kollig. Sy het liedjies gesing en toneel gespeel voor die gesin. Sy kan huil wanneer sy moet vir ’n scene. En dit lyk eg.

Sy is ongelooflik talentvol. Toe ek die SARIE Voorbladgesig-wedstryd in 2012 wen, was dit eintlik ironies. Dis byna asof ek nou in my grootsus se voetspore volg. In die kollig!

As kinders het ek, Mia en ons boetie, Henno (hy is op 26 Februarie 2001 oorlede), altyd heerlik saamgespeel. Ons bende was Henmita (saamgestel uit die eerste lettergrepe van ons name). Veral Sondagmiddae, as ons ouers, Marieta en Fanus, geslaap het, sou ons rondseil in ons slaapsakke en fluister-fluister briefies vir mekaar aflewer.

My ouers is kort ná Henno se dood geskei. Hy was maar sestien en ’n taxi het oor ’n rooi verkeerslig in hom vasgejaag, reg voor die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, waar hy die oggend afgelaai is. Dit was so skielik. ’n Baie moeilike tyd vir ons gesin. Dit was een van die groot redes vir die verbrokkeling van my ouers se huwelik.

Almal het ons daarna soos afvlerkies behandel, so asof iets verkeerd was. Mia en ek het dit elkeen op ons eie manier verwerk. Mia is meer van ’n alleenmens wat na binne keer. Dit het ons almal lank geneem om emosioneel gesond te word. Maar toe ons ouer word, kon ons saam daaroor praat, lag en huil en al die herinneringe verwerk. Haar insig en kalme wysheid het my ook gehelp met 
dié verliese.

Ons twee se verhouding het regtig begin groei toe ons albei uit die skool is. Ons probeer mekaar nou minstens een keer per week ontmoet vir middagete of koffie. En ons hou daarvan om saam klere-inkopies te doen. Mia bewonder my smaak en styl en leen ook af en toe iets uit my kas.

Sy is onlangs getroud met Jeremy, ’n dokter. Sy is baie wys oor die liefde. Ek het onlangs deur ’n moeilike verhouding gegaan. Sy sou vir my roomys bring as ek hartseer was en het my gereeld uitgeneem vir ete sodat ek ’n bietjie kon uitkom en mooi aantrek. Sy het gesê ek moet bid daaroor. En as ek nie die antwoorde kry wat ek wil hê nie, moet ek aanvaar wat gebeur. Dís Mia: ’n omgee-mens. Vir familie en vriende. Net altyd daar vir jou.

Ons hou nie daarvan om lang rukke weg van mekaar te wees nie. Toe ek in 2006 drie maande lank ’n uitruilstudent in Duitsland was, was Mia so opgewonde soos ’n kind toe ek terugkom en sy my op die lughawe kom haal het.”

Die grootste les wat ek by Mia geleer het: “Moenie in ’n gemaksone verval nie, anders gaan jy jou volle self nooit verken en besef wat jy uit die lewe wil hê nie.”

* Meer in die Februarie-uitgawe: Bobby van Jaarsveld oor sy suster, Karlien. En Elvis Blue oor sy suster, Kona.